‘Toe sê hulle vir my: ‘Jy hoef nie nou te glo nie, ons sal vir jou glo'”

Jan Grobbelaar

Ek het nou al ’n paar keer in my lewe deur Prince Alfred Hamlet gery en ek het nog nooit regtig veel oor die plek gedink nie. Ek het gesien dat daar baie store is en ek kyk altyd uit vir ’n spoedkamera, maar dit is omtrent dit. Jan bevestig dat dit is hoe baie mense Prince Alfred Hamlet sien, dat baie mense iewers op die pad tussen Ceres en Op-die-Berg net die dorpie miskyk. Tog is dit ’n groot korporatiewe gemeenskap van groot name in die boerebedryf en met jongmense met ’n wyer insig in die lewe. Dit is dalk ’n klein dorpie, verduidelik Jan, maar dit is ’n groot gemeente. Na afloop van my besoek aan Jan, sal ek nooit weer dieselfde na hierdie dorpie kyk nie.

Om dit te verstaan moet mens nie net teruggaan na Jan se storie in Covid nie, maar na die begin van Jan se bediening in die gemeenskap, in 2018. Jan het drie goed gedoen toe hy in die gemeente aangekom het. Die eerste twee was bepland. Eerstens, het hy die gemeente herinner dat hulle ’n familie is, en tweedens het hy hulle mekaar laat groet met die bewussyn dat daar op elkeen se voorkop dieselfde ding staan: “fragile, handle with care, child of God.” Jan het dit gedoen om sy gemeente te help om te begin om met sagte oë na mekaar te kyk vanuit die besef dat almal broos is.

Die derde, onbeplande ding wat Jan moes doen, is om 30 begrafnisse binne sy eerste ses maande in die gemeente te hou. Vir hom is dit ’n kerngebeurtenis in sy storie met die gemeente omdat dit ’n spesiale band tussen hom en die gemeente gevorm het, waar hulle broos geword het, bewus geword het dat hulle afhanklik is van mekaar, en daarom vir mekaar meer omgee het.

Spring dan nou vorentoe na twee jaar later wanneer Covid die gemeente tref. In terme van die pandemie self, was min van die gemeenskap werklik geaffekteerd in hul lewensritme. Omdat dit meestal boere is, het die meerderheid net met hul werk en lewens aangegaan. Daar was wel prominente nood, met mense in die dorp wat hul werke verloor het en die toerisme bedryf wat swaargekry het. Daarom het die gemeente baie op die voorsiening van kos en sopkombuise gefokus. Die gemeenskap en gemeente se hand is oop en ook in Korona tyd was die gemeente na buite gerig op die noodverligting van ander.

Die gemeente, vertel Jan, het ’n groot bewussyn van waaroor die lewe werklik gaan en oor wat regtig belangrik is. Korona het die mens gestroop van ’n klomp goed waarin die mens betekenis vir die lewe gesoek het. 2020 het wel met baie verliese gepaard gegaan. Die gemeente en gemeenskap het baie sigbare verliese gely, maar die Kalahari brande wat tien lewens uit drie gesinne geëis het, het ’n ontsettende invloed op die gemeenskap gehad. Twee van hierdie gesinne is in Jan se gemeente, maar die verhoudings in dié streek is so nou dat die verlies van elke lewe vir die gemeenskap as geheel sleg is. Die ondersteuning vanuit die gemeenskap en land was egter ongelooflik. Mense van regoor Suid-Afrika het gebel en gebid vir die gemeente, vir krag, en selfs vir Jan.

Tesame met die uitdagings van digitale preke en die ander uitdagings van Covid bediening, moes Jan ’n pastor vir ’n gemeenskap in tye van diepe seer wees. Onder andere moes hy by die plaaslike laerskool betrokke raak waar die kinders vrae oor God en lyding begin vra het. “Dit was ’n hartseer tyd vir die gemeente, maar ons was ook bewus van God se getrouheid.”

Kort na die Kalahari brande, word Jan se vrou met beenmurgkanker gediagnoseer. Hul broosheid was besonders groot in hierdie tyd, maar dit is ook toe wat hulle die groot seën van die gemeente se omgee beleef het. Gemeentelede het van Jan se woorde voor dié tyd aan hom terug geëggo en hom herinner dat God nooit die mens los nie. Een lidmaat het Jan herinner aan die verlamde man wat deur die dak afgesak is en wie as gevolg van die geloof van sy vriende gered is. “Julle hoef nie nou te glo nie,” vertroos sy hulle. “Ons sal vir julle glo.” Jan vertel hierdie storie as een voorbeeld van ’n tipiese reaksie van die gemeenskap op broosheid.

Hierdie ondersteuning het Jan en sy familie gedra. So ook het sy verhouding met die Here. Hy was baie bewus van hoe God troos en hoe God omstandighede gebruik om mense aan God se getrouheid te herinner. In mense se broosheid kom gee God krag en so kan Jan en die gemeente getuig van wat God doen en hoe God deur die Woord, mense en die gemeente werk. Jan het ook baie vreugde in die tyd ervaar. Sy kinders uit Johannesburg het by hulle gebly en hy vertel met ’n glimlag van die gesinstye en kwaliteittyd wat hulle saam kon geniet. “Ek wou nie op ’n ander plek as hier wees nie,” sê hy.

Nederig. Broos. Sag sit Jan voor my en gesels vol liefde oor die gemeente en gemeenskap van wie hy deel is en oor sy dankbaarheid om in hierdie kosbare tyd deel te wees van die gemeente se geskiedenis. ’n Geskiedenis van broosheid, maar ook ’n geskiedenis waarin God getrou gebly het.