‘Doop ’n seën, al is dit 2 weke na my baba se geboorte’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Toe ek met my eerste swanger was, hoor ek by ’n Vrystaatse Sinodesitting hoe iemand vir my destydse kollega geluk toewens. Hy word toe deel van die klein en elite klub predikante wat al ’n swanger kollega gehad het.

LEES OOK: Gebed van ’n woedende man

Tot redelik onlangs was die idee van ’n swanger predikant op die preekstoel taboe. Maar met al meer jonger vroue wat die bediening betree, word dit al meer in die bediening sigbaar. Maar dit bring natuurlik nuwe uitdagings.

Vir maande lank preek ons met ’n Marmite-toebroodjie op die preekstoel, net vir ingeval die bloeddruk val. Die “wat om aan te trek”-vraag word met­eens baie moeiliker, aangesien rokke en broeke ook net sóveel kan rek. Daar word hard gebid dat die morning sickness tog tussen 09:00 en 10:00 sal wyk dat jy nie skielik van die kansel af hoef te hardloop nie. Siekebesoek in hospitale word nou meer problematies omdat daar nou nog ’n lyfie met geen immuniteit is om aan te dink.

Maar een van die lekkerste uitda­gings van ’n mawees as predikant, is die doop. Ek en my man is albei predikante en ons het met die eerste twee kinders beurte gemaak om te preek en die doop te bedien. Hierdie keer, met nommer 3, is die preek mý verantwoordelikheid. Maar tussen al die Covid-19-regulasies en familie wat uiteindelik kan oorkom as die grense oopmaak, gaan hierdie baba op die ouderdom van 2 weke gedoop word. En skielik wonder ’n mens opnuut oor die praktiese sy daarvan.

LEES OOK: Jan du Rand, skerp teoloog en skrywer van meer as 30 boeke, sterf aan Covid-19

In die verlede het ’n nuwe pappapredikant nie moes wonder oor hoe jy tydens die doop op slegs twee weke na kraam sal voel nie. Sal sy wonde genees (genoeg) wees? Gaan hy al met meer gemak kan loop en nie meer die kansel op waggel nie? Hoe gaan sy bloeddruk dan lyk? Sal hy die hele preek deur kan reg­op staan? As dit ’n keiser is, gaan sy ge­swelde voete in enige ordentlike skoene pas? Dit is alles goed wat deur my kop gaan as ons besluit hoe om die doop aan te pak. Natuurlik is die dominee se kind se doop in enige gemeente ’n groot gebeurtenis, maar dit gaan nou weens die Covid-pandemie nie deur al die gemeentelede bygewoon kan word nie. Die diens gaan eerder lewendig uitgesaai word sodat al die tannies wat so hard gebrei het aan mussies darem ook die gebeurtenis kan beleef.

Om my eie kinders te doop was van die spesiaalste oomblikke in my bedie­ning. En daarom besluit ek, geswelde voete of nie, met Marmite-broodjies of nie, al waggel ek daar op, selfs so vinnig na die geboorte, gaan ek die onbeskryflike seën hê om my dogtertjie te doop!

  • Ds Elzeth Pienaar is aflospredikant by NG gemeentes in die Ring van Potchefstroom, getroud met ds Jac Pienaar van NG ge­meen­te Potchefstroom-Wes en ma van drie kinders onder die ouderdom van 5 jaar.

Word 'n vriend van Kerkbode