Só werk ‘nuwe’ Vlak 3 + Leiers verwerp aantygings oor perke

Jy mag weer kerk toe gaan mits daar 50 of minder mense saam met jou in die diens is, volgens die nuwe aangepaste Vlak 3-maatreëls wat op 25 Julie in die Staatskoerant gepubliseer is en onmiddellik van krag is.

Dieselfde beperkings geld dus as in die vorige aangepaste Vlak 3 met dié verskil dat jy as gewone kerkganger ’n kriminele oortreding begaan as jy jou bevind in ’n diens met meer as 50 mense.

Voorheen is slegs die organiseerders van sosiale byeenkomste aanspreeklik gehou om seker te maak dat getalle voldoen aan die voorgeskrewe inperkingsmaatreëls. Dit het nou verander. Enigeen wat ’n kerk- of ander sosiale byeenkoms bywoon en weet of vermoed dat daar meer mense is as die toegelate 50 of dat die aantal mense meer as 50% van die perseel se kapasiteit is, begaan ’n oortreding wat kan lei tot ’n boete of tronkstraf van tot ses maande.

Kerkbode het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, gevra of dit iets is waaroor gemeentes bekommerd is.

LEES OOK: Gemeente in Noordwes bedien gemeenskap met 13 suurstofmasjiene

“Ek kan nie dink dat daar ’n bekommernis daaroor moet wees nie. Die president het al van Vlak 2 af gesê elkeen van ons moet verantwoordelikheid neem en baie gemeentes het ’n stelsel waar lidmate moet registreer vir ’n erediens,” sê Claassen.

Vir groot gemeentes is dit dikwels meer sinvol om steeds met uitsaaidienste voort te gaan, veral met lidmate wat geografies verwyderd is byvoorbeeld oorsee, so daar is gemeentes waar met ’n kombinasie van fisiese dienste en aanlyndienste voortgegaan sal word, brei hy verder uit.

Perke: ‘Aanval’ op Christelike geloof?

“Ongelukkig is daar ander denominasies wat nie by die maatreëls hou nie en wat kerkbyeenkomste ’n slegte naam gegee het. Nou word almal oor dieselfde kam geskeer,” sê hy.

“Daar word met hartseer kennis geneem van sommige pastore wat glo die inperkingsmaatreëls is ’n aanval op die Christelike geloof,” luidens ’n onlangse verklaring deur The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA), waarby die NG Kerk verteenwoordiging geniet.

Claassen meen daar is ’n “sensitiwiteit dat baie mense geraak word deur die pandemie en baie gemeentes het self, wanneer infeksiesyfers begin styg het, die inisiatief geneem om byeenkomste in te kort nog voordat die rampreëls dit vereis het.”

LEES OOK: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou

Hoewel daar ander denominasies was wat hulle beywer het vir oper eredienste, het die NG Kerk haar konsekwent gehou by die rampreëls gedurende die grendeltyd. “Die rede daarvoor is dat ons as kerk met mekaar ooreengekom het dat ons pro-lewe is en so min as moontlik risiko’s wil loop om die infeksiekoers te verhoog,” sê Claassen.

“Die ander rede is dalk dat aanlyndienste in baie gemeentes baie suksesvol is. Hoewel gemeentes baie ingeboet het in terme van dankoffers tydens erediens, is dit in die konteks van die NG Kerk nie die enigste inkomstestroom nie. Talle verhale word ook gedeel van lidmate wat gedurende die pandemie meer as gewoonlik bygedra het. Dit alles het gehelp dat daar nie baie druk was om eredienste te hervat ter wille van finansies nie,” verduidelik hy.

‘Nuwe’ Vlak 3

  • Ander bepalings oor sosiale byeenkomste tydens Vlak 3 sluit in dat buitemuurse samekomste beperk is tot 100.
  • By binnenshuise en buitemuurse byeenkomste moet almal ’n afstand van 1,5 m uit mekaar kan handhaaf.
  • Begrafnisse en verassings mag steeds slegs deur 50 of minder mense bygewoon word mits dit nie 50% van die kapasiteit van die fasiliteit oorskrei nie. Die roudiens moet binne twee ure afgehandel word. Nagwake en sosiale byeenkomste na die roudiens is steeds verbode.

Die dra van gesigmaskers bly verpligtend.

Word 'n vriend van Kerkbode