#slypskool2021: Jong predikante wys hulle raak ook maar sat vir skerms

Dit is lank nie meer slegs bekende predikers soos Joel Osteen, TD Jakes en Joyce Meyer na wie daar Sondae op die TV-, rekenaar- of sel­foonskerm gekyk kan word nie. Met die noodgedwonge skuif na digitale aanbiddingsopsies te midde van ­Covid-19 sal lidmate heel waarskynlik ook nou hulle plaaslike predikant daar te siene kry. Tegnologie het ook in hierdie beroep ’n noodsaaklike koppelvlak met die wêreld geword. Maar “skerm­voosheid”, oftewel fisieke en emosionele uitputting weens langdurige blootstelling aan rekenaar- en slimfoonskerms, is ’n werklikheid onder jong predikante in die NG Kerk.

LEES OOK: #slypskool2021: Taakspan sit data neer voor storievertellers

Ongeveer 60% van predikante is dit eens dat tegnologie beslis die gemeente waar hulle werksaam is, gehelp het om sinvol voort te gaan met veral erediens­te tydens die inperking. So het die Algemene Sinode se Taakspan Navorsing in Mei 2020 bevind. Teen Oktober 2020 sê predikante in ’n opvolgpeiling egter dat hulle “skermvoos” is. Meer as 45% van hierdie predikante is in hulle 30’s en jonger. Ja, jy het reg gehoor!

Digitale bediening blyk dus nie net ’n uitdaging te wees vir daardie tiener wie se data alewig op is en die oom en tannie wat, soos my ma dit sagkens stel “tegnologies uitgedaag” is nie. Dalk het jy ook al iemand iets in dié lyn hoor sê: “Die jong klomp is mos met die goeters (met verwysing na enige tegnologiese toestel) in die hand gebore.” Hoe is dit dan dat “skermvoosheid” juis onder die jonger geslag predikers in die NG Kerk voorkom? Kerkbode het ondersoek ingestel.

LEES OOK: #slypskool2021: Pandemie verbreek kerk se selfisolasie

“Die aanname dat jonger persone vanselfsprekend oor tegnologiese vaardighede beskik, kan beslis hiertoe bydra, aangesien daar die verwag­ting is dat die jong leraar verantwoordelikheid sal neem vir die digi­tale bediening of dat opnames, redigering, die instandhou­ding van sosialemediaplatforms, ensomeer, uiteindelik op hom of haar neerkom,” sê ds Van der Merwe van Toringkerk in die Paarl.

Ds Koch van die NG Gemeente Eros in Namibië, stem heelhartig hiermee saam en voeg ook by: “Die redigering van video’s verg baie ‘skermtyd’, veral wanneer jy nog onbekend is met ’n nuwe program. Namate jy die verskillende funksies daarvan leer ken, vergemaklik dit egter die proses.”

Beide Van der Merwe en Koch is van mening dat digitale bediening ’n spanbenadering tussen kollegas van verskillende ouderdomme, asook predikante en gemeentelede, vra. Hulle is dit eens dat digitale bediening ook vir jonger persone ’n leerkurwe is.

LEES OOK: #slypskool2021: ‘Die olifant in die kamer’ is nie só groot

“Dit is moeilik om die verwydering tussen die wêreld ‘agter die skerm’ en dit wat ‘voor die skerm’ in die gemeente gebeur, te navigeer,” sê ds Rikus Botha van die NG Kerk PE Noord. “Die aantal ‘kyke’ van ’n video kan misleidend wees. Dit is nie ’n doeltreffende maatstaf om te bepaal of lidmate wel bereik word en betrokke is by gemeente-aktiwiteite wat aanlyn aangebied word nie, aangesien dit tot enigiemand se beskikking is op platforms soos YouTube en Facebook. Die werklikheid is ook dat daar baie lidmate is wat nie toegang tot Wifi, data en digitale platforms het nie of nie toegerus is om dit te gebruik nie.”

Ondanks iets van ’n groei­ende tegnologievermoeidheid het respondente ook aangedui dat hulle ná die inperking met digitale bediening sal wil voortgaan in die vorm van veral video’s (eredienste en oordenkings) en WhatsApp-boodskappe. Dit laat ’n mens tog wonder oor die volhoubaarheid van hierdie bedie­ningsvorm in­dien sommige predikante na enkele maande reeds voos is …

LEES OOK: #slypskool2021: Bestaan die NG Kerk nog oor 20 jaar? Data wys: ‘Ja, maar …’

Miskien kan predikante baat vind daarby om te ondersoek hoe hulle skerm­voosheid kan voorkom of daar­van kan herstel. Hier is ’n paar wenke:

  1. Onthou jy is in die eerste plek ’n predikant, nie ’n videograaf, grafiese ontwerper of televisie-aanbieder van beroep nie. Jou primêre verantwoordelikheid is om die Woord van die Here op ’n relevante en verstaanbare wyse te verkondig. Gebruik meer van jou energie en tyd vir die teologiese, eerder as die tegniese deel van digitale bediening. Wees ook geduldig met jouself. Lag vir jou “bloopers”. En geniet die leerproses saam met God.
  2. Moenie mismoedig raak as jou pla­sings min reaksie of “views” kry nie. Luis­ter na opbouende kritiek en maak aanpassings. Die verantwoordelikheid lê egter nie net by jou nie, maar ook by lidmate. Neem ook in ag: As jy skerm­voos is, is lidmate heel waarskynlik ook.
  3. Vra vir hulp. Daar is dalk kundige mense op die gebied van tegnologie en/of videografie, of ’n persoon wat vinnig leer, wat graag op hierdie manier diensbaar wil wees.
  4. Ruim genoeg tyd in vir rus, WEG van enige skerm! Spandeer tyd in die natuur, gaan stap, ry fiets, hou piekniek, sit net buite met ’n koppie koffie en geniet die dinge wat nie op ’n skerm vasgevang kan word nie, soos vars lug, die snoesige middagsonnetjie, ’n sonsondergang … om in die oë van iemand vir wie jy lief is te kyk.
  • Ds Thania Botha is leraar by die NG Gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.

Hierdie artikel is gelewer as deel van ’n Slypskool vir skrywers wat van 1-3 Junie 2021 in samewerking met Kerkbode op Wellington aangebied is.

Word 'n vriend van Kerkbode