San-leraarspaar beloof ewige trou (sonder ’n soen!)

Op ’n koue Sondagoggend in Namibië se dorre noordooste beloof ’n baanbreker-leraar, ds N!aici Komtsa, ewige trou aan sy vrou voor God om ’n ‘voorbeeld’ vir sy San-gemeente te stel. Heléne Meissenheimer sou graag om ’n oop vuur sý storie wou hoor, maar nóú is dit Andries Gous wat die ‘diep gesels’ moet doen oor Skype, SMS en WhatsApp.

Andries Gous is voorsitter van die Sentrum vir Diens en Getuienis: Noordoostelike Streek (Degnos), die NG Kerk in Namibië se diensorganisasie verantwoordelik vir die bediening van die San-mense, of Boesmans soos hulle verkies om na hulleself te verwys.

Degnos (voorheen Boesmanbediening) het so tien jaar gelede ’n teologiese opleidingskursus ontwikkel om leraars, genoem standplaasleraars (standplaas beteken hulle is nie beroepbaar nie), vanuit die San se geledere op te lei. N!aici was een van die eerste baanbrekers wat die opleiding voltooi het. Vandag is daar al nege standplaasleraars wat vier San-gemeentes bedien in die Nyae Nyae bewaarea, so 240 km wes vanaf Grootfontein waar Gous is en feitlik op die noordoostelike grens met Botswana.

Hoewel dit hartseer is dat die San nog steeds net die Markusevangelie in hulle eie taal het, maak dit ’n groot verskil dat leraars soos N!aici in hulle eie taal met hulle lidmate die evangelie kan deel, sê Gous.

Geletterdheid is maar laag. N!aici self is met graad 7 uit die skool en het daarna vir jare as Afrikaanse tolk vir die ou Boesmanbediening gewerk. Daar is 14 verskillende tale of dialekte wat in die gebied gepraat word, maar Gous meen Afrikaans sal jou die verste bring, hoewel die jonger mense Engels begin praat.

“Die Boesmanmense is vasgevang in ’n periode van oorgang,” verduidelik hy via Skype, ’n dag na hy self “uit die bos” terug is. Degnos ry gereeld uit om die standplaasleraars by te staan en by geleentheid te help om hulle lidmate, wat so ver as 60 km van hulle af bly, te kan besoek. N!aici self het net ’n donkiekar om sy verste lidmate te sien – voorheen het hy ook fiets gery, maar dan het sy bene vreeslik gepyn van die getrap deur die dik sand.

In die bewaringsgebied waar N!aici en sowat 1 500 San-mense woon, mag hulle nog met tradisionele pyl en boog wild jag, maar die tradisionele manier van lewe kan hulle nie meer onderhou nie, sê Gous. Een rede hiervoor is bestaansveeboere wat met hulle veetroppe die wild verjaag. (Lees meer daaroor in San lands ‘invaded’ by cattle in Namibia. – Red.)

LEES OOK: Ek hoor nog die klik-klak van die gesprekke tussen ds Weich en die San-mense

Die meeste gesinne se hoofbron van inkomste is dus ouderdomspensioen of kindertoelaag. “Die armoede is verskriklik. Dit is hartseer. Dit is ’n plek waar twee ‘broers’ (gelowiges) mekaar met ’n byl aanval oor ’n koppie rys,” sê Gous.

Drankmisbruik gedy in die hopelose bestaan. “Die tye wat die mense geld kry om te drink dan kry ek min mense, want die mense drink ook … dit is die grootste probleem daai,” vertel N!aici in ’n 6-minute video wat Degnos gemaak het.

Kamekoo of duiwelsklou is ’n plant met medisinale waarde wat die San-mense uitgrawe, droog en dan via ’n middelman verkoop vir ’n verdere inkomste. Vir ’n groot gedeelte van die jaar gaan bly N!aici saam met sy mense in die veld wanneer hulle na die plante soek.

Saans wanneer almal om ’n groot kampvuur sit (gemaak om die olifante en ander wilde diere weg te hou), vertel N!aici vir sy mense Bybelstories. “Daarso, ons sing ook lekker daarso … ons gesels in die aande mooi met mekaar … om die groot vuur dan praat ons alles oor die evangelie,” sê hy op die Degnos-video.

San-leraar N!aici Komtsa se lidmate volg hulle leraarspaar se ‘kerktroue’ met aandag. Nóg twee San-leraars het sedertdien besluit om ook sy voorbeeld te volg. Foto: Verskaf

N!aici en sy vrou Xao is 30 jaar terug op die tradisionele San-manier getroud, met ander woorde hulle ouers het die huwelik gereël. Hulle het ses kinders saam (waarvan vyf nog leef na hulle 6-jarige seuntjie verlede jaar oorlede is). Ongelukkig het die Westerse invloede wat oorgewaai het gemaak dat hierdie manier van doen nie meer vir die jong mense mooi is nie – die gevolg is jong ongetroude ma’s met kinders by meer as een pa, verduidelik Gous.

Dié stand van sake het N!aici en sy vrou laat besluit dit is belangrik vir hulle as leraarsegpaar om ’n voorbeeld van ’n ‘kerktroue’ te stel. “Ek en my vrou het besluit om voor God te trou. Want dit is baie belangrik dat ons voor God moet trou,” skryf N!aici in Afrikaans in ’n SMS aan Gous op Kerkbode se navraag, al manier waarop met hom in die veld kontak gemaak kan word.

“Vir Boesmans is daar nie ’n ding soos voorgee nie. Dit is totale bekering, ’n radikale lewensverandering, hou op rook en hou op drink. Vir hulle is daai voorbeeld verskriklik belangrik … hulle kyk meer na hoe jy lewe as wat jy sê,” verduidelik Gous.

Ná die troue twee keer weens Covid-inperkings uitgestel moes word, gebeur die heuglike geleentheid uiteindelik een koue Sondagoggend in Aasvoëlnes, die gemeenskappie waar N!aici bly, se kerkgebou sonder mure, met net ’n sinkdak, houtbankies en ’n sandvloer. Voor sy lidmate beloof N!aici in sy donker kerkpak en Xao, toegewikkel in ’n blou kombers, ewige trou aan mekaar voor God. Gous het die diens gelei en ds Dirk de Vos het hulle in die eg verbind. Toe De Vos egter sê ‘jy kan die bruid soen’, antwoord N!aici ‘ons Boesmans soen nie’, vertel Gous. Ná die amptelike papierwerk het almal die egpaar gelukgewens. Daarna was dit tyd vir Oros-koeldrank en grondboontjiebotterbroodjies by die Komtsa-egpaar se huis.

“Dit was baie spesiaal en dit het nou ’n interessante domino-effek. Die volgende twee leraars trou op 18 September, want hulle wil ook ’n voorbeeld stel in hulle gemeenskap … Dit is ’n voorreg om onder die Boesmans te werk,” sê Gous.

As jy meer wil uitvind of ’n bydrae wil maak tot Degnos se bediening onder die San-mense, kan jy Andries Gous per e-pos by gousandries74@gmail.com kontak.

Word 'n vriend van Kerkbode