Annus mirabilis?

Hierdie kan nou maklik na een van daai “julle is almal wenners”-uitlatings klink, maar hoe anders verwoord ’n mens die feit dat dit eenvoudig moeilik is om een inskrywing bo die ander te kies vir iets so subjektief soos ’n skryfkompetisie? Terwyl ons oortuig is van die gehalte van die skryfwerk in die drie wenbrie­we, huiwer ons om te maak asof daar nie vele ander inskrywings was wat heer­like leesstof bied nie. Juis daaroor sal ons nog meer van die inskrywings oor die stiller vakansiemaand publiseer en so met lesers deel. Maar hierdie week staan ons stil by die weninskrywings en publiseer dit graag ten volle.

Volhoubaarheid van Kerkbode

As jy hierdie woorde in papierformaat lees, is ons veral aan jou innige dank verskuldig. Die finansiële ondersteuning wat ons via intekenaarsfooie ontvang, is steeds die “hoofborg” van gehaltejoernalistiek. Ons werk hard om ons digitale inkomste te versterk sodat ons ook geldelike groei in dieselfde ruimte sien waar ons beduidende groei in leserstal geniet. Maar dit vat tyd en jou volgehoue ondersteuning dra ons daardeur.

Een van ons skryfkompetisie se drie afdelings het gevra dat deelnemers dink oor 2020 as sogenaamde annus horribilis. Ek leen uit Lynette Strydom se inskrywing, waar sy die ding omkeer en skryf: “Sal ons regtig wil teruggaan na ons óú lewe?

“’n Jaar wat in ons geskiedenisboeke aangeteken gaan word. Nogtans kan ons dankie sê vir die lewenslesse wat ons in hierdie tyd kan leer. Grendeltyd leer ons om stil te staan – mekaar opnuut te leer ken en te besef waar ons rykdom lê. Ons ís skatryk!

“Sal ons hierdie jaar merk in ons lewe as annus horribilis of annus mirabilis?