VGKSA groet twee ‘brugbouers’

Die VGKSA het onlangs twee oud-moderators aan die dood afgestaan, ds Sakkie Mentor en dr Koos Oosthuysen, wat beide hulle eiesoortige bydraes tot kerkeenheid gelewer het, skryf Heléne Meissenheimer.

Izak Jacobus (Sakkie) Mentor was in 1982 die eerste bruin leraar wat verkies is as moderator van die NG Sendingkerk (NGSK) Streeksinode Kaapland – ’n posisie wat voorheen altyd deur ’n wit sendeling gevul is.

Sy verkiesing het geval in onstuimige tye. Dit was ses jaar na die Soweto-opstand teen skoolonderrig in Afrikaans. Stemme teen die apartheidsbeleid het al harder opgeklink, ook in kerkgeledere. Daar was veral druk op geestelike leiers om meer uitgesproke te wees en vir “baie jonger dominees” was Mentor nie radikaal genoeg téén apartheid en die NG Kerk nie, volgens die eCKE.

LEES OOK: Kobus Gerber: ’n Haastige ‘boumeester’

“As jy vir hom vat en ’n paar van die ander ou manne, dan is hulle brûe … nie noodwendig radikale brûe nie, maar … hy was die brug dat hulle ’n eiesoortige kan sien as iemand wat die Woord kan bedien,” vertel ds Derrick Marco, self nou al afgetree, wanneer Kerkbode hom kontak. Marco was in Mentor se Rondebosch-gemeente vanaf vyf jaar oud en dit is grotendeels danksy sý voorbeeld en aanmoediging dat hy teologie gaan studeer het, skryf Marco in ’n huldeblyk aan sy mentor en ‘dominee’ op sy Facebookblad.

Ds Sakkie Mentor en dr Allan Boesak het in die 1980s saam gedien in die moderamen van die NG Sendingkerk Streeksinode Kaapland.

As moderator was Mentor saam met bekende teoloë dr Allan Boesak, prof Jaap Durand en prof Gustav Bam op die kommissie getaak met die formulering van die konsepbelydenisskrif wat in 1986 as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar is en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA).

Mentor, ná hy by Wellington sy teologiese studies voltooi het, was saam met sy vrou, wyle Henrietta (“aunty Hettie”) sy lewe lank leraar by Rondebosch-gemeente, nadat hy op Umtata georden is.

Teen die 1990’s, toe dr Jacobus Christiaan (Koos) Oosthuysen deel word van die besprekinge rondom die vereniging tussen die NGSK en die NGKA, was Mentor nie meer in ’n kerkleierskapposisie nie, sê dr Llewelyn MacMaster, tans moderator van die VGK Streeksinode Kaapland. Mentor het sy voorbehoude gehad teen hierdie stap omrede hy gereken het dit is belangrik dat die NG Kerk deel van die proses moes wees, volgens die eCKE.

Kort voor sy aftrede by Rondebosch, het sy gemeente wel deel geword van die VGK.

“Aan die een kant kan ons hom meet aan sy konserwatiewe karakter, maar hy was eintlik radikaal omdat hy ingetree het in die ruimte wat altyd deur sendelinge gevul was … dit vir my, as jy vir my vra hoekom is ek so gebonde aan die oom hoewel ons oor baie goed nie met mekaar saamgestem het nie, lê vir my daarin opgesluit dat hy my kon help sien dat daar moontlikhede is,” sê Marco.

Tot sy “groot verbasing” is Oosthuysen in 1994 verkies as die eerste moderator van die Kaaplandse Sinode van die toe pasgestigte VGKSA. “Ek is nie gekies om die rigting aan te dui waarheen die kerk moes beweeg nie, maar wel om die kultureel-uiteenlopende lede van die sinode bymekaar te hou. Nogal ’n warm stoel met Afrikaanssprekende jong Turke wat vinnig koers wil kry en rustige ouer isiXhosasprekendes wat sake meer tydsaam wil uitpluis,” skryf hy in ’n biografiese skrywe wat sy vrou, Lucia, vir Kerkbode aangestuur het.

LEES OOK: #Covid: Oos-Randse gemeente verloor leraar én orrelis in een week

Omdat hy vlot was in isiXhosa, was Oosthuysen vir 42 jaar die leraar in twee isiXhosa-gemeentes. Hy was van 1974-1995 ook as projekkoördineerder by die Bybelgenootskap van SA nou gemoeid met verskeie vertalingsprojekte, waaronder ’n nuwe isiXhosa-Bybel en ’n Kinderbybel in isiXhosa – hy is in 2012 vir sy bydraes tot Xhosa-literatuur en kerkleierskap vereer met die Andrew Murray-Desmond Tutu Prysfonds. Hy het selfs na aftrede aanhou skryf en het vanjaar, twee maande voor sy dood, sy boek My lewe in drie tale voltooi.

Oor die hereniging van die hele NG Kerk skryf hy dit is “noodsaaklik, want ek maak erns met die belydenis dat ons glo in een heilige algemene Christelike kerk. Die verskeidenheid moet binne die eenheid geakkommodeer word en nie anders om nie. Anders is ons nie een nie en ook nie algemeen nie, en dat ons dan nog heilig en Christelik is, is net aan ons liefdevolle Vader toe te skryf.”

Hy het die Belhar-belydenis van harte onderskryf, maar het gemeen “dit is takties onwys om daarop aan te dring dat almal dit aanvaar voordat die familie herenig is”.

Die einde van die aardse pad het vir altwee hierdie “brugbouers” aangebreek op Donderdag 26 Augustus. Mentor is die middag oorlede. Hy sou op 6 September 93 jaar word. Later dieselfde aand is die 87-jarige Oosthuysen oorlede in sy slaap.

In VrydagNuus (3 September 2021) skryf MacMaster: “Die moderamen wil ons diepste en innige meegevoel betuig met die families van hierdie twee gerespekteerde leiers van ons kerk en die Here bedank vir hulle belangrike bydraes tydens hulle bedienings. Hebreërs 13:7 (NLV) vertroos ons met dié woorde: ‘Onthou julle leiers wat vir julle die woord van God geleer het. Dink aan al die goeie dinge wat hulle gedoen het tot by hulle dood en vertrou op die Here soos hulle vertrou het.’”

Word 'n vriend van Kerkbode