Die koninkryk vanaf koloniale kansels

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Om met eerstejaar tokkelokke oor prediking te gesels, is soos om vir tieners ’n lesing oor die belang van ’n pensioenfonds te gee. Preek is nog nie op hulle radar nie. Wanneer jy met finalejaar tokkelokke oor dieselfde tema gesels, het jy hulle aandag. Hulle het al gepreek, daaroor gedink, het dus vrae en doen hulle naam gestand deur “talk-a-lots” te wees.

LEES OOK: En die dood is mooi

Onlangs was ons ’n klein paneel uit die bediening en akademie wat met hulle gesels. Die gesprek vloei. ’n Stil student agter in die klas steek sy hand op. Hy verwys na die groot NG kerkgeboue wat oor die land versprei staan. Wanneer hy na ons kerkgeboue en die kansels kyk, sien hy nie wat NG lidmate en toeriste sien nie – Carl Otto Hager, Gerard Moerdijk, Anton Anreith en ’n besondere Suid-Afrikaans Gereformeerde estetika. Nee, hy sien Van Riebeeck, Malan, Verwoerd en kansels as simbole van kolonialisme, slawerny en apartheid.

Dit is ’n goeie gesprek. Eerlik. Ons probeer mekaar help.

Maar wat het sy siening van NG kerke en kansels met prediking te make? In ons dag alles.

Wat presies is sy vraag? Dít: Is dit werklik moontlik om die koninkryk van God vanaf koloniale kansels te verkondig? Met ander woorde, hoe klink dit dat ek my allereers beywer vir die koninkryk van God wanneer ek op so ’n kansel staan? Die woorde op die kanseldoek lui: “So spreek die Here”, maar dit is ’n aandadige kansel. Nie net histories aandadig nie; postkoloniale teorie wys juis daarop dat kolonialisme en die gepaardgaande onderdrukking nie oor is nie, maar in verskeie vorme in ons samelewing gedy. En, belangrik, predikers (soos die skrywer van hierdie rubriek) is rolspelers in die samelewing wat die status quo soms met woorde dien: hoogmoediges bemoedig; maghebbers op hulle trone hou; geringes nie verhoog nie; behoeftiges met leë hande wegstuur en rykes oorlaai.

LEES OOK: Daardie paar bladsye wat min mense lees

Wat moet ons die student antwoord? ’n Mens sou ten minste drie scenario’s kon verken. Opsie 1 – ignoreer die vraag, druk my homiletiese kop in die sand en gaan aan met business as usual. Opsie 2 – hou veilings, verkoop, pak op, sluit die geboue. Opsie 3 – neem die student ernstig op en dekoloniseer NG kansels.

Volgens Sarah Travis beteken postkoloniale prediking dat ons die wêreld vanaf die kansel moet benoem soos dit is, en soos dit mag word. Dit klink eenvoudig; dit is nie.

Dit vra dat ek onderstebo teen die plafon van my studeerkamer gaan sit wanneer ek my preek skryf, want ek moet op alle vlakke die wêreld om my anders begin beleef. Ek moet dus uit my pad gaan om nie altyd net wat reeds is, te bevestig en te beaam nie. Dit beteken die wêreld wat benoem moet word soos dit is, is nie noodwendig my (bevoorregte) wêreld nie. Ek gaan daarom moet moeite doen om uit te vind presies wat daardie wêreld dan nou behels – wie word gewoonlik gehoor, wie nie; waarom, waarom nie?

En om die wêreld te benoem soos dit mag wees, dit is om God se droom vanaf die kansel te droom. Daardie droom is nie noodwendig my en die mense wat voor my sit se droom nie, my preek mag selfs vir my en hulle soos slegte nuus klink. Hoe doen ek dit dan? Ek vermoed dit begin by hoe ek my konteks en die Bybel lees, nie net vanuit my dominante en redelik magtige perspektief nie. Die preek wat daaruit voortvloei, sal noodwendig woorde wees wat ’n totaal ander wêreld skep.

Wanneer predikers begin om die wêreld só te benoem en te verbeel, verander die student se vraag of dit moontlik is om vanaf ons koloniale kansels te preek, na ’n dringende opdrag om dit te doen. En juis vanaf sulke kansels die sin: “Die koninkryk van God is soos …” te voltooi.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode