Kom ons lees, bid en sing die Psalms in ’n tyd soos hierdie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Covid-pandemie se effek op ons word al meer gevoel. Ons begin agterkom dat die siekte en die dood van geliefdes, vriende, kollegas ons diep raak. Dit is ontstellend om op ’n byna daaglikse basis te verneem van nog iemand wat ons ken wat getref is deur die virus. Gekombineer met die Covid-pandemie word Suid-Afrika getref deur ernstige onrus wat prakties neerkom op anargie. Ons het nodig om in ons geloof versterk te word. Die Psalms help ons. Die Psalms tel onder van die mees gelese gedeeltes van die Bybel. Die Psalms is ook die Ou-Testamentiese boek wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word.

Martin Luther het die Psalms die “Kleine Bibel” genoem. Psalm 46 het gedien as inspirasie vir sy bekende hervormingslied “Ein feste Burg ist unser Gott” en word vandag nog gesing in kerke van gereformeerde tradisie – in Afrikaans bekend as Lied 476. In die groot keerpunte van sy lewe was dit telkens die Psalms wat hom bemoedig het.

LEES OOK: Die Psalms: Oor sielenood, siekte en lofprysing

Johannes Calvyn het die Psalms die “anatomie van elke deel van die siel” genoem omdat daar nie ’n emosie is waarvan die mens bewus is wat nie in die Psalms weerspieël word nie. Calvyn was ook verantwoordelik vir ’n omvangryke kommentaar op die Psalms waarin hy eksegetiese en taalkundige opmerkings kombineer met praktiese uitleg. Nog ’n faktor wat die Psalms gewild gemaak het was die feit dat die Psalms veral as gevolg van die invloed van Luther en Calvyn gesing is.

Die verband tussen Jesus en die Psalms is ook interessant. Navorsing toon hoedat daar ’n onweerlegbare verband tussen die Ons Vader-gebed van Jesus en Psalm 103 bestaan. Die voorkoms van psalms in die lyding van Christus is opvallend. Jesus se woorde “Ek is dors” in Johannes 19:28 is die weerklank van Psalm 22:15-16. Toe die soldate vir hom suurwyn aanbied, vind dit weerklank in Psalm 69:21-22. Jesus se kruiswoord “My God, my God, waarom verlaat U My?” (Matt 27:46) is ’n aanhaling van Psalm 22:1 en wanneer Jesus sê “In u hande gee ek my gees oor” (Luk 23:46) herinner dit aan Psalm 31:6: “In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak.”

Wat is ’n psalm? Dit is nie so maklik om te sê presies wat ’n psalm is nie. ’n Psalm is meer as een ding.

’n Psalm is ’n gedig

Die vorm waarin ’n psalm aangebied word, is poësie. Die psalms is poësie wat ervarings in ’n kompakte (verdigte, let op die woordspel met gedig) vorm uitdruk. ’n Gedig het ’n gevoelvolle stemming wat anders is as by prosa, ’n gedig is bondiger, meer gedronge, vaer as prosa, daar is ’n dimensie in die boodskap van ’n gedig wat ’n mens bly ontglip sodat ’n mens ’n gedig weer en weer kan lees. Dit het waarde om die psalms te lees as poësie. In die digterlike taal van die psalms vind ons dit wat ons dalk moeilik vind om onder woorde te bring – ervarings van ontreddering, ontwrigting, verlies, angs, bekommernis, dood.

’n Psalm is ’n gebed

Psalms is gerig tot God. Psalms is gebede. Die psalm-gebede is waarskynlik hardop in die openbaar uitgespreek. In die gebede vertolk die psalmis sy verhouding met die Here. Dit kan ’n persoonlike gebed wees waarin die Here geloof word vir wat in die indiwidu se lewe gebeur het of dit kan ook ’n klag teenoor die Here wees vir persoonlike lyding en beproewing wat die psalmis verduur. Die psalmis kan ook die groot dade van verlossing wat die Here bewerk het in die geskiedenis van die volk besing of nasionale rampe soos byvoorbeeld die ballingskap betreur.

LEES OOK: Psalm 91: ’n ‘bumper sticker’-psalm?

Die wye spektrum van ekstatiese vreugde tot diepe terneergedruktheid word dus aangetref in die gebede wat gebid word in die psalms. Die psalms bied persoonlike en tegelykertyd ook universele menslike belewenisse wat tussen pole van liefde en haat, veragting en waardering, smart en vreugde, twyfel en sekerheid onder woorde gebring en teenoor God uitgekreet word. Die psalms help ons om te bid in Covid-tyd juis wanneer ons nie altyd weet wat om te bid nie.

’n Psalm is ’n lied

Die woord wat ons ken as “psalms” is ’n Griekse woord wat op ’n term dui van liedere wat begelei word deur ’n snaarinstrument. Die Griekse vertaling van die Ou Testament noem die bundel dan ook “Psalmoi” wat met die benaming in Lukas 24:44 ooreenkom. Dieselfde benaming kom ook voor in die vorm “die boek van die Psalms” in Lukas 20:42 en Handelinge 1:20. Die Hebreeuse naam vir die Psalmbundel is ook ’n term wat met “lofliedere” of “lofgesange” vertaal kan word.

In Afrikaans word die Hebreeuse woord “mizmor” wat in die opskrif van 57 psalms voorkom, ook met “psalm” vertaal. Die woord “mizmor” beteken “lied” wat gewoonlik met snaarinstrumente begelei is. Verdere aanduidings dat die psalms liedere is wat bedoel is om gesing te word, is die verwysings na musiekinstrumente wat in die Psalmboek gevind word: ’n lier (Ps 33:2); harp (Ps 57:8); ’n horing en trompet (Ps 47:5); simbale (Ps 150:4) en ’n drom of tamboeryn (Ps 149:3). In die opskrifte van sommige psalms vind ons ook ’n aanduiding dat die psalms liedere is wat bedoel is om gesing te word. In Psalm 22:1 staan daar byvoorbeeld “… op die wysie van”. Die term “sela” wat in 39 psalms voorkom, is waarskynlik ook ’n musikale term wat ’n pouse (intermezzo) aandui.

Psalms is dus ook bedoel om gesing te word. Daar is aangrypende omdigtings van die Psalms in die Liedboek wat gerus meer gesing kan word saam met medegelowiges. In die saamsing van die geloofstaal van die psalms sit daar ook geloofsversterkende krag. Dit was Luther wat gesê het “die Psalms is die boek vir alle heiliges, vir elkeen, wat sy omstandighede ook mag wees, hy sal vind dat daar in daardie situasie vir hom Psalms en woorde sal wees wat hom sal pas asof hulle daar geplaas is net vir sy besondere omstandighede, sodat hy dit self nie beter kon verwoord nie.

Kom ons lees, bid en sing die Psalms – juis in ’n tyd soos hierdie.

  • Prof SD (Fanie) Snyman is afgetrede dekaan en navorsingsgenoot verbonde aan die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat.
Word 'n vriend van Kerkbode