MES se verhaal van hoop en genade

MES is vanjaar 35 jaar oud. HELÉNE MEISSENHEIMER be­rig oor die ont­staanstorie van hier­die nieregeringsorganisasie, hulle eie oorlewingstryd tydens die Covid-pandemie en ’n prent­jie van werknemers wat verenig.


Leona Pienaar vertel ’n interessante storie van iets wat gebeur het by ’n “bestuursindaba” van MES, kort vir Mould Empower Serve.

Die MES-bestuurshoof het tydens ’n onlangse webinaar, wat gehou is as deel van MES se verjaardagviering, vertel: “Ons het gevra wat vier ons met ons 35ste verjaardag. Uit die antwoorde het ek ’n woordprentjie gemaak en dit is vir my ’n wonderlike getuienis dat ‘God s’n’ die woorde is wat die meeste uitgekom het, want dit is hoe ons sien wat ons doen.”

Die Covid-pandemie het op ’n landswye maatskaplike diensorganisasie soos MES ’n verreikende impak gehad. Tydens verlede jaar se strenger grendeltydperk moes oornagskuilings skielik aangepas word in 24 uur-behuising. Dit het beteken meer maaltye, meer perso­neel en ekstra uitgawes rondom sanitasie, maskers ens. In Kaapstad was daar nie naastenby genoeg skuilings vir ha­we­loses nie. MES het daagliks vir onge­veer 1 200 mense kos gegee in parkeerareas met die hulp van vrywilligers wat daagliks potte en potte kos gekook het.

Dit terwyl alternatiewe oplossings vir fondsinsameling vinnig gevind moes word.

Te midde van al hierdie uitdagings het MES in Johannesburg ’n addisionele skuiling kon oopmaak met die hulp van die departement van maatskaplike ont­wik­keling. Een van die belangrikste sleutels tot MES se sukses is die sluit van vennootskappe met ’n verskeidenheid van rolspelers, vanaf kerkgenootskappe en an­der welsynsorganisasies tot rege­rings­instansies. “Donateurs en vennote is deel van ons DNS,” sê Willem Eksteen, een van die direkteure op MES se bestuurs­raad.

“Ons kan nie op ons eie die sirkel van armoede breek nie. Ons het vennote nodig,” bevestig Pienaar.

Meer as 200 000 mense is haweloos op straat in Suid-Afrika, volgens ’n pei­ling deur die Human Sciences Resource Centre wat reeds in 2015 gedoen is. Die platteland ontvolk al dekades lank soos mense hoopvol vir ’n beter lewe na stede trek. Weens ’n kombinasie van vele faktore, waaronder swak ekonomie­se groei, stygende werkloosheid en gebrekkige kwalifikasies eindig duisende haweloos en moedeloos op straat. Dit is veral na hierdie ‘mees weerloses’ dat MES geroepe voel om uit te reik.

Oorspronklik bekend as die Middestad Evangelisasie Sentrum, is gou besef hierdie ‘uitreik’ sal baie meer moet insluit as net die uitdeel van ’n warm koppie sop. “Ons sopkombuise het ver­ander in Sentrums van Hoop. By die sentrums word daar wel maaltye gegee, maar daar word ook omgesien na ander fisiese en geestelike behoeftes. By die sentrums het ons maatskaplike werkers wat saam met elke persoon wat kom ’n evaluering kan doen sodat daar vir elk­een ’n persoonlike ontwikkelingsplan uitgewerk kan word,” sê Pienaar.

“Ons wil nie mense institusionaliseer nie, ons wil hê hulle moet ’n onafhanklike lewe kan lei. Die Sentrums van Hoop (ook ‘drop-in centres’ genoem) is gefokus op verhoudingsbou sodat ons mense kan begelei tot by die punt waar hulle gereed is vir die volgende stap,” sê Pienaar.

Lees ook: MES: Dit gaan oor menswaardigheid, nie ‘handouts,’ sê nuwe hoof

Nuwe sentrums van hoop het verlede jaar in Durbanville en Parow te midde van die pandemie tot stand gekom, dank­sy vennootskappe met verskeie rolspelers.

MES se dienslewering sluit ook in die oprig van kleuterskole, naskool- en jeug­sentrums, werkrehabilitasie, twee­de­handse-klere-winkels, groentetuine en vaardigheidsontwikkeling. Die orga­ni­sasie het takke in Hillbrow, Kemptonpark, Gqeberha (Port Elizabeth) en Kaap­stad se noordelike voorstede Bellville, Durbanville en Parow.

Die verskillende programme bied ook geleenthede waar die publiek vrywillige werk kan kom doen deur te bedien, te luister en te versorg.

Digitale vaardighede is vandag feitlik onmisbaar. MES beplan dus ’n inisiatief genaamd IT Pathway om kinders rekenaarvaardighede te leer. Verdere toekomsplanne sluit onder meer in die vind van kreatiewe oplossings vir werkloosheid en die behuisingstekort; uit te brei op hulle geakkrediteerde vaardigheidsprogramme en om die agterstand in ontwikkeling by voorskoolse kinders te verminder; innoverende oplossings te vind vir families om bymekaar te bly, om maar ’n paar te noem.

Word 'n vriend van Kerkbode