#Lentekonferensie – Dag 2: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

Toe hy gevra is om met sy “eiesoortige manier van kyk” voor ’n groep hoofsaaklik NG predikante te kom praat, het die joernalis Max du Preez gewaarsku die uitnodiging is “riskant”. Tydens ’n uurlange gesprek met dr André Bartlett het dié “Kroonstadse boerseun” nie net gesê die kerk waarin hy grootgeword het, staan die gevaar om te verval in ’n soort sosiale klub nie, maar ook ’n pleidooi gelewer vir hoekom dit nie mag gebeur nie.

Dit sou vir hom moeilik wees om te erken dat hy ná sewe dekades verstok in sy idees geraak het. Daarom verplig Max du Preez homself om op hoogte te bly van alles van modes tot haar- en musiekstyle. Hy het selfs die meriete van rap-musiek begin ontdek, het die Vrye Weekblad-redakteur gebieg tydens ’n onderhoud met Bartlett wat as een van die kerninsetsels op die tweede dag van vanjaar se virtuele Lentekonferensie gebruik is.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: ‘Draers van God se hoop in ’n wanhopige wêreld’

Du Preez, wat pas 70 geword het en deesdae in Simonstad woon, se punt rondom vernuwing was dit: “Die kerk, gelowige mense, oor die eeue heen het dit myns insiens nogal moeilik gevind om aan te pas … om te erken ons voorouers het (bepaalde goed) kultureel so geglo en toe maak ons dit ’n wet. Daar is ’n traagheid om by te bly, dink ek. Daar is ’n groot traagheid om by die populêre kultuur te bly.”

Du Preez het op die eerste vraag rondom vanjaar se konferensietema van ’n sogenaamde Brave New World (sien wyle Aldous Huxley), verwys na skuiwende sienings rondom ras, seksualiteit en hierdie “non-binary ding”. Danksy blootstelling wat Du Preez ook deur die vriende en tydgenote van sy eie tienderjarige “laatlammetjie” kry, het hy die punt gemaak: “Ek kyk na die klein relletjies waarby (die NG Kerk) betrokke is. Daar is ’n klomp mense wat nog wil vasskop teen onkeerbare internasionale verwikkelinge en ontwikkelinge en wil terughark en dan na die Bybel toe hardloop en goed gaan soek daarvoor. Mense wat in hulle eie hart en hulle eie gemoedere nie kon aanpas nie. En dit doen die kerk baie skade aan onder veral die jongmense.”

Du Preez, ’n ervare joernalis en skrywer wat mees onlangs Vrye Weekblad in aanlyn gedaante laat herrys het, sê dit bly vir hom ’n opwindende ding om te gaan kyk wat “aan die woel” is. En, tydens die voorafopgeneemde onderhoud wat op die oggend van 15 September aan sowat 150 Lentekonferensiegangers uitgesaai is, was sy pleidooi: “As ons gehoor vandag dominees is, wil ek vir hulle vra om meer avontuurlik te wees daaroor. Om meer uit te reik en te gaan kyk wat sê jonger mense, wat sê die alternatiewe kulture wat met goed begin. Ons moet daarvan kennis neem, want oor tien jaar is dit hoofstroom. Dit het ons nou al gesien.”

Du Preez het toegegee sy blootstelling tot die NG Kerk is deesdae relatief beperk (sy broers is dominees en hy luister soms na dienste oor die radio). Maar as geoefende politieke ontleder het Du Preez sy makrovlak-indruk in plein taal gedeel: “Laat ek so praat oor die kerk. Die Afrikaanse kerke het myns insiens terugbeweeg na die plek waar dit meer ’n sosiale klub is. En ek bedoel dit nie lelik nie. Jy sien dit veral op die platteland maar ook in die Afrikaanse woongebiede. Dit is waarheen mense gaan om vriende te ontmoet. Mense soos hulle te ontmoet. Taalgenote en baie keer klasgenote te ontmoet. En in ’n wêreld waar baie wit mense vreesagtig is, is dit ’n veilige hawe. Ek dink dit is nogal ’n goeie rol wat die kerk daar speel, maar dit kan sekerlik nie sy enigste rol wees nie. En dit lyk vir my dis sy primêre rol deesdae. Dit beteken ook die spirituele rol wat ’n leraar moet speel, bly soms ’n bietjie agterweë, want finansieel is die kerk, amper soos my eie finansiële posisie, nie baie sterk nie. So dit is normaal vir ’n dominee om te sê, ek moet maar die vrede bewaar.”

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: Tyd dat NG Kerk nuwe grense trek?

Dit is die onvoorsiene gevolge van daardie soort kompromie waarteen Du Preez waarsku. En dit is die kerk se vermeende ongewildheid by mense jonger as 30 waarop Du Preez klem plaas. “Dit beteken stadigaan gaan jy begin doodgaan as jy nie jeug saam met jou het nie. Ek sien dit met die media ook, my bedryf. As jy nie jeug by jou hou nie, is dit afdraende en jy sterf ’n stadige dood.”

Teen hierdie stadium mag sommige luisteraars – veral diegene wat dalk reeds vertroud is met die ietwat ongenuanseerde beeld na buite van die NG Kerk as handelsmerk – begin soek het na ligpunte in Du Preez se diagnose van die kerk as rolspeler in ons land.

Dit het wel gekom. In twee dele. Enersyds via die feit dat Du Preez hoop het vir Suid-Afrika danksy die stoffasie van haar mense. Andersyds via die unieke rol wat hy glo geloofsgemeenskappe moet speel.

Du Preez is, ondanks die feit dat hy glo Afrikaners het nie geslaag daarin om versoening verder te neem ná die Waarheids-en-Versoeningskommissie nie, vol lof vir Suid-Afrikaners ná sy ervaring in dele van die wêreld waar haat gedy. “Die wêreld is ’n omgekrapte plek … en dan gaan die ekstreme stemme harder word en ons moet leer om te sê: ek kan dit uitfiltreer. Kyk om jou rond, ons is nie ’n land van haat nie. Ek het baie tyd in plekke van haat deurgebring. Rwanda, byvoorbeeld. In 2008 is ek na Serwië, Kosovo, waar ek saam met gemeenskapsorganisasies gewerk het om slagoffers en (gewelddoeners) te kry om met mekaar te praat,” vertel Du Preez. “En ek het nog nooit soveel smeulende, diepgesetelde haat in my lewe gesien nie. Iets wat ek nog nooit in Suid-Afrika gesien het nie.” Die rede? “Daar het iets gebeur met ons (Suid-Afrikaners). Die sameloop van ons geskiedenis, hoe bitter dit ookal was. Van ons geloofslewe oor die eeue. Van die filosofieë van ons leidende denkers van ons verskillende kulture, swart en wit en bruin … Iets het van ons ’n nasie gemaak wat vredeliewend is en wat verdraagsaam is. Anders sou ons nou in die as gesit het. Want as daar al ooit ’n plek op papier was waar daar ’n burgeroorlog moet wees, is dit ons,” aldus Du Preez. “En die naaste wat ons daaraan gekom het, was hierdie verskriklike week in Julie.”

Hy het groot verwagting van die rol wat geloofsgemeenskappe kan speel – al is dit dan ook omdat hy ontnugter is deur ander rolspelers. “Ons moet ophou vertrou in politici. Ons heil lê nie by die politieke klasse nie,” meen Du Preez. Ons moet demokrasie hê, dit gee vir ons basiese vryhede … “maar ons moet kyk na die burgerlike samelewing, die geloofsgemeenskappe, die media en die burgerlike aktiviste. Dis waar ons heil lê.”

Word 'n vriend van Kerkbode

3 thoughts on “#Lentekonferensie – Dag 2: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

  1. Muller Oosthuizen says:

    Dominees en kerke moet luister na sulke profete en aan die hand van die Woord sif watter waarhede ons gehoor aan moet gee. Ons moet net nie die profesieë mis-luister nie.

  2. Sarel Strydom says:

    Ons lees weer eens van die “geleerders” se mening. Waar kom ons gewone mense in…
    Ons menings en idees word soos altyd geïgnoreer. “Verligting” in die “Kerk”
    Jy kan nie die “Woord” of God moderniseer en “Verlig” maak deur aan te pas by “die Mens” se “Verligte” standaard nie.

  3. Dr. Gerrie venter says:

    Sarel, Ek deel jou sentiment hier bo

Comments are closed.