Vredendal: Verslaenheid ná Covid dorp tref

“Ons probeer maar sterk staan,” antwoord ds Pedro Oktober van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) op Vredendal as ’n mens vra hoe dit gaan. Hy is al 23 jaar die leraar van hierdie gemeente.

Die jongste vlaag van Covid-19-infeksies tref Vredendal en die hele Matzikama-distrik aan die Weskus swaar. Die skerp toename word deur die dorp se inwoners toegeskryf aan ’n toenemende laksheid met die dra van gesigmaskers, sanitasie en die handhaaf van sosiale afstand.

LEES OOK: Vlak 2: Kleiner byeenkomste en hou by Covid-reëls

In die VGK Vredendal-gemeente alleen het sewe gemeentelede die afgelope twee weke gesterf. Nog lidmate is opgeneem in die plaaslike hospitaal se Covid-saal en nog meer isoleer tuis. Oktober probeer nog die presiese aantal mense wat siek is, bepaal.

Die hartseer gevolg is dat Oktober reeds ’n aantal begrafnisse moes hou die afgelope week en daar lê nog voor vir die komende naweek.

Begrafnisdienste word by die huis of die begrafnisondernemer se perseel gehou gevolg deur ’n diens by die graf – met ’n beperkte tydsduur van twee ure en natuurlik met beperkte getalle soos voorgeskryf.

Die afgelope Saterdag is die skoonouers van die plaaslike begrafnisondernemer, Neels Julies, begrawe terwyl hy en sy volwasse seun siek met die virus in die hospitaal lê. Hy het vir die geleentheid ’n roerende brief geskryf dat kinders hulle ouers tog moet waardeer. Maandag was Julies ook weg.

Oktober vertel die dorp is in skok. “Daar is ’n stuk verslaenheid op die dorp. ’n Stilheid eintlik op die dorp.” Hy sê dit is nie net Vredendal nie. Op die naburige Vanrhynsdorp gaan dit net so erg.

LEES OOK: Jan Durand: Skerp teoloog en skrywer, sterf aan Covid-19

Die hoogs aansteeklike virus het binne ’n paar weke gewoed deur Vredendal. Netwerk24 berig die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement tel ’n skerp styging in Covid-infeksies op by Vredendal – van 11 infeksies op 15 Mei tot 152 infeksies op 31 Mei. Die skerp toename in gevalle plaas ernstige druk op die plaaslike gesondheidstelsel.

Die Covid-saal in Vredendal se hospitaal het slegs 20 beddens wat beteken die meeste mense moet tuis herstel.

Intussen is alle sosiale byeenkomste by die VG kerkgebou opgeskort.

Oktober, wat self van Covid-19 herstel, saai aanlyn eredienste uit en hou kontak met lidmate deur daagliks bemoedigende boodskappe via sosiale media te deel.

Hy wens wel in-persoon-besoeke – soos waaraan die gemeente gewoond is – was moontlik, het hy aan Kerkbode vertel.

Die situasie is so kritiek dat die Matzikama-munisipaliteit op Woensdag 2 Junie met ’n amptelike kennisgewing aangekondig het dat munisipale amptenare vanaf 31 Mei in skofte werk om sodoende die aantal personeel op die terrein te verminder. Volgens die kennisgewing het die munisipale raad die besluit geneem om die stygende Covid-19-gevalle in die Matzikama-gebied te bekamp.

Die vorige week het die waarnemende munisipale bestuurder, Lionel Philips, in ’n skrywe godsdiensleiers en organisasies, begrafnisondernemers en ander belanghebbendes se hulp gevra om Covid-veiligheidsregulasies by byeenkomste af te dwing.

Word 'n vriend van Kerkbode