Gemeente in Noordwes bedien gemeenskap met 13 suurstofmasjiene

Van gebedsaande op Facebook en uitsaai-roudienste tot die uitleen van suurstofmasjiene om mense aan die lewe te hou. Dit is ’n hele nuwe bediening, vertel ’n leraarspan in Noordwes aan Heléne Meissenheimer.

Die derde vlaag van die Covid-pandemie het private en openbare mediese geriewe in Gauteng hard geslaan. Op plekke moes pasiënte met asemnood tot drie dae wag om ’n hospitaalbed te kry.

Ook op Rustenburg in Noordwes het al meer mense ernstig siek geword. Die twee leraars van die plaaslike NG gemeente Proteapark moes weekliks tussen hulle twee tot vier begrafnisse weens Covid hanteer.

LEES OOK: ‘Dis anders om digitaal te rou,’ sê leraars

“Die gedagte het by ons opgekom dat dit goed sal wees as die kerk oor ’n suurstofmasjien (in Engels ‘concentrator’) beskik vir lidmate met Covid wat asemnood ontwikkel,” vertel ds Deon Strauss, een van die leraars by die gemeente. Die masjien help om die pasiënt se suurstofvlak te verbeter.

Hulle oorspronklike plan was om drie masjiene (teen ’n waarde van R17 000 elk) aan te koop en beskikbaar te stel, maar die idee is so entoesiasties in die gemeenskap ontvang dat hulle teen 15 Julie nog tien masjiene bygekry het. Die hele gemeenskap van Rustenburg word hiermee bedien.

“Ons is oorweldig deur ons gemeente se groot harte. Dankie vir elkeen wat ’n bydrae gelewer het gedurende hierdie tyd. Ons gemeente se leuse is: ‘Water wat lewe gee’, maar nou kan ons sê dat die water verander het in suurstof. Ons is baie opgewonde om ons gemeenskap op hierdie manier te kan bedien,” sê Strauss.

Sedertdien hou die fone nie op met lui nie. Soos die masjiene terugkom, word hulle weer uitgeleen. Almal is heeltyd in gebruik.

“Dit is ’n hele nuwe bediening saam met die aanlyn gebedsaande op Facebook, die uitsaai-roudienste en nou ook die uitleen van suurstofmasjiene,” sê Strauss.

LEES OOK: Vredendal: Verslaenheid ná Covid dorp tref

Sy medeleraar, ds Willem Pretorius, sluit af met: “Hoe donkerder die wêreld is, hoe helderder sal die lig van die kerk en die kruis skyn. Hierdie masjiene doen júis dit: Lig is suurstof in ’n persoon se duistere asemnood.”

Die masjiene word slegs uitgeleen op mediese aanbeveling en NG Proteapark neem geen verantwoordelikheid vir die gebruik en die resultate daarvan nie. Daar is nie onkoste verbonde aan die leen van die masjiene nie, maar donasies is welkom.

Om meer uit te vind oor die uitleen van die masjiene kan NG Proteapark se kerkkantoor by 014 533 4028 (tussen 08:00 en 13:00) gekontak word. Alternatiewelik kan die volgende persone gekontak word: Ds Deon Strauss 083 627 5085, ds Willem Pretorius 073 529 6075, Hennie de Kock 083 417 4460 en Jaco de Wet 082 920 8201.

Word 'n vriend van Kerkbode