Lindenpark se pad na ’n ‘nuwe manier van wees’

NG gemeente Lindenpark se kerkgebou is verkoop. Hulle leraar, ds Christo Naudé, vertel aan Heléne Meissenheimer hoe hulle tot dié besef gekom het dat hoewel pynlik dit die regte skuif is.

“Daar is baie hartseer by sommige … van ons lidmate is hier van die begin af … maar realiteit is ook deel van ’n mens se menswees. Covid het vir ons kom sê jy kan nie vashou aan iets nostalgies nie,” begin Naudé, leraar van Lindenpark vir die laaste 12 jaar.

Toe ds DPM Beukes die hoeksteen vir die kerkgebou op Centrallaan 16 in 1963 gelê het, was daar baie Afrikaanssprekende gesinne in Linden, ’n noordwestelike voorstad van Johannesburg. Elke 2 km is daar ’n Afrikaanse kerk gebou en daar was ’n uitsluitlik Afrikaanse hoërskool.

Die Linden van vandag sien daar baie anders uit. SA-venues.com beskryf dit as die stad se ‘best kept secret’ met mooi huise, restaurante, kunsgalerye en art deco-winkels.

Soos die gebied meer kosmopolities geword en al meer Afrikaanse gesinne uitgetrek het, het die lidmaattal (en inkomste) van Lindenpark-gemeente ongelukkig ook gekrimp. Dié wat oorgebly het was ouerwordend en/of het ver gebly. Daar was ook nie ’n VGK naby om mee te herenig nie.

“Ons het al van 2016 af met hierdie ding geworstel,” sê Naudé. Lidmate het nie, en kon nie meer bydra tot die finansiële posisie van die gemeente nie. Teen April verlede jaar, na alle kerkbyeenkomste stopgesit is tydens die grendeltyd, was die kerk in ’n finansiële krisis.

Ná ’n beroep op die gemeente, het daar met ’n deurry-kafee meer as R80 000 ingekom wat tydelike verligting gebring het, maar dit was nie standhoudend nie. Eredienste, nadat kerke weer kon heropen, is swak bygewoon en min kollektegeld is ingesamel. Teen September is die gemeente by ’n gemeentevergadering ingelig die kerk se finansies is benard.

“Die voorstel op die tafel was toe dat ons die kerkgebou op die mark bring, om te sien watter aanbiedinge ons kon bekom. Die kerkraad sou dan die hoogste aanbod oorweeg en, indien dit aanvaarbaar sou wees, dit aanvaar,” luidens ’n gesamentlike verklaring vanaf Naudé en die kerkraad.

Die hoogste aanbod uit drie aanbiedinge is in Desember aanvaar. Netwerk24 het berig die ontwikkelaar Renico het bevestig hy het die gebou gekoop met die oog daarop om in 2022 te sloop vir die oprig van deeltitel-behuising.

“Tydens die reis van die besluit om die geboue te verkoop tot die finale besluit om die aanbod te aanvaar, moes die kerkraad deurentyd hulle vergewis van die teologiese gronde hiervoor. Ons moes die hele tempel-teologie, waar God die tempel betrek en heilig, wat voortvloei uit die tabernakel-teologie in die woestyn saam met Moses en die volk Israel, dekonstrueer aan die hand van die koninkryk van God wat groter is as die tempel.

“Die dekonstruksie van die kerkgebou as huis van die Here het ons gelei na die koninkryk van God wat baie groter as die kerkgebou is. Met die koninkryk van God het ons ook die missionale gedagte dat die kerk nie noodwendig mense innooi nie, maar by voorkeur, uitgaan na die mens op die markplein, begin ondersoek,” verduidelik Naudé.

In Februarie is ’n 40 dae-fokus gehou wat die missionale roeping van die gemeente bevestig het.

“Ons het tot die slotsom gekom na baie gebed en bestudering van die Bybel – dat Lindenpark se fondse (moet) vloei na nood en die kerkgebou is staties. Die fondse gaan uit en die kerkgebou nooi om in te kom,” sê Naudé.

Daar is na twee missionaalgerigte gemeentes uitgereik – ’n versoek waarop Fontainebleau-gemeenskapskerk, ’n gemeente met ongeveer 1 000 lidmate, gou positief geantwoord het.

“Ons het na Fontainebleau-gemeente gekyk, want hulle bied reeds die uitgaan na die markplein as deel van hulle bediening aan … Dit was vir ons een van die belangrikste sake waaroor ons moes besluit, naamlik dat ons onder geen omstandighede net aangaan soos ons gewoond was dat die gemeente kerk ‘doen’ nie. Ons moes uitgedaag word om buite die gewone te gaan bedien. Die dissipel van Jesus gaan … nooi nie ‘kom’ nie,” verduidelik Naudé.

Fontainebleau is ’n vennoot van Betereinders, die nasiebou-organisasie sonder winsbejag wat uit hulle gemeente ontstaan het en spesifiek Afrikaanse mense help ten opsigte van rekonsiliasie en restitusie met projekte wat enigiets insluit van gate in paaie vul tot sokkerwedstryde in townships.

“Ons deel ook in Lindenpark se hartseer oor die verlies en stap ’n pastorale proses met hulle leierskap,” antwoord ds Tom Smith en De Villiers (Fielies) van der Merwe, voorsitter van die kerkraad, per e-pos.

“Dit is ’n onseker pad, maar in geloof stap ons die pad en kom agter soos wat ons stap word die pad vir ons gebou, waarop ons moet loop. Soos wanneer jy in die moderne mall instap en die deur toe is, maar wanneer jy jouself daartoe verbind om in te stap, skuif die deur oop en jy kan deurgaan, nie voor die tyd nie,” sluit Naudé af, self nog onseker wat hierna die volgende stap op sy eie lewenspad is, want as Lindenpark ophou bestaan as gemeente kom sy pad met hulle op ’n end.

Die twee gemeentes hou reeds saam eredienste en Lindenpark se Sondagskool het al by Fontainebleau s’n ingeskakel. In Junie het Fontainebleau se kerkraad eenparig Lindenpark-gemeente se versoek om eenwording aanvaar. Die sinodale kantoor staan ook die twee gemeentes in hierdie proses by.

Dit blyk dat Lindenpark/Fontainbleau se proses ’n uitsondering kan wees. Navorsing wat einde verlede jaar deur die Taakspan Navorsing gedoen is, dui daarop dat hoewel die inkomste gedaal het by byna ’n derde van die gemeentes wat aan die peiling deelgeneem het, die meeste predikante (90%) meen hulle gemeentes behoort die pandemie te kan oorleef. Volgens dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die algemene sinodale moderamen, dui terugvoering van die verskillende sinodes daarop dat die samesmelting van gemeentes nie ’n tendens is wat met die pandemie vereenselwig kan word nie. Samesmeltings tussen gemeentes wat plaasgevind het, is pre-covid.

Word 'n vriend van Kerkbode