Heléne Meissenheimer het onlangs deel geword van Bybel-Media se Inhoudspan. As uitvoerende joernalis by Kerkbode is haar fokus uitnemende kerkjoernalistiek – met ander woorde mensestories én geloofstories.
“Die behoefte aan betroubare en gebalanseerde kerkjoernalistiek groei by die dag,” sê Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode. “Wanneer ons met intekenaars praat of ondersteuners werf vir ons digitale platform by Vriende van Kerkbode, beklemtoon ons die feit dat Kerkbode se geskiedenis terugstrek tot 1849 toe die eerste Kerkbode verskyn het met die oorspronklike doel om ‘godsdienskennis te versprei’,” aldus Schoeman.
“Ons is bevoorreg om ’n nuwe aanstelling te kan maak ondanks finansiële druk op Kerkbode en soveel ander nuuspublikasies in ons land. Dit is vir ons lekker om ’n ervare joernalis en nuusbestuurder ryker te word,” sê Schoeman.
Ná sy eers grade in onderskeidelik maatskaplike werk en later ook biblioteekkunde verwerf het, het die begeerte om deur stories ’n verskil te maak Meissenheimer by ’n skryfloopbaan gebring. Sy het in 2006 ’n MPhil-graad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch deeltyds verwerf terwyl sy as joernalis by ’n gemeenskapskoerant op die Weskus gewerk het. Sy het later redakteur van die publikasie geword tot einde 2017 toe sy en haar predikantman Jaco na die Kaap verhuis het. Hierna was sy tot haar aanstelling by Kerkbode die redakteur van ’n aanlynpublikasie gerig op die eiendomsbedryf.
Haar ouers is op die sendingveld gebore en getoë, vertel sy. Sy het grootgeword in ’n huis waarin sy geleer is elke mens, ongeag ras, lewensuitkyk of sosiale stand het ’n eie unieke storie om te vertel. “Ek wil glo dat sulke stories ook ’n belangrike rol kan speel om gelowige mense in ons land nader aan mekaar te bring.
Lees ook: Evangelievlam brand nog helder in Masjonaland en Ongewone ‘bediening’: Kalahari-gemeente koop rioolwa
Joernalistiek en veral haar nuwe pos bied haar die kans om mense se stories en ’n blik op hulle leefwêreld met ’n wyer gehoor te deel. “Kerkbode is uniek geplaas om hierdie broodnodige rol in ons verdeelde samelewing te vervul – veral te midde van al die hatige tirades op sosiale media deesdae wat mense net verder van mekaar vervreem. Daarby kom dit vir my soms voor of baie gelowiges mismoedig voel oor die kerk. Kerkbode bied ook ’n spasie vir gelowiges om mekaar te bemoedig met geloofstories en impakstories van hoop.”
- Kontak Heléne met storiewenke by helene@bmedia.co.za