“En toe klap ek hom terug!”

Egtheid

Marileen Steyn gesels met Konette Van Rooyen

Toe ek Paulus, die vriendelike Golden Retriever se stert sien swaai, het ek geweet ek is by die regte huis. Die deur gaan oop en ek sien vir Rebekka, die net-so-vriendelike Border Collie voordat ek Konette se vreugdevolle stem hoor. In een asem verwelkom sy my in haar huis en vertel sy dat sy vandag vir die eerste keer weer in ’n lang tyd kon hardloop. Dadelik is daar energie in die vertrek. Dit is die eerste keer dat ek in haar nuwe huis kom. Dit is oop en lig en terwyl sy my entoesiasties ’n toer deur die huis gee, let ek op hoeveel moeite sy gedoen het om dit ’n mooi en gesellige plek te maak.

Ek en Konette is ringskollegas en vriendinne en dus glad nie vreemdelinge vir mekaar nie. Ek ken haar as iemand wat vol slagspreuke is en sy lag hard en graag. Sommer tien minute in ons onderhoud in lê ons twee dubbeldgevou soos wat sy in kleur en geur haar belewenis van Korona beskryf. Vir die buitestander mag dit dalk nie klink soos iets om oor te lag nie, maar dit is wat Konette doen: sy ontmoet die lewe sover moontlik met ’n lag.

Om Konette se belewenis van Korona te verstaan, moet mens eers verstaan wat alles gebeur het. Sy begin haar verhaal twee weke voor grendeltyd, toe sy verhuis het nadat haar man vir ’n egskeiding gevra het. Kort daarna, breek sy haar been en verloor Konette, wat graag fietsry, swem, stand-up paddling doen en hardloop, haar mobiliteit. Dít in die tyd toe sy ’n tugsaak, wat op haar egskeiding gevolg het, moes afhandel. Dit is ’n wyle na hierdie gebeure wat Konette se depressie weer opgevlam het en gevolglik is sy na ’n kliniek in Kaapstad. Dáár tel sy toe Korona op en word sy geïsoleer vir twee weke. Met haar terugkeer na haar gemeente in die Weskus stap sy weer terug in haar rol as “50% tentmaker en 100% sekretaresse” in ’n bediening wat baie uitdagings bied.

Ek herinner haar dat ek nie al hierdie inligting hoef neer te pen nie, dat ons net kan deel waarmee sy gemaklik is, maar sy is seker dat ek hierdie moet skryf. Vir haar gaan dit daaroor om te lei deur ’n voorbeeld te stel. Konette is skielik ernstig wanneer sy vertel hoe sy besorgd was om te sien hoe gemeentelede hul eie siekte en swaarkry telkens probeer wegsteek het. “Hoekom is daar hierdie shame as jy Korona het of as dit swaar gaan?” vra sy hande in die lug.

Sy glo dat sy ’n rol het om te speel in mense se skaamte deur self meer oop te wees oor haar uitdagings – veral met betrekking tot haar geestelike gesondheid. Daarom het sy oor die afgelope maande moeite gedoen om haar eie skaamte ten opsigte van haar egskeiding en depressie te bestuur. Dit het oorgespoel na haar prediking en bediening in NG Vredenburg-Akkerdyk.

Vredenburg vorm die hartjie van die Weskus. Deels omdat dit die enigste twee verdieping winkelsentrum in die omgewing het, maar ook omdat dit die ekonomiese en industriële hub van die area is. Dit is die enigste dorp op die Weskus wat twee gemeentes het, waarvan Akkerdyk een is. Die meerderheid van Akkerdyk se gemeentelede is bloukraagwerkers – ’n groep wat werklik hard getref is in 2020. Vroeg in die jaar het Saldanha Staal (Arcelormittal), wat die grootste werkgewer in die omgewing was, toegemaak en massas Weskussers wat daar, en in ander sektore van die staalbedryf gewerk het, het hul werke verloor.

Dit is in hierdie konteks wat Konette op Sondae gepreek het oor die wyse waarop mense se waarde in hul identiteit in Christus, eerder as in ’n salarisstrokie, lê. Daarmee bedoel sy nie dat sy al die antwoorde het nie, maar wel dat daar ’n mens agter die omstandighede (soos werkloosheid of egskeiding) sit wat raakgesien moet word.

Konette wil ook mense help dink oor hoe dit kan lyk om mense toe te laat om jou te ken. Haar egtheid is so deel van haarself dat sy nie anders kan as om haar bediening in egtheid te benader nie. “Ek kan letterlik nie anders wees as wat ek is nie en dit is wanneer predikante wie hulle is en hulle bediening van mekaar probeer skei wat daar probleme kom.” Sy doen dit vanuit die oortuiging dat God haar ervaringe gebruik om ander te help.

Prediking was vir haar ’n uitdaging in die jaar. Sy was baie bewus van die spanning tussen relevant preek sonder om herhalend te wees. Ook ten opsigte van die praktiese aspekte van die bediening was sy en haar kollega uitgedaag. Ewe skielik kon hul beplanning vir die bevordering van gasvryheid deur die implementering van projekte nie voortgaan nie en Konette is omver gegooi deur die manier waarop sy nie kon beplan soos in die verlede nie. Hieruit het sy meer as ooit geleer om vinnig op haar voete te kan dink.

“Wat het Korona jou gegee?” vra ek haar. “Korona het vir my Korona gegee!” lag sy. Dan word sy egter ernstig en gesels oor die manier waarop Korona en alles saam met dit vir haar ’n groter vermoë gegee het om op God te vertrou. “Gaan kyk na my spens! Ek hou van beplanning. Dinge moet netjies en sigbaar wees, so vertroue in onsekerheid is teen my persoonlikheid.” Tog het Konette geleer dat dit sinneloos is om aan beplanning vas te klou en dat dit nodig is om rustig te word en te glo dat God dinge sal laat uitwerk. Hierdie vertroue gee vir haar, reeds sedert die dag van haar egskeiding, ’n gevoel van vrede wat “beslis nie uit myself kom nie!” Vanuit hierdie vrede is Konette opgewonde oor die plek waar sy en die samelewing oor die algemeen is. Sy bely dat dit nie perfek is nie, maar sy vertrou die Here en daarom mag sy ook drome droom en rustigheid hê.

“Die jaar het jou regtig hard geklap,” sê ek. “En toe klap ek hom terug!” antwoord sy uitdagend voordat ons weer lag. Deur die golwe te vat soos dit kom, het Konette geleer om hierdie jaar se storms deur te maak terwyl sy eerlik bly oor wie sy is, en vol vertroue op God vorentoe beur.