Deur ’n Godsbesef oorrompel

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die uitdaging aan die kerk om homself te verantwoord oor sy geloof in God kom dikwels as ’n geskenk. Dan kan ons weer helder en nederig bely wie ons is. Dat dit soms saamval met krisistye in ons menslike bestaan, gee verdere gravitas aan die uitdaging. Daar is ’n sterk oortuiging dat die Swart Dood Plaag wat groot dele van die wêreld getref het tussen die 13de en 17de eeu die oorsprong was van die humanisme en die Verligting. Tussen 75 en 200 miljoen mense is na berekening in Europa, Asië en Afrika dood. Mas­siewe omvangryke lyding bring altyd nuwe vrae en denke oor die bestaan van God en die geldigheid van geloofs­aansprake.

LEES OOK: Popia: Sperdatum wink vir kerkkantore

Die Protestantse beweging, en in die besonder die Gereformeerde tradisie ontstaan in ’n tyd van die opkoms van die geloof in die rede van die mens. René Descartes, die Fransgebore wis­kun­dige, wetenskaplike en filosoof, se uitspraak, “ek dink, daarom is ek”, het in die tyd van die Reformasie op ’n besondere wyse die tydsgees verwoord en ’n nuwe era ingelei in die denke oor die aard van kennis. Die klem op die rede wat die werklikheid kan ontsluit en ken soos dit is, het by baie begin voorrang geniet. Ander, die sogenaamde empiriste, het daarteenoor beweer dat ons net van ons sintuie afhanklik is om te weet en te ken. Die moderne filosofie is so ingelei deur die vraag oor die gesag van kennisaansprake.

Toenemend is aanvaar dat verskillende soorte kennisteorieë die verstaan van die werklikheid in en om ons toeganklik maak. Ons span ons rede en logika in, ons maak natuurwetenskaplike waarnemings met ons sintuie en, het ons ontdek, ons het aannames wat ons waarnemings en kennis voorafgaan en beïnvloed. Trouens, ons het selfs agtergekom dat dit onmoontlik is om onsself as kenners van die werklikheid los te maak of op ’n afstand te plaas van die werklikheid. Alle kennis bestaan met die veronderstelling dat daar ’n mens is wat ken en wat nie ’n skoon bladsy is wanneer sy/hy waarnemings of aansprake maak oor werklikhede buite hom- of haarself nie. Verskillende mo­delle van kennis of kenteorieë het mettertyd ontstaan. Die vraag hoe ons God kan ken, het uit die aard van die saak sterk na vore getree. Hoe word ons in staat gestel om gesagvol te praat oor God terwyl God nie op ’n suiwer rasionele manier geken word nie, maar ook nie op ’n sintuiglike manier en met natuurwetenskaplike metodiek ontleed kan word nie? Wat is die aard van geloofskennis?

Teïsme is die oortuiging dat daar ’n godddelike wese is. Hierdie Godsbesef word dikwels gevoed met redelike argumente oor die ontstaan van alles. Alles wat ons ken, so word gesê, kon immers nie ontstaan sonder dat daar ’n intelligente ontwerper was nie. Die kanse is groter dat die komplekse werklikhede van die skepping gekom het tot wat dit is deur die hand van ’n ontwerper as deur toeval. Daar moet ’n God wees. Ander gebruik ander rasionele argumente en afleidings om die bestaan van God te verduidelik.

Ons weet egter uit ondervinding dat hierdie argumente nie almal oortuig dat geloofsaansprake geldig is nie. Ons verstaan ook dat ons denke en spreke oor God altyd na analogie van ons baie beperkte klein begrip van die werklikheid is. Ons praat oor God in metafore en beelde, terwyl ons glo dat Hy altyd meer is as wat ons kan dink of sê.

Vir Christene is die denke en spreke oor God oneindig vergemaklik en ver­groot deur Jesus Christus. Hy is die beeld van God, so leer ons uit die Bybel. Hy laai die inhoud van ons Godsbesef. Hy is vir die gelowige die openbaring van God self. Maar om hierdie kennis van God deur Christus te hê, veronderstel geloof en die veronderstellings waarop geloof berus, is – so moet ons bely – nie altyd so verklaarbaar en verduidelikbaar nie. Dit bring nie altyd teo­retici oor kennis se agterdog tot rus nie.

LEES OOK: Versterk in ons wortels

Maar die werklikheid wat gelowiges ken, is dat ons gegryp is, dat ons deur ’n Godsbesef oorrompel is, dat ons op ’n geheimenisvolle manier oortuig geraak het. Dat die oortuiging en Godsbesef meer geword het as net teïsme, daar is ’n God iewers. Jy doen nie juis geloofskennis op in ’n debat oor teïsme nie. Ons kan eerder getuig van die werklikheid van ’n God wat ’n Vader is soos Jesus God beskryf in die gelykenis van die Verlore Seun. Ons kan getuig dat Hy naby aan ons is soos die Johannesevangelie verduidelik, dat Hy in ons is, en ons in Hom. Ons is meer as teïste. Ons kennis word dikwels versterk in die stilte, soms juis ook wanneer ons innerlike storms tot bedaring kom, maar meest­al wanneer ons vrae na die bete­ke­nis van die lewe, die sin van alles, beantwoord word deur die Godsgeheim van God se nabyheid.

In die geheimenis van God se liefde en trou vind ons die sin van die lewe. En dit wil en moet jy vind. Dit hang nie noodwendig altyd saam met die reëls van verstaanskennis nie, hoewel ook nie daarsonder nie. Die natuur-, mens- en sosiale wetenskappe help ons baie om die werklikheid waarbinne ons leef, te verstaan. Maar op ’n geheimenisvolle wyse word daar in ons ’n besef wakker dat daar meer is as die sienlike en die meetbare. Die werklikheid is groter, meer, onbegryplik meer. Daar is ’n innerlike getuienis daaromtrent, daar is ’n openbaring daarvan, en daar is ’n onontkenbare nuwe soort sinvolle lewe daarmee, te midde van ons krisisse en ontwrigtings. Dit is hoekom Sheila Cussons se gedig vir my soveel waarde het.

Die sagte sprong deur Sheila Cussons
Dit kom wanneer dit nie verwag word nie:
’n aanraking van die verstand
lig soos ’n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?
Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos ’n sagte sprong –
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees?

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is pre­dikant van die NG gemeente Wel­ge­moed en voorsitter van die Algemene Sinode se moderamen.