Voedseltuin lewer eerste oes by Goue Aar-tehuis vir bejaardes

’n Ontspanningsprojek waarvan die saadjie in die grendeltyd reeds geplant is, het uiteindelik vrug begin dra by die Goue Aar-tehuis vir bejaardes op Malmesbury. Inwoners by die tehuis het uit hulle nuwe groentetuin begin oes en só nie net iets gevind waarin hulle hulle kan uitleef nie, maar ook vars groenigheid kombuis toe begin stuur by ’n tehuis wat elke sent moet omdraai.

LEES OOK: 10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19

Leon Venter, Badisa se programbestuurder by Goue Aar, vertel dat die idee vir die tuin verlede jaar reeds ontstaan het. Dit was na aanleiding van die #GROEI-projek, wat deur die NG Sinode Wes-Kaap se Hoop-en-Versoeningstrust en Diaconia begin is vir volhoubare voedselvoorsiening en ekologiese bewusmaking.

“Ons het in die grendeltyd gesien hoe ’n klomp groentetuine in arm gebiede met die hulp van die #GROEI-projek aangelê is en ons het van die idee gehou. Ons het aansoek gedoen, maar ongelukkig was ons grond ’n dorre tipe kleigrond wat nie reg was vir die kweek van groente nie. Ons sou eers die grond deeglik moes voorberei en is genoodsaak om eers daarvoor ’n borg te gaan soek.”

Foto verskaf

Na aanleiding van ’n terloopse gesprek het ’n weldoener, wat in November verlede jaar ’n nuwe lapa-area by die tehuis ontwikkel het, toe besluit om met die voorbereidings te help. Die SlimSun Swartland Solar Park het groot houers en bemesting geskenk, asook R1 500 se saailinge wat onmiddellik in die grond gesit is. Die eerste spinasie is einde Januarie gesny en beet en die lieflikste koolkoppe is intussen geoes.

LEES OOK: ‘Ek het die kerkbanke een vir een gewas’

“Weens ons inwoners se beperkte beweeglikheid kan ons dit ongelukkig nie op groot skaal doen nie, maar die handjievol wat aktief betrokke is vind groot genoegdoening daarin dat iets wat húlle help kweek het, op die etenstafel beland,” sê Venter. “Moenie ’n fout maak nie – soms is daar maar ’n bietjie konflik tussen die ooms en tannies oor hoe om nou eintlik die tuin te bestuur, maar soggens is hulle daar en daar is ’n lieflike atmosfeer. Dit is wonderlik as iets realiseer soos jy jou dit voorgestel het, en dit is deur en deur die geval met hierdie tuin, wat ons van die begin af gehoop het sal terapeuties wees.”

Foto verskaf

Venter sê die volgende stap is om ’n skadunet te span en, hoewel dit nooit die tehuis selfonderhoudend sal maak nie, tog die tuin so uit te brei dat dit ’n merkbare verskil in die begroting sal maak.

  • Die #GROEI-projek gaan steeds voort en enigiemand wat navrae daaroor wil rig, kan e-pos na spg@kaapkerk.co.za stuur.

*Elana van der Watt is ’n vryskutjoernalis met ’n hart vir gemeenskapswerk.

Word 'n vriend van Kerkbode