Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die vrygewige God

Die liefde vir geld en besittings het in soveel opsigte van ons hê-mense gemaak. Gelukkig is daar nog miljoene der miljoene met oop hande.

As Paulus in 2 Korintiërs 9:9 die gemeente in Masedonië aanmoedig om hulle dankoffer gereed te kry vir die arm gemeente in Jerusalem hou hy vir hulle ’n spieëlbeeld van God voor: “Hy deel uit en gee aan die armes; Hy bly altyd vrygewig.”

Nog van hierdie fotorubriek

Hy is inderdaad ’n vrygewige God. Hy het sy enigste Seun, sy kosbaarste, aan ’n kruishout vir ons gegee! Hy gee ons die aarde, lig, suurstof, lewe en gesondheid. Alles wat ons nodig het. God saai nie sy genade en goedheid spaarsamig nie, maar oorvloedig. Hy is ’n oophand God. Hy hou niks van ons terug wat in ons belang is nie (Rom 8:32). Hy het arm geword, skryf Paulus, sodat ons ryk kan word in genade! Hy gee ons lewe in oorvloed (Joh 10:10).

Iemand het geskryf: “God deel nie sy goedheid met ’n oogdruppertjie uit nie, maar met ’n brandkraan; nie met ’n teekoppie nie, maar met die wye oseaan. Jy kan dit nie bedwing nie.”

Hierdie milddadige, vrygewige Gewer maak van ons oophand mense, vrygewiges wat uitdeel in plaas van opgaar.

Word 'n vriend van Kerkbode