Van ’n ‘wit kerk’ na ’n kerk met ’n ‘menslike gelaat’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Om te praat oor ras en rassisme kan ongemaklik en selfs verlammend wees, veral vir wit mense, skryf Louis van der Riet.

Die onlangse geweld en onrus in ons land bied ’n uitnodiging vir lidmate van die NG Kerk om opnuut saam te leer oor ras en versoening. Die Versoen Leergemeenskap, ’n beweging wat onlangs deur die Wes-Kaapland Sinode se Taakspan vir Ras en Versoening begin is in samewerking met die Algemene Sinode (AS) se Taakspan vir Versoening en Identiteit, is besig om te leer waarom ons eksplisiet oor ras en witheid moet bly leer.

Hoekom ’n fokus op ras?

Dit word nou wyd erken dat die oorsaak van die onlangse onluste en geweld veel meer as ’n politieke agenda was. Dit het deels uiting gegee aan Suid-Afrikaners se desperaatheid wat nie net deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is nie, maar deur dekades van neerdrukkende ongelykheid, armoede, hongersnood en werkloosheid. Waarom moet ons dan steeds bly fokus op ras?

Hoewel temas soos versoening, sosiale kohesie en kerkeenheid (wat dikwels as die lakmoestoets vir versoening beskryf word) al vir minstens 30 jaar op die agenda van die NG Kerk is, praat ons nie maklik oor hoe ons as Christene deur ons wit, Afrikaanse identiteit gevorm is nie. Ons sien wel dat ras en rassisme deel bly van ons publieke diskoers, en selfs toeneem. Dit is nie net die geval in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Om te praat oor ras en rassisme kan ongemaklik en selfs verlammend wees, veral vir wit mense. Tog kan hierdie stemme wat veral fokus op die pyn en swaarkry wat met ras gepaardgaan vir ons wegwysers wees in ons taak as vredemakers. Ons hoef sulke stemme nie af te wys as rasseverknogtheid wat ons bedreig nie. Dit bied ’n geleentheid tot ’n nuwe, gedeelde menswees.

LEES OOK: Versoening: ’n Nuwe band ná die tou gebreek het

Dit laat ons as wit, Afrikaanse, NG lidmate dalk met die vraag: Wat kan wit Christene dan doen as ons verantwoordelikheid vir hierdie pyn en geskeidenheid wil neem? Wat kan ons doen om vordering te maak met versoening en te beweeg, soos prof Klippies Kritzinger dit al in die 1980’s beskryf het, “van ’n wit kerk na ’n kerk met ’n menslike gelaat”?

Waar staan ons met rasversoening as kerkverband?

’n 2019-opname onder predikante en proponente jonger as veertig wys daarop dat die identiteit van die NG Kerk steeds gekenmerk word deur haar verlede. Al word die roeping en identiteit van die NG Kerk oorwegend as missionaal beskryf, erken respondente dat ons kerkverband gekenmerk word deur ’n (eksklusiewe), etniese identiteit – ’n kerk vir wit, Afrikaanse mense.

Daar is wel hoop, maar ook heelwat werk wat vir my generasie voorlê. Respondente het versoening as ’n kernroeping en -prioriteit van die NG Kerk gelys, tog wys dr Cobus van Wyngaard (by die AS se Taakspan Navorsing) in sy verhelderende ontleding van die data vir ons op ’n belangrike spanning tussen hierdie roeping, en waarmee gemeentes tans besig is. Volgens hierdie gemeenteleiers, word hierdie roeping steeds uitgeleef in dade van liefdadigheid en barmhartigheid, en nog nie as gelyke vennote in hulle plaaslike gemeenskappe wat saam werk aan geregtigheid en die aftakeling van strukture wat ongelykheid in stand hou nie.

Ons sal saam moet bly leer oor hoe om hierdie roeping konkreet, kreatief en met groter verbeelding uit te leef, veral as ons die blywende geweld en onrus in ons land wil aanspreek.

Versoen Leergemeenskap

Die Versoen Leergemeenskap wil saam leer oor hoe gemeenteleiers bemagtig kan word met die nodige geloofsgewoontes (kapasiteite en kennis) om brûe te bou in ’n diverse samelewing. Ons leer dat ons hiermee kan begin deur voortdurend meer bewus te word van hoe ons gevorm en bevoorreg is as wit, Afrikaanse, lidmate van die NG Kerk. Op hierdie manier kan ons meer eerlik wees oor ons beweegredes om betrokke te raak by versoening – en selfs die transformasie in onsself en ander dieper begryp.

LEES OOK: Versoening: Om ’n dag op sy baadjie te takseer

Ons wil graag voortbou op slypskole wat reeds ontwikkel en in die Wes-Kaap aangebied is. Nog ’n teken van hoop was dat daar met Lydenstyd vanjaar ’n groep van 70 predikante en lidmate uit verskillende streke saam ’n virtuele ‘pelgrimstog van versoening’ aangepak het. Kleiner groepe het weekliks saam gesels oor materiaal wat ontwikkel is. Die klem het geval op verskillende bewegings van versoening (soos om te luister na verskillende werklikhede, om met weeklaag te sit, of om te leef in vergifnis), asook die werklikhede van hoe ras uitspeel in ons verskillende kontekste – nie slegs in ons persoonlike en gesinslewe nie, maar ook in ons gemeente en kerkverband, ons land, en die konteks van die breër, wêreldwye samelewing. Dit was ’n geleentheid om juis in Lydenstyd saam te ontdek wat dit beteken om belydend en met waagmoed die historiese kruise op te neem wat met wit-wees gepaard gaan.

Tuis-koms

My generasie se vermoë om te kan versoen – om tuis te kom in ons eie vel, en saam met ander – sal heel moontlik ons grootste uitdaging bly vir die kweek van die soort leierskap en spiritualiteit wat ons land nou nodig het. Kom ons leer saam hoe om ons roeping van versoening uit te leef.

  • Dr Louis van der Riet is die sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Identiteit en Versoening en lid van die Wes-Kaapland Sinode se Taakspan vir Ras en Versoening.
Word 'n vriend van Kerkbode