Is daar ’n verskil tussen post-teïsme en ateïsme?

Ben du Toit probeer godvry leef, maar dis nie haalbaar nie, skryf AMIE VAN WYK.

Dit het Ben du Toit ’n leeftyd geneem om tot die ontdekking te kom “dat geloof in God (vir my …) geen nut meer het nie” en dat dit wonderlik is om elke dag vry te leef van die vrees van ’n transendente godheid of mag. Sy nuwe lewe as ‘post-teïs’ beteken immers ’n radikale breuk met die metafisiese wêreld. So skryf hy in sy nuwe boek God. Is daar ’n ander antwoord? (2020), waarskynlik een van die opspraakwekkendste teologiese boeke wat ooit in Afrikaans geskryf is.

LEES OOK: ’n Ontmoeting met Ben du Toit: Die reis na ’n antwoord

Dit gebeur immers nie dikwels nie dat ’n Christelike teoloog volledig afskeid neem van die Christelike geloof, van God, van Christus, van die Bybel, van die Christelike geloofsbelydenis, van die Christelike kerk, ja, letterlik van dit alles, en dan ’n ‘post-teïs’ word. Net vyf jaar gelede het hy in sy boek Sprakeloos oor God (2015) nog geskryf dat ons nie onseker moet wees oor die kernwaarhede van die Christelike geloof nie. En selfs in sy veel meer kritiese boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd (2000) merk hy op dat die evangelie staan of val met die kruis en opstanding van Christus. Maar nou neem hy afskeid van dit alles, hý, ’n predikantseun van ’n pa wat as sendeling die evangelie van God se genade in Christus in Malawi en Zimbabwe verkondig het.

Ben se post-teïsme word reeds duidelik geïllustreer in sy laaste ‘preek’, wat oor Tamar handel (2 Sam 13). Sy word deur haar eie broer Amnon verkrag en weggejaag, ’n wrak. Toe haar ander broer, Absalom, haar raakloop, troos hy haar met woorde soos ‘bly net stil en moet jou nie kwel nie’. Ben stel nou die vraag wie die hoofspeler in hier­die verhaal is en volgens sy oordeel is dit … God, die God van liefde. Hý is die werklike “olifant in die vertrek”. Waarom het Hy die gebeure nie verhoed nie? Ek het hierbo verwys na Ben se ‘preek’. Maar ’n preek kan dit tog nie wees nie. As daar in ’n ‘preek’ geen enkele verwysing is na die liefde van God in Jesus Christus nie, mag dit interessante leesstof wees, maar is dit geen preek nie (Luk 24:44). (En dis nie dat hy nie daarvan weet nie). Hiermee saam stel hy die vraag hoe is dit moontlik dat ’n almagtige, barmhartige, liefdevolle en alwetende God nie byvoorbeeld sy kerk kan byeenhou nie? – in teologie die teodiseevraag genoem.

So is dit hoe Ben die God van die Bybel teken … ’n olifant in die vertrek.

Hy stem hier saam met die ateïsme wat nie in God glo nie, maar tog gelowig bly; hulle glo in die nie-bestaan van God, in NIKS. Daar bestaan immers nie ’n mens wat totaal ongelowig is nie. Dis God of NIKS. Ben probeer godvry leef, maar dit is nie haalbaar nie. As die ware God afgewys word, word Hy vervang met ’n geloof in die oppermag van die mens (humanis­me), die mens se verstand (rasionalisme en positi­visme) en sy we­tenskap (sciën­tisme). Uiteindelik, so redeneer hy, los die wetenskap tog veel meer proble­me op as wat gods­diens kan doen en is dit daarom van veel gro­ter waarde.

LEES OOK: Oor Ben du Toit se boek

Ja, ek gee toe daar is moeilike dele in die Bybel wat oor God handel, die intoggeskie­denis van Israel byvoorbeeld. Maar was die Kanaäniete nie wrede nasies wat hulle eersgebore kindertjies aan afgode geoffer het nie en dus strafwaardig? Bewys God nie reeds sy genade, barmhartigheid, lankmoedigheid en liefde aan die heidenstad Nineve as Hy die stad spaar nie (Jona 4)? – ’n tipering van God wat talle kere in die Ou Testament herhaal word. En vorm die Nuwe Testament met sy openbaring van ’n God van liefde wat sy Seun Jesus Christus stuur as Verlosser, Versoener en Heiland nie die hoogtepunt van sy liefde vir ’n gebroke mensdom nie (Joh 3:16)? Wat in die Bybel duidelik is, is dat God téén die sonde is en dit nie wil nie.

Ben maak gebruik van die ewolu­siedenke om die bestaan van die mens, en God, te verklaar. Hy redeneer dat die mens se brein volgens die proses van ewolusie ontwikkel tot selfbewussyn en dat die mens dan dink: Nou het ek ’n god nodig en dan skep hy vir hom ’n god. Maar waarom ondersoek hy nie ook die omgekeerde moontlikheid nie waarvolgens die menslike brein op ’n gegewe oomblik konkludeer: Ek besef nou skielik dat ék nie Gód geskep het nie maar dat Gód mý geskep het – en daarmee saam die groot heelal?

Ben se vertrekpunt is die mens en sy verstand, die wetenskap en ewolusie. Die mens is ’n produk van ’n lang ewolusieproses en word deur sy brein beheer en nie deur ’n god nie. Godsdiens het nie van ‘bo’ ontstaan nie maar ewolusionêr van ‘onder’ ontwikkel en daarom is die mens ouer as enige konsep van ’n godheid. Hy stem saam met die woorde van Harry Kuitert dat daar niks in die hemel [en hel] is wat nie op die aarde bedink en gemaak is nie; “die werklike skepper is nie ’n metafisiese wese (God) nie, maar die mens” – sy brein. In hierdie beskouing bly daar egter ’n onbeantwoorde vraag: Die be­wering dat alle woorde ‘van onder’ deur die mens bedink is, laat die vraag onbeantwoord of die woorde ‘van onder’ nie ‘van Bo’ geïnspireer is nie?

Vanselfsprekend het Ben groot pro­bleme met die kerk, veral die NG Kerk waarin hy so lank gedien het. Hy stel byvoorbeeld die be­lang­rike vraag hoe die leiding van die Heilige Gees in die kerk, veral sinodes, verstaan moet word. Hoe kan die Gees die NG Kerk se sinode van 2015 lei om selfdegeslagverhoudings te aanvaar (dus ja), om dit in 2016 weer af te keur (nee), en dan weer in 2019 met ’n ja-nee te eindig (plaaslike kerkrade moet nou daaroor besluit)? Hy spreek ’n harde oordeel uit as hy sê dat sy erva­ring met die kerk en teologie hom daartoe gelei het dat hy homself “nou van enige uitdrukking van gods­dienstigheid distansieer”.

In hierdie verband raak Ben ’n baie belangrike saak aan waar dit gaan oor die eenheid van die kerk(e) en die leiding van die Heilige Gees. Die Bybel ken net die eenheid van die kerk van Christus en die verdeling van die kerk in verskillende kerkgroepe deur die eeue heen wat ‘onder leiding van die Heilige Gees’ verskillende en weerspre­kende besluite geneem het, is ongetwy­feld ’n skande vir die Christendom en ’n ondermyning van die Christelike geloof. Hierdie stand van sake is onaanvaarbaar en die groter tragiek is dat weinig Christene dit as ’n ondermyning van die evangelie beskou en ervaar. Wie versoe­ning preek en verskeurdheid leef, is ongeloofwaardig.

LEES OOK: ‘Binnestander’ bied tegelyk protes en pleidooi

’n Ander vraag wat Ben probeer beantwoord is: Wat is die sin van die lewe? Hierop antwoord hy dat die sin van die lewe bestaan in ‘kindness’ en ‘decency’. Hy noem ook ander dinge wat in die lewe belangrik is, soos eenheid, geregtigheid en menswaardigheid, gelykheid, lewe, ook geluk, vrede, medemenslikheid, versoening en hoop, en hy voeg dan by dat die kerk nie die mono­polie het om hierdie dinge te verwerklik nie. Die konsep ‘koninkryk van God’ vind hy onbruikbaar omdat dit die goddelike patriargie bevestig. Dit is duidelik dat daar nie vir Ben iets groter in die lewe is as … die mens en sy deugde nie. Nie geloof in God as Skepper nie, nie geloof in en navolging van Jesus Christus as Here en voorbeeld nie, nie diens aan die koninkryk van God nie, nie die verwagting van ’n nuwe skepping deur God nie, nee, die sin van ons lewe is om hier en nou met oorgawe te leef, dit wil sê die strewe na ’n radikaal bevrydende humaniteit.

’n Vraag wat by my ontstaan, gaan oor Ben se betrokkenheid as kapelaan tydens die Angolese Oorlog waar soveel menswaardigheid geskend is. Het hy nooit sy betrokkenheid aldaar krities getoets aan die etiese voorwaardes wat vir ’n regverdige oorlog geld en moes hy nie tóé dalk onttrek het nie?

Die vraag wat ten slotte beantwoord moet word, is: Is daar enige verskil tussen post-teïsme en ateïsme? Beide ver­werp God, Christus, die Bybel, geloof, ’n geesteswêreld en ’n geesteswetenskap, byvoorbeeld teologie. Nie een van die twee kan die drie fundamentele vrae in die lewe bevredigend en hoopvol beantwoord nie: Waar kom alles vandaan, waar gaan alles heen en wat is die sin van die lewe? Dit laat my dink aan die woorde wat David Robertson oor Richard Daw­kins geskryf het: “You live in a universe which appeared from nowhere, is going nowhere and means nothing.”

Ek dink Ben kan sy insig verbreed indien hy die boek lees wat ’n gerekende natuurwetenskaplike, iemand wat eers ’n ateïs was en daarna die Christelike geloof aangeneem het, geskryf het. Ek verwys na Francis Collins se The language of God: A scientist presents evidence for belief (2007).

In hierdie debat moet daar natuurlik duidelik besef word dat die natuurwetenskappe fokus op die immanente werklikheid terwyl die geloofswetenskappe gerig is op die transendente werklikheid. Die natuurwetenskappe werk veral met redenering, verifiëring of valsifiëring terwyl die teologie byvoorbeeld werk met normduiding, sinduiding en hoopgewing.

Die Christelike geloof rus op drie pilare: geloof, hoop en liefde: liefde van en vir God en die naaste, ook die vyand; hoop op God, vir die klein en ook Groot Toekoms, die ewige lewe en die vernuwing van die totale skepping; geloof in God vir sy genade in Jesus Christus, wat ’n geskenk is van die Heilige Gees. Wat op aarde kan sinvoller, vroliker en hoopvoller wees as hiérdie boodskap?

  • Prof Amie van Wyk is ’n afgetrede teo­logiese professor van Potchefstroom.
  • Hierdie artikel het vroeër op Netwerk24 verskyn en word hier met toestemming van die skrywer gepubliseer.
Word 'n vriend van Kerkbode