VERSOENING: ‘Gee amnestie vir diegene wat gesteelde goedere wil terugbesorg’ – SARK

Kerkleiers het by pres Cyril Ramaphosa gepleit vir amnestie aan diegene wat winkels geplunder het om hulle die geleentheid te gee om gesteelde goedere terug te besorg en in te handig by polisiekantore sonder om vervolg te word.

“Ons het die voorstel gemaak, ons weet nie hoe ver dit sal gaan nie,” het biskop Malusi Mpumlwana Donderdag by ’n perskonferensie gesê oor die stap wat hy vroeër die week namens die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) tydens ’n ontmoeting met Ramaphosa geneem het.

Dit is een van ’n aantal voorstelle wat gemaak is terwyl winkelsentrums “uitgehol” word en Suid-Afrikaners in die “flarde van hoop” staan, het Mpumlwana gesê.

LEES OOK: ‘Ons is OK, want ons is nie alleen nie’

Die SARK se lidkerke, waaronder die NG Kerk tel, vra ook vir die skep van ’n “restourasiefonds” om diegene wat hulle besighede tydens die plundery verloor het te help.

Mpumlwana het voorgestel dat geld daarvoor bewillig moet word vanuit fondse wat vanuit staatskaping herwin is – vanuit die “original sin” soos hy na laasgenoemde verwys het.

Mpumlwana en ander kerkleiers het vroeër die dag gaan bid by die winkelsentrum in Meadowlands, Soweto waar 11 mense vandeesweek dood is in ’n stormloop. Die sekretaris-generaal van die SARK het nie vanuit die hoogte met die pers gepraat tydens die inligtingsessie wat via Zoom gehou is nie. “Ons weet dat baie van die mense (wat by die plundery betrokke was) inderwaarheid in ons gemeentes is … ons is deel van die probleem.”

Oor die amnestievoorstel het Mpumlwana bygevoeg: “Ons verwag nie groot inkoop nie, maar hoop daar is genoeg gewete (vir dit om te werk). Dit is ’n voorstel vir ’n versoeningsveldtog.”

LEES OOK: ‘Kerk moet nou vredemaker wees’

Ander geloofsleiers het tydens die uurlange perskonferensie Mpumlwana se oproep vir samewerking beaam en die NG Kerk is deurgaans betrokke, ook by die Nasionale Kerkleiersforum (NCLF), bestaande uit 42 kerkleiers van oor die hele land, wat op 13 Junie aanlyn vergader het, volgens dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. Claassen benadruk dat kerke ook gebed moet bevorder onder die tema van “Vrede en Hoop”. ’n Intergeloof gebedsgeleentheid word vir komende Sondag 18 Julie beplan. Voorstelle is gemaak dat gemeentes op sekere tye van die dag hulle kerkklokke, byvoorbeeld 12:00 daagliks, lui en lidmate oproep tot gebed, verduidelik Claassen.

Nog ’n versoek onder sommige was om kerke toe te laat om godsdienstige byeenkomste te mag reël, aldus Claassen. En hoewel Vlak 4 se riglyne rondom eredienste steeds geld, is daar wysigings in die Staatskoerant gepubliseer wat onder andere godsdienstige leiers groter speling gee om noodvergaderings te bedryf. Dit lui: “(The amendment) will only apply to gatherings and community engagements, hosted by members of Parliament, members of Provincial Legislatures, councillors, leaders of political parties, religious leaders and traditional leaders to deal with emergency matters that impact on the management, treatment, and prevention of the Covid-19 pandemic. These gatherings are permitted subject to strict adherence to all health protocols and social distancing protocols. Such gatherings are limited to 50 people and if the relevant space is too small to hold the prescribed number of persons observing a distance of at least 1.5 metres from each other, then not more than 50% of the capacity of the venue may be used,” luidens ’n aankondiging wat op 14 Julie gepubliseer is.  

Mpumlwana was nugter oor die uitdagings wat voorlê: “Vele redelike mense het gesê: ‘Hierdie is nie wie ons is nie.’ Maar ek dink die werklikheid is … dit ís ons. Dit is die Suid-Afrika wat ons tans het. Maar dit kan verander word. As ons hiervoor ons alles gee. Die restourasieveldtog het reeds begin, met baie heldedade deur gemeenskapsleiers wat teen plundery mobiliseer en infrastruktuur beskerm,” meen Mpumlwana. “Vrywilligers meld aan vir opruimaksies, wat opsigself ’n helende oefening is.”

Word 'n vriend van Kerkbode