‘Baken’ weer blink en regop na Karoo-kerktoring se stryd teen wind en bye

Dit het twee hyskrane, ’n brandweerwa en ’n byeboer-dominee gevat, maar die Oos-Kaapse Karoodorp Willowmore se kerktoring staan weer blink en punt in die wind.

Die afgelope twee maande hang die NG Kerk op die dorp se toring van bykans ’n halfeeu oud op genade teen ’n 45 grade hoek. ’n Stormsterk wind het die toring so geknak een nag in Junie.

LEES OOK: Kerktoring knak in stormwind

Die gemeente het noodgedwonge in die kerksaal moes kerk hou. “Dit was ’n slegte ding. Ons was bang die toring val en maak meer skade,” vertel ds Hannes Maasdorp, die afgetrede leraar wat hier die dienste waarneem.

Einde ten laaste het die versekeringsmaatskappy ’n kwotasie vir die huur van twee hyskrane, wat al die pad uit Beaufort-Wes moes kom, goedgekeur. Weens ’n pap wiel het hulle eers Dinsdagaand 24 Augustus op die dorp aangekom, vertel Piet Viljoen, ’n lidmaat wat daar was.

Die volgende dag, terwyl werkers in ’n mandjie in een hyskraan werskaf om die toring met kabels aan die tweede hysbak vas te maak, kom hulle agter die toring huisves ’n byenes … en die bye was nie geneë dat die manne só naby hulle kom nie.

Die NG Kerk Willowmore spog met ’n blinknuwe kerktoring. Foto: Verskaf

Die ongewone gesig van ’n geknakte kerktoring het Woensdagoggend 30 Junie vir ds Hannes Maasdorp en die inwoners van Willowmore in die Oos-Kaap begroet.

Die brandweer moes kom water spuit sodat hulle die toring ten minste tot op die grond kon kry. Intussen het Viljoen vir ds Petrus Carstens, die leraar op hulle buurdorp Uniondale, gebel omdat byeboerdery sy stokperdjie is.

Donderdag douvoordag, voor die bye uitgaan, was Carstens in sy beskermende oorpak daar met sy 20 liter-emmer met gaas uitgevoer en sy seun se spesiale suigtoestel, die B-Vac. Viljoen het ’n kragopwekker vir die suigtoestel voorsien.

LEES OOK: Kerktoringbewoners bied leraar teken van hoop

“Toe ek binne die toring opkyk, toe sien ek dit gaan ’n groot werk wees … die byewaskoeke was gevleg tot diep in die toring op,” vertel Carstens wat toe soos ’n myner met ’n koplig in die ou toring moes opkruip.

Vyf ure later was die meeste van die bye in korwe na hulle eers via die suigtoestel in die emmer opgevang is. Hy skat hulle kon 90% van die bye red waaroor hy baie bly is en hy skat hulle staan ’n goeie kans om te oorleef, sê Carstens. Dit was een en ’n half emmers vol bye wat die grootste swerm is wat hy al uitgehaal het.

Die laaste rusplek van die ou kerktoring op die dorp se ashoop. Foto: Verskaf

Daar was ongelukkig maar min heuning, “want Willowmore is nog verskriklik droog,” al het dit liggies gereën die dag. “As die ‘heilige bye’ heuning maak, sal ek dit vir die kerk neem,” skerts Carstens.

Intussen is daar ’n splinternuwe kerktoring, gemaak van ’n houtraam en oorgetrek met blink metaal, in die ou toring se plek staan gemaak. Dit het so ’n bietjie van ’n “crinkle cut look”, maar hy is baie bly die ou toring is af, want hy was bitter bekommerd oor sy vriendin Rita Vorster se veiligheid omdat sy koster is by die kerk, vertel Viljoen.

Daar was selfs sprake dat die kerkgebou sonder toring gaan bly. “Daar was dié wat gedink het die kerk kan sonder ’n toring bly, maar ons het gevoel dit is ’n uitstaande kenmerk van die dorp, ’n baken in die gemeenskap. Ons is nou weer dankbaar en rustig … en dit is net betyds voor die Augustuswinde begin waai,” sluit Maasdorp af.

Word 'n vriend van Kerkbode