Charlotte ‘moes baie grense oorsteek tot hier’

“Ek dink nie dit het al inge­sink nie,” sê Charlotte Sibanyoni wat in November die eerste swart vroulike dominee in die NG Kerk word.

Die 26-jarige Charlotte word op 22 November om 19:00 in die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria bevestig.

“Ons is regtig opgewonde oor Charlotte se bevestiging,” vertel ds Ronél Meylahn, ’n leraar by Universiteitsoord. Die gemeente het vir Charlotte ’n gedeeltelike pos as studenteleraar van die Groenkloofkampus aangebied omdat dit haar “hart is om met studente te werk”. Sy gaan dié groep studente, wat geïsoleer is omdat hulle ver van kerke af in koshuise woon, in Engels bedien.

“Sy moes baie gren­se oorsteek om tot hier te kom en sy het dit op ’n baie stylvolle manier ge­doen. Sy is ook kreatief en het so­veel innoverende idees,” aldus Ronél.

Charlotte het die boek Rut as teks vir haar intreepreek gekies, verdui­delik sy toe sy kort voor haar be­vestiging telefonies met Kerkbode gesels het. “Ek is mal oor die storie van ’n klein familie wat deur ’n moeilike tyd gegaan het soos ons ook vandag gaan. Die vroue verloor alles maar ’n mens sien hoe God in hulle lewe werk. ’n Gewone vrou soos Rut vorm ook uiteindelik deel van Jesus se geslagsregister!”

Charlotte haal die woorde van ds Jana de Lange, eersdaags haar kollega, uit ’n onlangse preek aan om haar ongewone reis te beskryf: “Gewone mense soos ek en jy is helde in hulle eie lewe. God maak die onverwagte persoon in ons oë juis die verwagte persoon om die wêreld te verander.” Dan voeg Charlotte by: “God gaan nou vir my, wat selfs deur die kinderhuissisteem was, ook gebruik om ’n verskil te maak.”

Hoewel die studente nie tans op kampus is as gevolg van inperkingsmaatreëls nie, het Universiteitsoord steeds besluit om in 2020 hulle nuwe leraar te bevestig. Die rede hiervoor, vertel Ronél, is omdat Charlotte graag wil hê haar ouma Sophie Mahlangu, wat in haar laat 80’s is, moet die groot oomblik beleef.

“Dit gaan my so gelukkig maak om die mense wat na aan my hart is en ’n groot rol in my lewe gespeel het soos my ouma, daar te hê,” sê Charlotte.

Dr Gustav Claassen het benadruk dat dit ’n geskiedkundige oomblik ook vir die breër NG Kerk is. “Charlotte gaan by die Green leaf-bediening op die Groenkloofkampus betrokke wees,” het Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, vertel. “Ek dink (haar beroep) bring die verwagting van ’n boom wat bot, ’n nuwe seisoen nie net vir Universiteitsoord nie maar vir die kerk. Met haar besondere vaardighede en persoonlikheid maak sy haar gemeente en die NG Kerk skatryk.”

Dosent in Hebreeus

Kerkbode het twee jaar gelede ná Sibanyoni se geskiedkundige legitimasie oor haar reis tot in die NG Kerk berig. Sy het saam met haar ma in ’n buitekamer in die Moot gebly, later het haar ma Mamelodi toe getrek en het sy eers by vriende, toe in ’n plek van veiligheid en toe in die Louis Botha-kinderhuis gebly voordat sy in graad 11 die NG gemeente Concordia se dienste begin bywoon het. Hier het sy ds Johan van Niekerk en sy vrou Rina ontmoet by wie sy gewoon het voor sy teologie begin swot het.

Sedert 2018 is Charlotte deeltydse dosent in Hebreeus aan die Universiteit van Pretoria, maar is intussen permanent aangestel.

Sy vertel haar reis tot dusver was nie net moeilik nie. “Die mense van die NG Universiteitsoord het dit so maklik gemaak. Dit is asof ons mekaar járre ken. Dit het my journey net nog meer spesiaal gemaak,” vertel Charlotte.

  • Volgens Marius Garbers, ’n lidmaat wat Universiteitsoord se kommunikasie behartig, word Charlotte se pos deur die Ring van Pretoria-Oos gefinansier.

2 thoughts on “Charlotte ‘moes baie grense oorsteek tot hier’

  1. Erna Gouws says:

    Baie welkom, ds Charlotte! Mag ons Vader jou salf, en mag jy en jou bediening oorvloedig vrug dra!
    Erna Gouws – ‘n ander 80+ jarige.

  2. Martin Botha says:

    baie geluk Charlotte baie seen en God is in beheer

Comments are closed.