LESERSBYDRAE: Huldeblyk aan ds Maans Steyn (1938 – 1990)

Kerkbode bied ’n diens waar lesers doodsberigte of huldeblyke kan aanbied vir publikasie op ons In Memoriam-blad

Lees hier meer.


Hy was my besonderse broer! Hy was iemand in wie se spoor almal met trots kan loop, skryf Fanie Steyn. 

Gebore op die plaas Watervalsrivier, noord van Lydenburg, het Maans as klein seuntjie op die plaas Tipperary naby Bergville as knap skut sy passie vir die natuur en jag begin toon. In Hoërskool Voortrekker op Pietermaritzburg het hy as hoofseun en voorryspeler in die eerste rugbyspan sy besonderse gawes uitgeleef.

Bykomend tot dit wat reeds oor hom geskryf is, deel ek graag meer oor sy persoonlikheid vanuit ’n gesinsperspektief. Hy was ’n familieman duisend. By ons ouers het hy sy afronding as mens ontvang sodat hy as oudste van drie kinders met onderskeiding voor kon loop. Sy pad deur Sonop Christelike Tehuis en die Universiteit van Pretoria het hom voorberei vir sy taak as voorloper in die geloof.

Hy was ’n mense-mens en bosmens soos min! Ons twee het lang ure by rooi bosvuurtjies deurgebring met vleisbraai en gesels oor teologie. En natuurlik, ook die volgende dag se jagtog haarfyn beplan! Behalwe dat hy ’n baie goeie skut was, was hy so sterk soos ’n bees. Hy kon sommerso ’n rooibok manalleen op ’n bakkie laai!

Saam het ons Europese gemeentes besoek waar hy die geloof op sy unieke manier verwoord het. Beide van ons het die toekoms met hoop, maar ook met kommer, bedink – veral die teologie, die kerk, die land, die politiek, gesinne en verhoudinge.

Toe hy met breinkanker gediagnoseer is, het hy riskante behandeling geweier en gesê hy wil die laaste maande wat hom geleen word, saam met sy geliefde familie en vriende spandeer. Gelukkig het die verwagte twee maande toe agt maande geword en ons kon nog ’n keer saam in die bos om die kampvuur kuier en sy laaste jag beleef.

Om saam met Maans op sinodes te wees, was net ’n voorreg. Hy was ’n denker, ’n dader, ’n voorbeeld, ’n leier en ’n ‘Doom’ soos min! Ons het ter voorbereiding van sy afsterwe besin oor die finaliteit van die dood en die Godgegewe lewe. Saam het ons sy laaste ure beplan. Saam voorberei vir die laaste asemteug.

Maans was ’n ware voorloper – πρόδρομος in Grieks. Vir my. Vir ons. Vir die kerk. Vir almal. Mý broer, maar ook almal se broeder.

  • Ds Fanie Steyn is ds Maans Steyn se broer.

Ds Maans Steyn (24 April 1938 – 2 Maart 1990) 

In die vroeë oggendure van Vrydag, 2 Maart 1990, is een van die bekendste Nederduits Gereformeerde predikante van sy geslag, ds Maans Steyn, oorlede, skryf Willem van Niekerk. Sy sterfte volg ongeveer agt maande na hy in Mei 1989 gediagnoseer is met breinkanker.

Ds Maans se lewe en sy belewenis van sy siekte was vir almal wat met hom in aanraking was, ’n besondere ervaring. Die geloof en aanvaarding wat van hom en sy gesin uitgestraal het, was ’n inspirasie en bemoediging vir almal.

Maans is op 24 April 1938 in Lydenburg gebore, en ná matriek aan die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg, waar hy ook hoofseun was, skryf hy in 1957 by die Universiteit van Pretoria (UP) in vir Teologiese studies.

Tydens sy studenteloopbaan beklee hy talle verantwoordelike posisies. Hy was op die bestuur van die Afrikaanse Studentebond en dien meer as een termyn op die huiskomitee van Sonop Christelike Tehuis waar hy in sy laaste termyn as Primarius verkies word. Op sportgebied presteer hy deur vir Tukkies se o.19A-rugbyspan te speel, en daarna vir vier jaar in die UP se eerste span.

In 1963 val die besondere eer hom te beurt om as kaptein van sy universiteit se eerste span op te tree, en terselfdertyd speel hy ook daardie jaar vir Noord-Transvaal, onder andere teen die toerspan uit Australië.

In 1964 begin hy sy bediening in Marble Hall waar hy meer as sewe jaar gewerk het. 

In 1972 word hy studenteleraar aan sy ou alma mater, UP. Geslagte studente uit daardie jare van sy bediening praat nog met groot deernis van “oom Maans” en die groot invloed wat hy op hulle lewens gehad het. Die pastorie was ’n rustige hawe vir baie onstuimige studentegemoedere. Sy wysheid en rustige kalmte het menige student tot dieper insig oor homself gebring. Sy betrokkenheid by die studentelewe was tot bykans aan die einde van sy lewe vir hom ’n saak van groot vreugde. Hy het op die Sonopraad gedien en was ’n ywerige lid van die bestuur van die Bond van Oud-Sonoppers, ’n organisasie wat vir hom besonder baie beteken het.

In Augustus 1978 trek hy en sy gesin na Parys, Frankryk, waar hy vir die volgende drie jaar die bediening van Suid-Afrikaners in die Verenigde Koninkryk, Europa en die Midde-Ooste sou behartig. Hierdie veeleisende pos het hy met groot onderskeiding vervul. Hul talle vriende vanuit die departement buitelandse sake kan getuig van die inslag wat sy bediening sowel as sy innemende en liefdevolle geaardheid gehad het.

In 1984 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het die pos as kapelaan van die Leërkollege en medeleraar van Voortrekkerhoogte-Wes, aanvaar. Talle senior offisiere kan getuig van die vormende invloed wat sy bediening op hulle lewens gehad het toe hulle op bevorderingskursusse by die kollege was. Aan die einde van 1988 het hy die pos van koördineerder van die kapelaansdiens, vir die konvensionele magte by die Leër HK aanvaar, ’n pos wat hy tot sy aftrede beklee het. Ds Maans het ook vir jare, nadat hy uit die buiteland teruggekeer het, opgetree as koördineerder van die kapelaansbediening in Suid-Amerika, die VSA en Kanada sowel as die Verre Ooste.

Op ver paaie het hy geloop, en met eer en waardigheid het hy sy taak voltooi. Sy bediening het gestrek tot die dag van sy afsterwe, al was die laaste maande daarvan informeel en spontaan. Sy lewe was ’n boodskap van God, tot aan die einde. Sy dinamiese persoonlikheid en innemende geaardheid het van hom ’n man uit duisend gemaak.

  • Willem van Niekerk is ’n oud-klasmaat en boesemvriend oor 33 jaar van ds Maans Steyn.