Vlak 2: Kleiner byeenkomste en hou by Covid-reëls

’n Nuwe styging in die aantal Covid-19-gevalle word toegeskryf aan die toename in sosiale byeenkomste waar mense nie hou by die noodsaaklike gesondheidsvoorskrifte soos die dra van ’n masker en die handhawing van sosiale afstand nie, het president Cyril Ramaphosa op 30 Mei tydens ’n regstreekse uitsending laat hoor.

Die regering se gesondheidskenners is bekommerd dat die Suid-Afrikaanse bevolking bedreig word deur ’n derde vlaag van infeksies, het hy tydens Sondagaand se regstreekse uitsending gesê en Suid-Afrikaners ingelig dat aangepaste Vlak 2-beperkings met ingang van 31 Mei geld. Vir kerke beteken dit die volgende:

  • Alle binnenshuise byeenkomste word beperk tot 100 persone mits die gebou se kapasiteit dit toelaat. Kleiner vertrekke mag tot helfte van hulle kapasiteit neem solank voldoende sosiale afstand gehou kan word.
  • Byeenkomste in die buitelug word beperk tot 250.
  • Die dra van ’n toepaslike gesigmasker is verpligtend. Dit is ’n kriminele oortreding om nie een in die openbaar te dra nie.
  • Begrafnisse word beperk tot 100 persone. Soos voorheen bly nagwake en die sogenaamde “after tears parties” oftewel “koek en tee” voor of na die begrafnisdiens verbode.

Persone wat positief toets vir die Covid-19-virus moet self-isoleer vir 10 dae vanaf die eerste dag wat hulle simptome begin toon het. Persone wat in kontak was met iemand wat positief getoets het moet ook vir 10 dae self-isoleer selfs al toon hulle geen simptome nie.

Kerke steun inentingsveldtog

In die eerste fase van die regering se massiewe inentingsveldtog was die fokus op werknemers in die gesondheidsektor. Sowat 67% van die land se gesondheidswerkers is reeds ingeënt, volgens Ramaphosa. In die tweede fase van die inentingsveldtog is ouer burgers eerste in die tou omdat navorsing daarop dui hulle is in groter gevaar van ernstige siektesimptome en sterfte weens Covid-19. Daar is geen direkte koste aan verbonde vir die ontvanger van ’n inentinginspuiting nie.

Die Nasionale Raad van Kerke het intussen ook ’n beroep op alle kerke gedoen om die veldtog te steun en om mense bo 60 jaar te help om te registreer om ingeënt te kan word teen Covid-19. Volgens dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, steun die NG Kerk ook die veldtog.

Die fase 2-veldtog word ondersteun deur ’n elektroniese inentingsdatabasis waarop ouer persone moet registreer om ’n afspraak vir inenting te bekom. Daar is vier maniere om op die databasis te registreer:

  • Registreer aanlyn: EVDS Self-Registration App
  • Bel *134*832# en registreer via USSD.Stuur die woord “register” via WhatsApp na 0600 123 456.
  • Bel die nasionale tolvrye navraesentrum by 0800 029 999.

Lees ook:

NG predikante kan ook aansoek doen om entstof te ontvang

‘Eredienste: Veiligheid eerste,’ sê Claassen

Eredienste: Maak eers góéd gereed, maan SARK

Word 'n vriend van Kerkbode