Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die roepende God

God se weë is nie ons weë nie. En sy ge­dagtes is nie ons gedagtes nie. Ons kies die “cream of the crop”. Die supersterre. Maar nie Hy nie. Hy kies dié wat nooit plek in ons span sal kry nie: armes, vissermanne, ongeleerdes, ongeletterdes, on­aan­sienlike mense. Daarom dat Hy Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes by die See van Galilea as sy dissipels roep: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Mark 1:17). Onbegryplik. Maar so is God. So werk sy keuses.

LEES OOK: Die versorgde herder

Hy het hulle nie geroep omdat hulle gekwalifiseerd was of geskik vir die taak nie. Inteendeel. Hy moes sy ruwe dissipels in “vissers van mense” omskep. Mense wat omgee. Mense wat sy visie en plan vir ’n verlore wêreld deel. Mense wat God se visnette na verlorenes met sy liefde, begrip, deernis en ontferming uitgooi. Dag na dag moes Hy aan hulle skaaf en hulle vernuwe, want ons bekwaamheid lê nooit in onsself nie, maar in Hom wat ons roep.

Hy roep ook jou: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

fineartamerica.com/profiles/kobus-smit
Foto: Paternoster se vissers