Korting kom vir streeksinodes waar gemeentes sukkel

Die NG Kerk se geldsake asook die balans tussen spaar sonder om “terug te tree van kerkwees”, is tydens ’n onlangse spesiale vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) bespreek.

Dit volg ná sewe uit die tien streeksinodes gevra het vir verligting op die geldelike bydraes wat hierdie strukture moet maak tot die Algemene Sinode (AS) vir dié se werksaamhede.

“Die realiteite van sinodes se omstandighede is werklikhede wat ons nie durf ignoreer nie,” luidens ’n verslag deur die Algemene Taakspan Fondse en Bates (ATFB).

LEES OOK: Boek oor skop, skiet en bekering onder die wenners van Andrew Murrayprysfonds

“Benewens werksverliese en verminderde inkomste van lidmate gedurende 2020, het die taakspan ook in ag geneem dat Covid-19 gevolg het op ’n aantal jare van uitmergelende droogtes,” luidens die terugvoerdokument wat op 15 April tydens ’n Zoomvergadering bespreek is.

“Daarby het die groeiende getal gemeentes wat doleer (en in sommige gevalle dus hulle bydraes in beginsel uit protes teen die Algemene Sinode weerhou – Red), ’n beduidende invloed op die inkomste van sinodes. Verder het die Zondo-kommissie die enorme skade aan die land se ekonomie vanweë grootskaalse korrupsie, baie duidelik aan die kaak gestel,” luidens die dokument.

Die verligtingsversoeklys lyk so:

Goudland 50%

Vrystaat 20%

Oostelike Sinode 25%

Noordelike Sinode 25%

KwaZulu-Natal 20%

Wes-Kaapland 12,5%

Hoëveld 3,3%

Die begroting is tydens die spesiale vergadering goedgekeur, met dien verstande dat dit viermaandeliks hersien sal word. Dit maak effektief voorsiening vir “verligting” aan streeksinodes wat altesaam meer as R700 000 beloop.

LEES OOK: Kanniedood karretjie hoop alles, verdra alles, glo alles

Die ATFB, wat saamgestel is uit finansiële verteenwoordigers, gewoonlik die uitvoerende amptenaar of die leier van die sinode se taakspan vir finansies, van al tien samestellende sinodes. Die taakspan bevat ook kundiges van “buite”, wat onder andere twee voormalige senior personeellede van die Reserwebank insluit. Die voorsitter is ds Paul Grobler.

Grobler het beklemtoon dat die ATFB meen “daar moet met die uitgangspunt gewerk word dat die Algemene Sinode slegs op 75% van die bedrag wat elke streeksinode ooreenkomstig die beleid verskuldig is, kan reken.” Dit beteken dat daar begroot word vir ’n totale inkomste vanaf sinodes ten bedrae van R3 108 823.

Zoom moet kerk help geld spaar

Nog ’n punt waar drastiese besparing beoog word, is vergaderings wat in persoon plaasvind; met meer as R500 000 wat bespaar kan word indien die einste ASM se jaarlikse vergadering eerder virtueel sou plaasvind. ’n Aantal afgevaardigdes het kommer uitgespreek oor Zoom en Skype as ’n soort verstekopsie vir hierdie soort vergaderings. “Dit is te verstane in die lig van Covid en die begroting, maar ’n mens moet kennis neem, daar’s ’n klomp goed wat verlore gaan … dis juis in teetyd en etenstyd wat jy verhoudings bou sodat wanneer daar ’n moeilike kwessie is, dan is die verhouding gebou,” het ds Maartje van der Westhuizen van Oostelike Sinode laat hoor.

Dr André Bartlett (Hoëveld Sinode) het gesê die belangrike ding “is dat ons hoor wat die ATFB vir ons sê. Dat ons met nuwe oë na ons begrotings moet kyk.” Hy meen die jongste besluit stuur die boodskap: “Dit is moeilike tye en die Algemene Sinode stel die voorbeeld deur te sê ons gaan met baie streng dissipline om met ons fondse … nie omdat ons terugtree van kerkwees nie, maar omdat ons weet ons sal slimmer en beter moet werk.”

Die opvolgvergadering het, nes die vorige, onder voorsitterskap van ds Nelis Janse van Rensburg plaasgevind.

LEES OOK: Lesersbydraes | Die prediking is vandag in ’n krisis

Janse van Rensburg het ná die vergadering aan Kerkbode gesê hy is vasberade dat al die werksaamhede van die AS ten spyte van beplande geldelike inkortings voortgaan. Hy het ’n klomp take van hierdie sentrale liggaam uitgelig, wat wissel van die meer administratiewe soos die hantering van predikantesake, rekordhouding van beroepbaarheid ensovoorts, tot ekumeniese en publieke getuienis-werk, aangevul deur die werk van talle taakspanne, wat op hulle beurt na alles van teologiese opleiding tot Bybelvertaling kyk.


Kairos-Netwerk en kerkorde-vernuwing

Die vorige ASM-vergadering, in Maart, is grootliks gewy aan bespreking van ’n ontmoeting tussen kerkleiers en verteenwoordigers van Kairos Netwerk (KN). Tydens die vergadering is KN se versoek van die hand gewys om ’n buitengewone vergadering van die Algemene Sinode uit te roep waar die 2019-besluit rondom selfdegeslagverbintenisse herbesoek kan word. “Ons aanvoeling is dat ’n buitengewone algemene sinode nie die regte ding is om te doen nie. Dat dit uiters verdelend kan werk, om die waarheid te sê,” het Janse van Rensburg by daardie geleentheid gesê.

Die ASM het wel ’n verslag goedgekeur wat verwys na die moontlikheid van die aanpassing van die kerkorde om voorsiening te maak vir “nuwe netwerke van gemeentes wat oor bepaalde belangrike sake eendersdenkend is”.

Mnr Pieter Breytenbach het ondanks die feit dat KN se buitengewone sinode-versoek die wind van voor gekry het, gesê gesprek duur voort. “Ek sou die sukses (van die vroeëre ontmoeting tussen KN en die afvaardiging) as volg uitlig: die feit dat beide partye tot die besef gekom het dat daar diepgaande verskille op teologiese gebied, teologiese opleiding en kerkregtelike prosesse bestaan. Beide partye het dit erken.”

Breytenbach, wat as KN-woordvoerder optree en bedryfshoof is by Moreletapark waaruit die netwerk gegroei het, het op 11 Maart per e-pos aan Kerkbode gesê: “My eie verstaan is dat die proses in die NG Kerk al ’n hele ruk terug begin is, om te kyk hoe die kerkorde aangepas kan word om meer ruimte te maak om die opdrag van evangelisasie meer en beter te kan leef as ’n denominasie. Dus word daar onder andere gekyk na aspekte soos om vir ander netwerke, kerke en geloofsgemeenskappe ruimte te maak dat hulle wel ingesluit word, of met een of ander vorm van ooreenkoms, deel kan vorm van die NG Kerk. Wat egter nou bykom is dat verskillende kerkmodelle ook nagevors en geëvalueer moet word, om te sien of daar op ’n manier ’n model en strukture kan wees, wat die twee teologiese strome wat bestaan, kan hanteer sonder dat die een beïnvloed word deur onder andere besluite wat die ander neem. Teologiese opleiding by die verskillende fakulteite skep tans vir die KN ’n probleem op ’n hele paar gebiede. Die hoop wat geskep is, is dat die kuratorium dit besef en begin aandag gee daaraan. Hierdie is egter nog ’n lang proses en die effek van die proses sal eers later bepaal kan word. Alhoewel die ASM die KN gaan betrek, is ons nog onseker of ons wel ’n positiewe bydrae sal kan lewer. Ook hierdie aspek moet nog by die KN volledig bespreek word,” meen Breytenbach.

Word 'n vriend van Kerkbode