God se aksent

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Vriende van my was baie verontwaardig toe hulle vyfjarige seun­tjie met ’n vreemde aksent begin praat het. Dit was eers subtiel, maar naderhand ’n volwaardige aksent. Hy het soos sy ma en pa gelyk. Hy het hulle naam gehad. Maar daardie aksent!

Die ouers was egter nie verras dat hulle seuntjie met die vreemde aksent gepraat het nie, want al sy maatjies het dié spesifieke tongval gehad. Dit is immers die aksent wat hy die meeste gehoor het.

Die Amerikaanse teoloog, John ­Pi­per, vertel dat hy grootgeword het in ’n kerkgemeenskap waar hulle bui­ten­gewoon baie Bybel gelees het. “Ons het die Woord so baie gehoor dat ons die klank van valsheid ’n myl ver kon hoor,” vertel hy. “Ons kon nie altyd dadelik ons vinger daarop plaas nie, maar omdat ons die Bybel so goed ge­ken het, kon ons hoor as iemand se woorde nie strook met dit wat ons so gedurig gehoor het nie.”

LEES OOK: Video: Só het NG Kerk verander – Neels Jackson

Oral in die Bybel hoor ons die skrywers praat oor die woorde wat uit God se mond kom. Dit is ’n gereelde tema in verskeie Bybelboeke.

Die immerbekende skeppings­woorde in Genesis. God het gesê: “Laat daar lig wees!”, en dit was so. Die radikale woorde van Johannes oor die Woord wat ’n mens geword het. Die Woord wat so naby gekom het dat sommiges aan Hom kon vat, en saam met Hom kon eet.

Hierdie Woord-wat-naby-gekom-het se woorde dra ’n ewigdurende gesag. Ons lees dat Hy alles met betrekking tot die mensdom se redding en verlossing bewerkstellig en dit ook in stand hou – met sy woorde (vgl Hebr 1:3).

Ons hoor ook van dieselfde soort gewigtige gesag wat God se woorde dra wanneer Jesaja in hoofstuk 55 vers 11 daaroor praat: “dit sal nie onverrig­ter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit ge­stuur het.”

Ons lees van God se woord wat lewend en kragtig is, wat die klank het soos van baie waters wat druis. Van sy woord waarin niks vals is nie – “dit is soos silwer wat oor en oor in ’n oond gesuiwer is” (Ps 12:7). God se woord is suiwer, dit is volmaak en helder, dit gee insig. Dit is skerp en dring diep in.

LEES OOK: Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak

Die Bybelskrywers en veral die Psalmdigters help ons oor en oor om die woord van God te hoor, om die aksent daarvan te herken. ’n Tongval so uniek dat dit ’n lewe en ’n gesag van sy eie het.

En soos met die meeste aksente, gaan dit ook met God s’n. Hoe meer ons dit hoor, hoe groter is die kans dat ons met daardie aksent sal begin praat.

Ek vang myself te gereeld dat ek met die aksent van my gunste­lingskry­wers of my Facebookvriende praat. Hoe sou dit tog wees as ek my ore nie soveel uitgeleen het aan vreem­de aksente nie? Maar eerder myself toespits om daardie volmaakte aksent aan te leer van die Een vir Wie, tot Wie en uit Wie alle woorde ontstaan.

  • Francine Prins is LiG-tydskrif se redakteur en verantwoordelik vir LiG se sosiale media en aanlyngemeenskap. Sy is ook die skrywer van 100 dae van dankbaarheid, ’n dagstukkieboek.
Word 'n vriend van Kerkbode