PEILING: Hoe raak Vlak 3 jou gemeente?

Die land is onlangs met onmiddellike effek op aangepaste Vlak 3-inperkings geplaas en dit blyk vele gemeentes oorweeg om eers die kerkdeure weer te sluit en met aanlyndienste voort te gaan.

“Ons raak bietjie senuweeagtig wanneer ons die volgende vier woorde hoor: ‘My fellow South Africans…’ Na ons President se familie-byeenkoms Dinsdagaand moet ons ook sê: My medegelowiges, ongelukkig gaan daar nie dienste binne die kerk gehou word op die stadium nie.” – Bron: Helderberg-gemeente se Facebookblad

Die aankondiging deur president Cyril Ramaphosa volg ná bekendgemaak is Suid-Afrika gaan amptelik gebuk onder ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies.

Vir kerke beteken dit dat alle sosiale byeenkomste van enige aard beperk word tot 50 mense binnenshuis (50% van die kapasiteit van die lokaal mag nie oorskry word nie) en 100 mense in die buitelug. Dit geld vir eredienste, sowel as troues en begrafnisse. Gesigmaskers en die handhaaf van 1,5 m sosiale afstand is verpligtend.

In die peiling hieronder wil ons graag hoor hoe die gemeente waarby jy inskakel op die nuwe perke reageer.

Begrafnisse: ’n Maksimum van 50 mense mag ’n begrafnis of verassing bywoon mits die perseel kapasiteit bied dat die voorgeskrewe sosiale afstand van 1,5 m gehandhaaf kan word. Die perseel mag nie meer as 50% gevul word nie. Geen sosiale byeenkomste ingesluit nagwake, ‘after-tears’ of teedrinkgeleenthede mag gehou word nie. Die diens by die begrafnis of verassing mag nie langer as twee ure duur nie.

Die aandkloktye is aangepas dat almal nou 22:00 tot 04:00 tuis moet wees. Dit beteken enige byeenkoms saans moet om 21:00 eindig ten einde personeel en gaste kans te gee om teen 22:00 tuis te wees.

Die dra van maskers in enige openbare ruimte is verpligtend.

Vir meer inligting, sien die nuutste wysigings in die Staatskoerant hier.

Word 'n vriend van Kerkbode