SKRYFKOMPETISIE: En die wenners is …

’n Staaltjie oor ’n misdaad, ’n uitdagende blik op inklusiwiteit en ’n lysie vir besluitneming

Die Kerkbode-span wou 2020 met ’n lekker leeservaring afsluit en het lesers genooi om saam met ons te werk. Die konsep? ’n ­Kerkbode-skryfkompetisie. Ons versoek was ’n oorsig van 2020 as annus horribilis (verskriklike jaar), of om te vertel hoe die Bybel ’n mens met besluitneming in die alledaagse lewe kan help. Of jy kon beskryf hoe ’n inklusiewe kerk kan/moet lyk. Tussen daardie lyne kon skry­wers inkleur. Die woordperk was ’n bietjie langer as ’n brief maar kor­ter as ’n feature. Dit was die lengte van ’n opiniestuk op die middelblaaie van Kerkbode.

Die gewildste kategorie was die oorsig van 2020. Sommige deelnemers het glad vir meer as een van hierdie drie kategorieë ingeskryf. Daar was baie sterk inskrywings – nuwe stemme met helder gedagtes asook bekende name met oorspronklike sienings. Ons het reeds van die inskrywings in Kerkbode gepubliseer en kondig hiermee die drie kategoriewenners aan.

Ons joernalistieke voorkeur is vir toeganklike teks wat meer lig as hitte bring. MARIUS SCHOOMBIE vertel ’n storie wat ’n mens wil oorvertel. ’n Byna mistieke ontleding van ’n rooftog waar die skrywer daarin slaag om oor te weef tussen anekdote en insig.

FREEK SWANEPOEL praat oor insluiting uit ’n historiese perspektief van uitsluiting. En MARETHA MAARTENS pen ’n nugtere soort “listicle” (hoewel sy dit nie self so noem nie!) wat die lys as geraamte gebruik om vleis aan te pak.
Baie geluk aan die wenners en baie dankie aan elke deelnemer wat vir hierdie uitdaging kans gesien het.

Kerkbode-span


2020: Insigte uit ’n annus horribilis – Marius Schoombie
Onthou dat jy self ’n slaaf was in Egipte

Ontmoet vir Lucky. Lucky is ’n jong pa wat sy werk as kelner by ’n hotel se restaurant as ge­volg van Covid-19 verloor het. Lucky het ’n geweer in sy hand.

Ek het vir Lucky ontmoet die Vrydag na die verslapping van die inperkingregulasies na Vlak 3 aangekondig is. Ek en ’n kollega het besluit om die bietjie meer vryheid wat ons gegun is, te vier deur ’n trial run-roete aan die oewer van die Umgenirivier te gaan draf. Draf is vir my in die eerste plek ’n spirituele oefening – dit is vir my ’n kosbare tyd van refleksie – en na die vorige twee maande se krisis het ek baie gehad om oor na te dink.

Terwyl ek myself met opgewondenheid voorberei om vir die eerste keer weer buite my tuin te gaan draf, is daar een gedagte wat by my bly vassteek: Onthou dat julle slawe was in Egipte. Dit is ’n opdrag wat God herhaaldelik vir Israel in Deuteronomium gee waar die Israeliete op die punt staan om uit die woestyn in die beloofde land in te gaan. Onthou Egipte. Onthou die woes­tyn. Ek het geweet hierdie jaar sou een wees wat ons vir altyd (moet!) onthou, maar ek het nog nie ten volle besef hoekom dit só belangrik is dat ons 2020 nooit moet vergeet nie. Om tot daardie besef te kom, sou ek eers moes gaan draf.

Byna halfpad deur ons roete ontmoet ons vir Lucky waar hy van agter op ons afgehardloop kom. Hy vra ons vir ons selfone (net my kollega het syne saamgedra), ons horlosies, my sonbril en enige iets anders wat hy kon sien. As jy in die loop van ’n geweer staar, het jy nie baie motive­ring no­dig om gehoor te gee aan sulke versoeke nie.

Nadat hy ons byna kaal uitgetrek het om seker te maak ons het niks meer geld of enige ander waardevolle items aan ons nie, moes ons hom mooi vra om nie ons tekkies te vat nie, sodat ons ten minste uit die vallei kan kom. Hy stem toe in en beveel ons om pad te gee. Teen my beterwete, staan ek stil en waag dit om vir hom te vra: “Kan ek vir jou bid?” Lucky lyk onkant gevang. En hy stem in. Ek vra toe sy naam en ek en my kollega bid vir die man wat besig is om ons te beroof.

Na die gebed begin Lucky met ons gesels en ek beleef een van die vreemdste halfure van my lewe, waar ons luister hoe die man wat ons nou net beroof het, sy lewensverhaal vir ons vertel. Hy vertel ons hoe hy sy werk verloor het, hoe sy gesin nou glad nie meer ’n in­komste ver­dien nie, hoe hy desperaat en hulpe­loos is omdat hy nie weer werk kry nie, hoe hy gebid het voor hy sy geweer vir die eerste keer gebruik het om iemand te beroof, hoe hy ons smeek om hom te help om vir homself en sy gesin ’n beter lewe te probeer skep.

Tydens die gesprek gee Lucky vir ons al ons besittings terug, behalwe die sel­foon, wat hy nie kon laat gaan nie – anders het sy gesin nie kos nie. Op die ou einde bid Lucky vir ons ook, nadat hy eers sy geweer neersit en vir ons vra om ons oë toe te maak en self sy oë toemaak.

Die emosies wat gewoonlik gepaard gaan met ’n gewapen­de roof is emosies soos vrees, woede en haat, maar ek het geen woede of vrees ervaar nie, ek het jammer, hartseer en hulpeloos gevoel. Ek het besef dat, hoewel ’n groot gedeelte van die land nou vryheid beleef in die verslapping van die inperking, ’n ander groot gedeelte van die land nog gevange gehou word deur hulle omstandighede. Jy moet onthou jy was self ’n slaaf in Egipte. Juis sodat jy met die bewustheid leef dat nie almal jou vryheid beleef nie. Juis sodat jy sensitief is teenoor die vreemdeling, die randfigu­re, onder­druk­tes, die Lucky’s, wat nie altyd so lucky is soos jy nie.

Ons het herhaaldelik aangebied om vir Lucky te help, as hy dit in sy hart kon vind om sy vertroue in ons te plaas. Maar hoe kon hy? Ek het geweet dat ek nooit weer vir Lucky sou sien nie. Maar ek hoop dat ek die ervaring van die inper­king, waar ons vasgevang was in ons eie huis en my ontmoeting met Lucky, nooit sal vergeet nie. Ek hoop dat ek altyd sal onthou dat ek ook ’n slaaf was in Egipte, sodat ek nooit die Lucky’s rond­om my – en vir Christus – sal vergeet nie.


Hoe lyk ’n inklusiewe kerk? – Freek Swanepoel
Die Here se kerk is na wese inklusief

Die jaar 2020 bring toe groot uitdagings vir die NG Kerk. Die grendeltyd hou die lidmate buite die eredienste en werksaamhede van die gemeente. Hulle word toe eks­klusief. Gelukkig gryp gemeentes die geleentheid aan om hulle dienste meer inklusief te maak. Op Sondae word op elektroniese platforms eredienste gehou. Dit laat lidmate voel dat hulle gemeente hulle op ’n nuwe wyse insluit om die evangelie van Jesus Christus te hoor. Die kerk is by hulle en hulle word betrek in die onnatuurlike tyd. Die boodskap is toe oop vir enige een wat wil kyk en luister.

Getrou aan die lidmate ontstaan daar vinnig ook ander aksies wat lidmate inklusief betrek. Die wêreldwye pandemie bring vinnig die ongelykheid van ons land se mense na vore. In vele huise het die werk opgehou en is daar groot behoefte aan kos en ander lewensmiddele. Gemeentes spring in en maak sop en versprei kospakkies. Op dié wyse word die nood van die wêreld ingetrek in die hart van die gemeente. Daar word beraam dat meer as 70% van die NG Kerk se gemeentes met ywer aan hierdie inklusiewe aksies deelgeneem het en daarmee volhou. Met dié aksie is daar nie gevra na taal, geslag, ras of geloof nie. Voorheen is daar meer op ons eie mense en gelowiges gekonsentreer; nou was dit oop vir enige een in nood. Dit is mos inklusief.

As ons terugskou na ons verlede was dit juis een van ons swakhede dat ons nie genoeg inklusief in die wêreld opgetree het nie. Ongelukkig het ons ook mense uitgeskakel by die verkondiging van God se Woord. Ons hulpdienste was ook meer gerig op ons eie soort; ons eie mense; en ons eie verstaan van God en geloof. Die kring van ‘my naaste’ is baie nou en baie gerieflik naby ons getrek. Daarom sal elke kerkraad wat in hierdie dae besin en beplan oor ‘kerkwees vandag’ baie fyn na die Gees moet luister oor inklusiwiteit. Enige een wat onderskeidend dink sal besef dat die ou patroon van gemeente-wees verby is en dat die uitdaging is om alle mense – nie net dié met sertifikate nie – in gedagte te hou en te bedien. Lidmate wat in hier­die dae bewus geword het dat die Here wel nog sy almag en redding aan die hele mensdom bewys het, sal verstaan dat dit nooit meer in die kerk net om hulle kan gaan nie, maar dat dit om almal gaan.

Daar kan seker geredeneer word dat ’n gemeente darem primêr sy eie lidmate moet bedien. Daar is nou geleentheid om die skopus van ons bediening nog meer te verruim. Gelukkig het die minder klem op persoonlike huisbesoek meegebring dat leraars meer beskikbaar is vir alle mense en hulle geestelike behoeftes. Daar het ook in die laaste drie dekades groter inklusiwiteit in ons gemeentes gekom toe die vroue in die ampte toegelaat is. Die groter insluiting van die gelowige vroue word egter steeds gekortwiek deur ongelykheid. So, die kerk worstel om werklik as gemeente van die Here inklusief te wees. Dink maar hoeveel tyd dit geneem het om die kinders volgens hulle bevatlikheid deel te gee aan die Nagmaal.

Jesus Christus het in sy omwandelinge op aarde aan ons so ’n pragtige voorbeeld gestel. By die eerste oogopslag kan dit lyk of hy net na die skape van Israel gekom het of net na die getroues. In die praktyk was Hy anders. Hy was van nature inklusief. Daarom praat hy met die Samaritaanse vrou by die put, en sluit hy die knaende Siro-Fenesiese vrou nie uit nie. Almal is by Hom welkom en mag deel in sy gawes. Persone wat ander nie raaksien nie roep Hy nader, soos die kinders en vroue en tollenaars en selfs Nikodemus. Tereg sê Jesus dat Hy as Goeie Herder ook ‘ander’ skape het en dat Hy hulle ook moet lei. By die uitstorting van die Heilige Gees word by die 15 verskillende tale genoem. Almal mag hoor!

Die term “inklusief” het ook betrekking op die besluite wat die kerk neem. Voorheen kon die NG Kerk gerieflik besluite neem sonder om alle lidmate in ag te neem. Die nuwe maatstaf vir ons tyd is om te vra of ons besluite mense wat in Jesus Christus glo, onbillik uitsluit. Juis om inklusief op te tree het gemeentes in die laaste jare geleentheid gekry om ook hulle stem pertinent te laat hoor. Oor die Belhar-belydenis kon gemeentes en sinodes hulle eie besluit neem. Ongelukkig het die “demokra­tiese” proses tot gevolg gehad dat die kerk eksklusief opgetree het teenoor gelowiges van ons “eie” kerke wat hulle hart vir ons oopgemaak het. Belhar stel ’n uitdaging om inklusief te wees.

Die kerk is net inklusief as sy God se koninkryk laat kom.

LEES OOK: Annus Mirabilis?


Só lei die Bybel my besluitneming in my alledaagse lewe – Maretha Maartens
My Bybel as besluitnemingshandleiding

Êrens op die Hoëveld trek ons van die pad af om ’n toebroodjie te eet. Ons kyk op en sien ’n san­goma se advertensiebord bo ons teen die boomstam: SANGOMA. ALL PRO­BLEMS ARE WELCOME. SEL­NOM­MER …

Ons het nie gefrons of gelag nie. Ons hoef immers nie verder as onsself te soek om hoe-, wat-, wanneer-, watter-, waarheen-, moet ek- en wat is reg voor God-vrae te vind nie.

Besluiteloosheid in enige lewensdimensie is ’n riskante besluit. Daarby hoef geen gelowige ritse verkeerde besluite in sy/haar daaglikse lewe te neem nie. Een van die mees onderbe­klemtoonde waarhede van die geloofs­lewe is duisende jare gelede reeds deur Dawid verwoord: “U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my” (Ps 18:29).

In ’n besluitnemingstyd duik twee vrae op:

  1. Is daar hoop dat ek persoonlik in die lig van die Woord besluite sal kan neem wat volgens die wil van God en tot heil van my medemens en my verhouding met God sal wees?
  2. Verleen God graag hulp met my besluite in enige dimensie van my lewe?
    Sonder duidelikheid hieroor kan min mense – indien enige – die Bybel as onfeilbare handleiding vir besluitneming in die daaglikse lewe vertrou.

Skrif toe vir die antwoord: Daar is stralende hoop, nie kersvlam-in-die-wind hoop nie.

Paulus skryf: “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvas­tigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees” (Rom 15:4). Hy skryf ook: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, vol­kome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim 3:16).

By die skrywer van die brief aan die Hebreërs bestaan daar geen twyfel oor die woord van God as dissekteerskalpel in besluitneming nie: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë” (Heb 4:12-13). God weet volgens die Skrif wat ek in tye van besluitneming nie weet nie.

Petrus, wat so dikwels oorhaastige, impulsiewe dinge aangevang het, weet uiteindelik: “… die boodskap van die profete … is soos ’n lamp wat in ’n don­ker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte” (2 Pet 1:19).

Maar die finale woord is dié van Christus: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie?” (Mark 12:24). En: “Wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en jul­le herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh 14:26).

Op grond van die Skrif kan ons opgewonde verder as die plakkaat teen die boomstam kyk en weet: Ons God gaan ons deur sy Woord help met ons besluite.

VIR SKRIFGEFUNDEERDE BESLUI­TE KIES EK OM –

  1. my vaste sekerheid in die lewende, betrokke God net soos Dawid as vertrekpunt te neem en dit hardop uit te spreek: “My hulp (wanneer ek enige besluit moet neem) kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het” (Ps 121:2);
  2. die Ons Vader gebed te bid, met die hoofklem op dié bedes: “Laat u Naam geheilig word, u koninkryk kom en u wil geskied”;
  3. vir God te sê: “Doen u wil ten opsigte van my werksaansoek, keuring vir ’n kursus, ’n aanbod vir huiskoop ens”;
  4. te wag sonder om ’n verdere steen te verroer en sy besluit as perfek te aanvaar;
  5. my dag met dié Skrifwaarheid te begin: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God” (Rom 8:14);
  6. te bid: “Heilige Gees, lei my vandag”;
  7. te glo Hy doen dit, soos wat Jesus beloof het;
  8. so onrustig oor ’n geestelike ongemak in my gees te wees as wat ek gedurende die Covid-19-pandemie oor ’n loop­neus, keelseer en asemnood is. Wanneer so ’n geestelike ongemak toeslaan, moet ek die pas markeer en die Bybel raadpleeg. ’n Gratis hulpmiddel vir Skrif­studie is E-sword [www.e-sword.net];
  9. om ná verkeerde besluite terug te keer na my plek aan die Wingerdstok (Joh 15:5);
  10. om die dag af te sluit met ’n loflied soos dié: “Ek het U heeldag by my gehad. Omdat U by my is, sal ek nie struikel nie” (na aaanleiding van Ps 16:8).