Nuut: Gratis werkboek vir kleingroepe, gemeentes en leraars

“Covid-19: ’n ingrypende en stormagtige tyd! Ingrypende tye vra vir ingrypende leierskap. Wat is die aanpassings wat ons as geloofsgemeenskap moes oorweeg en uiteindelik geïmplementeer het?”

Só lui een van die groepsgespreksvrae sommer vroeg-vroeg in ’n nuwe werkboek wat pas elektronies verskyn het en gratis by Christelike Lektuurfonds (CLF) se webwerf afgelaai kan word.

Wat hierdie hulpbron besonders maak, is die feit dat al vier die grootste gereformeerde kerke in Suid-Afrika hieraan meegewerk het, volgens prof Hoffie Hofmeyr, die hoofredakteur van die publikasie wat 33 bladsye beloop en videoskakels en ander interaktiewe elemente bevat.

 Rondom ses aktuele temas wat oor ses weke behandel kan word, bied die werkboek riglyne vir groepsgespreksgeleenthede, preeksketse asook ’n leiersgids vir gebruik in gemeentes. Die ses temas is:

  • Die kerke, verlede en hede
  • Die moontlike, waarskynlike en verkieslike toekoms
  • Kerkkrimping en missionale kerkwees
  • Eenheid en versoening
  • Die kerk op die platteland, te midde ook van Covid-19
  • Covid-19 en die toekoms.

 “Ons hoop dat hierdie werkboek ’n waardevolle aanwins vir die kerk van Jesus Christus in suidelike Afrika oor die algemeen, maar ook vir baie verskillende gemeentes sal wees. Ons vertrou dat dit Christene op hierdie subkontinent sal help en toerus om ’n onseker toekoms as gevolg van Covid-19, maar ook baie ander faktore, tegemoet te tree,” skryf Hofmeyr in die voorwoord. 

  • Laai die hulpbron HIER af.
Word 'n vriend van Kerkbode