Moderator kry positiewe Covidtoets dag voor inenting

Dit het begin met ’n seer keel.

Ds Nelis Janse van Rensburg, die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, en lede van sy gesin was die afgelope week in isolasie tuis nadat  hy verlede Sondag (16 Mei) ’n positiewe uitslag vir die Covid-19-virus ontvang het.

Lees ook: ’n MBA is nie vir almal nie, maar bestuursvaardighede is

“Ironies genoeg sou ek die volgende dag vir my inenting gaan,” vertel Janse van Rensburg. Hy sê hulle al drie het sowat twee weke gelede ’n seer keel ontwikkel, maar waar sy onderwyseresvrou Aletta en hulle 28-jarige seun Nico se simptome lig gebly het, het Janse van Rensburg ook kortasem en uiters moeg geword. Hy is die enigste van hulle gesin wat vir die Covid-toets gegaan het, maar die hele gesin is in isolasie sedert sy positiewe uitslag.

Volgens Janse van Rensburg het hulle geen idee waar hulle die virus opgedoen het nie, maar hy begin nou beter voel. Buiten ’n benoude bors en die gevoel dat al sy energie getap is, beskou hy homself as gelukkig. Hy het min koors gehad, het sy smaak behou en hy is besonder dankbaar hy het nie longontsteking ontwikkel nie. ’n Toets het gewys sy longe is skoon.

Lees ook | Dana Snyman: As ’n preek jou bang en leeg laat

Oor sy eerste ervaring van die virus sê hy daar was ’n positiewe en aaklige kant. “Dit was sleg want ek kon nie werk nie, maar dit was ook ’n goeie tyd in die opsig dat ek tyd in gebed kon deurbring en baie nadink. So, daar het ook goeie dinge uitgekom.”

Op 61-jarige ouderdom val Janse van Rensburg in die hoër risikogroep maar hy sê hy het nie onderliggende siektetoestande nie. Waaroor daar by hom geen twyfel bestaan nie, is om hom wel te laat inent teen die virus sodra hy gesond is. “Ek gaan my beslis laat inent en ek dink dit is belangrik dat ons almal dit doen,” sluit hy af.

  • Meer as 55 700 Suid-Afrikaners is al dood aan Covid-19, met die aantal entstoftoedienings wat al by 640 000 trek, volgens inligting op https://sacoronavirus.co.za/.
Word 'n vriend van Kerkbode