Evangelievlam brand nog helder in Masjonaland

Dit is al net meer as 40 jaar sedert die NG Kerk die meeste van hulle werknemers uit die ou Rhodesië onttrek het en die leisels oor­gegee het aan die dogterkerk, vandag die Reformed Church of Zimbabwe (RCZ).

Zimbabwe, eens die broodmandjie van Afrika, kan vandag nie vir sy mense sorg nie. Steierend onder ’n inflasie­koers van meer as 700% met 90% van sy inwoners werkloos, wonder vele sen­ding­kinders en oud-sendingwerkers dan ook: ‘Hoe gaan dit met die kerk daar?’

LEES OOK: Te midde van alles gaan die kerk in Zimbabwe voort

Dié vraag was op die tafel by ’n onlangse saamtrek van oud-Masjonalandkinders in die pragtige Meiringskloof in die Oos-Vrystaat. Die nagte mag koud gewees het met die eerste sneeu op die Drakensberge, maar die harte was warm. Vir baie was hierdie ’n eerste weer­siens sedert hulle mekaar laas as kaalvoetkinders gesien het in Masjona­land, in die suide van Zimbabwe. Die hoofsendingstasie, Morgenster, is in 1891 gestig deur ds Andrew Louw en het beskik oor ’n hospitaal, oogkliniek, skole (waaronder ’n Skool vir Dowes), en kolleges vir die opleiding van predikante, onderwysers en verpleegsters.

Isabel von Wielligh en Mientjie Uys met agter Helena Pitout was van die oud-Masjonalandkinders wat onlangs saamgetrek het in die Oos-Vrystaat. Foto verskaf

Stories het maklik gevloei met herinneringe aan ’n sorgvrye kindertyd met ure se ‘sedenza’ gly op afgeskuurde turksvyblare op rotse, swem in poele en handevol pap eet met sadza en muriwo as bykos. In een van die staaltjies het twee klein seuntjies een winter ’n klein vuurtjie gemaak wat gou ’n groot stuk droë grasveld afgebrand het. Huilend het die een vir sy pa gesê: “Pappa, ons het net só ’n klein vuurtjie gemaak, en kyk hoe groot is dit nou!”

Só is dan ook gewonder of die vlammetjie van die evangelie, wat meer as 130 jaar gelede onder die VaShona gesamentlik deur swart evangeliste en wit sendelinge aangesteek is, steeds sterk brand?

Dit was met groot hartseer dat die meerderheid NG werknemers en hulle gesinne die land in die laat 1970’s, in opdrag van die Algemene Sendingkommissie, moes verlaat weens die toename in gewapende aanvalle op alle sendingstasies. Daar was selfs sendelinge wat met hulle lewe geboet het, waaronder André en Bineke Brand. Morgenster en al die ander sendingstasies wat deur die NG Kerk gestig is, is in die nuwe bedeling oorgegee aan die RCZ.

Sybrand ‘Spokie’ Smit (84), jarelange faktotum op Morgenster, was een van die laastes om te vertrek in 1978. Hy vertel in 1991 was hy terug vir die eeufeesviering en hoewel daar verwaarlo­sing was met die gras heuphoogte in sy ou werkswinkel en die kapel se dak ingeval, was hy bemoedig dat die werk voortgaan. Só kon ander ook bevestig al word dinge ‘anders’ gedoen, groei die kerk steeds.

LEES OOK: Oor (ander se) swaarkry

Honderde predikante is oor die jare gelegitimeer en die RCZ het gegroei van 30 gemeentes in 1978 tot 118 gemeentes vandag. Duisende studente voltooi jaarliks hulle studies by die kolleges en Morgenster spog selfs nou met ’n universiteit (RCU)!

In die jare na die Rhodesiese oorlog, kon die NG Kerk (Wes-Kaap) weer die RCZ ondersteun met die stuur van enkele sendelinge. Die laastes was wyle ds Henry Murray (oorlede 2014) en ds Gerard Breytenbach by CAVA, wat in 2020 afgetree het.

Finansieel trek die kerk in Zimbab­we baie swaar. Baie predikante kry vir maande nie salaris nie omdat gemeentelede self in ’n oorlewingstryd gewikkel is. Die Henry Murray Gedenkfonds, geadministreer deur die Wes-Kaapse Kommissie vir Getuienisaksie, bied reeds vir baie jare ondersteuning om die nood te verlig van weeskinders (skoolfooie), die Teologiese Kollege sowel as ander instansies en projekte op Morgenster en omliggende sendingstasies.

  • Vir inligting oor bydraes tot die Gedenkfonds en/of om in te teken op die Morgenster Nuusbrief, kontak Susan Murray by hensansjm@gmail.com. Bydraes tot die Henry Murray Gedenkfonds kan soos volg gemaak word: NG Kerk in SA, Nedbank, Rek: 1135900280 verw: HM Gedenkfonds. Stuur bewys van betaling en jou naam aan kga1@kaapkerk.co.za
Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Evangelievlam brand nog helder in Masjonaland

  1. My ouers was 12 jr betrokke by die sending
    In Zimbabwe se Buurland Zambiè waar die werk ook vootgesit deur die ” Reform Church of Zambië ” Ek.praat jare tussen 1948 tot 1959. Ek en my een ouer broer was daar gebore.

Comments are closed.