#Lentekonferensie – Dag 1: ‘Draers van God se hoop in ’n wanhopige wêreld’

“Ons lewe in ’n wêreld vol chaos,” sê dr André Bartlett Dinsdagoggend ter inleiding van die 16de Lentekonferensie wat weer, soos laasjaar, volledig aanlyn plaasvind.

“Mag hierdie paar dae ons help om die liefde van God weer te ontdek en terug te vat na ons wêreld en daar draers te word van God se hoop. In ’n nuwe vreemde wereld te leef as God se mense,” verwelkom Bartlett, geklee in ’n ligblou hemp en strikdas vanuit sy woonkamer die 162* intekenare van regoor die land en selfs een uit Kanada by die konferensie wat duur van 14 tot 16 September.

Prof Elna Mouton se aanbieding is vooraf opgeneem by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington waar sy kapelmeester is. Foto: Verskaf

Die tema vanjaar is “‘Brave new world’ – Saam met Jesus ’n vreemde toekoms in”. In haar aanbieding as hoofspreker op die aanvangsdag, het prof Elna Mouton gepraat oor hoe Jesus se menswees sy dissipels, en by implikasie ook ons as gelowiges leer om met God se perspektief na mense en die wêreld te kyk. Dié eerste vrouedekaan van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, het gesels vanuit Wellington waar sy sedert 2019 kapelmeester is by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: Tyd dat NG Kerk nuwe grense trek

In lyn met die hooftema word subtemas soos wat die verbintenis aan God beteken, leierskap in onseker tye, dieper spiritualiteit en die uitdagings wat tegnologiese ontwikkelings aan geloof stel, oor die volgende drie dae uitgepak.

Mouton, wat jare lank dosent in Nuwe Testament was, het verduidelik Jesus se menswees word gekenmerk deur die volgende:

  • Hy het gekies om elke oggend tyd met God te spandeer, die Bron van sý spiritualiteit;
  • Hy het deernis;
  • Hy is kreatief en verbeeldingryk;

én Hy nooi ons as sy volgelinge om soortgelyk te doen en te dink.

“Die vreemde toekoms vra dat ons met God se perspektief na mense sal kyk en gewoon ’n omgee-medemens sal wees ongeag stand of herkoms … dit vra dat ons kreatief dink oor … aanbiddingsplekke … dit vra verbeelding van die geloof,” sê sy.

LEES OOK: Dis genade dat kerk en haar publikasies minder ‘belangrik’ is

Trauma en krisis is deel van die menslike bestaan. ’n Oorsig van Ou-Testamentiese boeke soos Levitikus, Spreuke en Prediker gee ’n blik op die oorlewingstrategieë wat die Jode ontwikkel het in reaksie op die trauma wat hulle as nasie beleef het, sê prof Sias Meyer, medeprofessor in Ou Testament, Fakulteit Teologie en Religie by die Universiteit van Pretoria. Die enigste sekerheid in hierdie strategieë lê in die bestaan van God, beaam Meyer in antwoord op ’n opmerking in die vraag-en-antwoordsessie deur ds Danie Ueckermann dat sy gevoel is “as ek my sekerheid buite myself en in God soek, dan sal ek dit vind”.

Dr Marina Strydom het ’n kers gebrand en mooi musiek ingesluit by haar eerste aanbieding uit ’n reeks van drie oor dieper spiritualiteit. Foto: Heléne Meissenheimer

“Ek vermoed ons as dominees in die kerk is dalk nie op ’n baie gesonde plek nie … baie loop met onverwerkte hartseer en verlies,” begin dr Marina Strydom haar eerste van drie aanbiedings oor hoe om by ’n dieper spiritualiteit uit te kom.

“Dit is nodig dat ons treur … as ons nie verantwoordelik met ons eie verliese omgaan nie, beteken dit dat ons nie ander kan help nie,” vervolg dié voltydse leraar by Ooskerk in Pretoria met ’n besondere passie vir kontemplatiewe spiritualiteit. Sy het vandag se sessie van een en ’n halfuur afgesluit met ’n praktiese beleef van kontemplatiewe gebed. Woensdag gaan sy voort met ’n groter verstaan waar hierdie vorm van stilword in gebed inpas in ons groter verstaan van spiritualiteit.

  • Presiese getal intekenare aangepas na die artikel verskyn het. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode