Etiopië: Sal Lalibela se verstommende klipkerke veilig bly?

Te midde van vrees oor die lot van derduisende ontheemde men­se wat vlug van die konflik wat se­dert November in Etiopië woed, is daar ook kommer oor die lot van die unieke rots­kerkkompleks in Lalibela wat ’n jaarlikse bestemming vir Christenpelgrims asook ’n Wêrelderfenisterrein is.

Reeds sowat 674 492 Etiopiërs moes in die Amhara-streek vlug weens kon­flik tussen die Etiopiese weermag en Tigray-rebelle, volgens Unicef in Etiopië.

Die onderburgemeester van Lalibela, Mandefro Tadesse, het aan die BBC gesê die dorp is onder rebellebeheer, luidens ’n berig op 5 Augustus. En hoewel daar nog geen skote gevuur is nie, is hy bekommerd oor die veiligheid van die historiese kerke.

Een van die aanbiddingsplekke by Lalibela. Foto: Le Roux Schoeman / Kerkbode-argief

Die bergstad Lalibela, sowat 600 km buite die hoofstad Addis Abeba, is sino­niem met die 11 Middeleeuse kerke wat op verstommende wyse uit rots ge­kerf is en tot vandag as wêreldberoemde plekke van Christelike aanbidding dien.

Die regering van Abiy Ahmed, premier van Etiopië, het reeds in 2020 al hoe meer bedreig begin voel weens die etniese struwelinge in die land, berig Liesl Louw-Vaudran, ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies, onlangs op Netwerk24 oor die aanloop tot “volskaalse konflik tussen die Etio­piese weermag en die Tigray-rebelle”.

LEES OOK: Wêreldnuus: Taliban se oorname is ‘hartverskeurend’

Koning Lalibela het, tydens sy heerskappy in die laat 12de eeu, die kompleks van kerke laat bou as ’n soort mini-Jerusalem en as simbool van die god­delike reg van Etiopiese konings, nes ander Christelike konings in die Mid­deleeue. Daar is volop verwysings na die Heilige Land, van die Jordaanrivier, tot die Olyfberg en ’n besoek laat ’n mens verstom oor die bouvernuf en visie van die projek. Die “monolitiese” styl verwys na die feit dat daar nie hoë strukture met bakstene opgerig is nie, maar eerder afwaarts in die koppies gegrawe en ge­kerf is om aanbiddings­plekke te skep wat plek-plek meer as 10 meter diep is en onderling met tonnelnetwerke ver­bind is.

Aan die rand van die kerkkompleks tref die besoeker Bete Giorgis aan, ge­kerf in die vorm van ’n kruis met die voete van ’n mummie wat uitsteek uit ’n nis by die ingang.

Etiopië is die oudste onafhanklike land in Afrika, met ’n bevolking waarvan 43% uit die sowat 108 miljoen inwoners Etiopies-Ortodokse Christene is.

Word 'n vriend van Kerkbode