Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die versorgde herder

Miljoene Suid-Afrikaners beleef tans ’n situasie van ontworteling, onveilig- en tuisteloosheid. ’n Soort ballingskap. Ander beleef weer die teendeel. Hulle het tuis gekom sedert 1994.

Die ballinge in Babel het ook erg ontwortel en tuisteloos gevoel. Hulle verlies aan ’n vaderland (beloofde land) en persoonlike besit was groot.

Die kerk van die Here in hierdie wêreld het geen blywende stad nie en bevind haarself altyd in ’n situasie van ballingskap. Ons troos is egter dat God altyd met sy kerk onderweg is na die nuwe Jerusalem. Na verlossing en be­vryding.

Die profeet Jesaja kon seker nie die ballinge met ’n mooier en bekender beeld as dié van die herder getroos het nie: Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie (Jes 40:11).

Hierdie goeie Herder dra ons teen sy bors na die nuwe Jerusalem en versorg ons in ons ballingskap. Daarop kan ons reken.