Caro Botha* | NG Saldanha

Lewe

Sy het baie gespanne oorgekom toe ek haar die eerste keer gesien het. Eers het ek gedink dit is omdat sy gejaagd is, maar later het ek verstaan. In ’n kafee met anti-Covid-plastiek om die aansit-area sit ons by ’n tafel. Sy is eintlik op siekverlof, vertel sy. Sy is offisieel uitgebrand. Toe verstaan ek die effens opgetrekte skouers, die veraf kyk, die hand wat elke nou en dan deur haar hare getrek word. Die sug wat die pouses in die gesprek vul. Ek voel soos ’n hond dat ons die afspraak het, maar sy sê dis oukei. Skielik wonder ek of dit nie iets van haar verklap nie: hoe sy hou by ’n afspraak wat sy met een geldige rede kon kanselleer.

Caro beskryf die gebeure rondom Covid en die grendeltyd as baie skokkend en onwerklik. Die stappe wat die regering geneem het, het vinnig ’n impak op die samelewing gehad. Sy is verwonderd dat daar ewe skielik, in hierdie uitsonderlike omstandighede, die politieke wilskrag vir verandering was. Vanuit haar konteks as predikant vir ’n gemeenskap wat in minder gegoede omstandighede leef, is sy verstom om te sien watter verandering daar kan wees, as die politieke wilskrag daar is. Dié gedagte laat val sy soos ’n ellips… die drie kolletjies aan die einde van ’n sin wat vra na of daardie wilskrag ook na ander vlakke kan oorvloei…

Intussen doen Caro en die gemeente wat hulle kan. Veral in ’n jaar waarin so baie weerloses juis die hardste getref is. Die Donderdag voor die grendeltyd begin het, het Caro en die gemeente kospakkies aangekoop en hul noodverligting uitgebrei om die gemeenskap te bedien. Hulle het dit “net gedoen sonder vrees,” vertel Caro. Sy het met ’n span vrywilligers gewerk wat vir meer as 100 mense met die voorsiening van kos gehelp het. Hierdie sopkombuis het vir baie ’n pastorale ruimte geword.

Toe daar personeel was wat positief met Korona getoets het, het hul kosprojek tydelik toegemaak. “Almal wat positief getoets het, het darem oorleef” sug sy van verligting. Met die heroopmaak van die sopkombuis was daar minder vrywilligers en die druk op Caro was soveel meer. Tog het dit goed gevoel om te weet dat sy êrens besig was om ’n verskil te maak en iets sinvol te doen, al was dit klein. Vir Caro, was die gemeente se noodverligting in die omgewing ’n suksesverhaal.

Wat die res van die bediening betref, het Caro heelwat uitdagings beleef. Die gemeenskap, wat nie toegang tot data het nie, moes op alternatiewe maniere bedien word. Aan die begin het dit heel goed gegaan, maar mettertyd het dit moeiliker geraak. Caro het tot ’n groot mate verbintenis met die gemeente verloor en nie geweet in watter plek hulle is nie. So ook het die bediening al meer veeleisend geraak. Caro beskryf haar program: elke Sondag preek, tien dae van Pinksterpreke, die week van gebed en die begrafnisse daarby. Die begrafnisse was veral traumaties omdat families nie by hul familielede in die hospitaal kon wees nie.

Gedurende hierdie periode was Caro diep bewus van die kontras tussen die stil, meer gegoede area waar sy bly, en die konteks van haar gemeentelede waar almal altyd in die straat was en sonder maskers rondgeloop het. Sodoende was sy baie blootgestel aan die virus en haar familie was bekommerd oor haar gesondheid. Dit was egter nie Caro se fisiese gesondheid wat gely het in dié tyd nie, maar haar geestelike gesondheid. Die isolasie het mettertyd vir haar al moeiliker geword en die druk van haar werk, sonder die ondersteuning van die kerkraad of breër gemeente het ongelooflike spanning veroorsaak. Selfs met die lig van die inperkinge was daar nuwe uitdagings soos wetlike dispute. Dit is die “goed wat jy nie voor opgelei is as dominee nie.” Al hierdie dinge saam het opgebou tot op die punt waar Caro uitgebrand het.

Op hierdie punt is dit haar ringskollegas en haar sielkundige wat haar ondersteun het. Dit is hier waar sy ruimtes gevind het om te praat sonder veroordeling, waar sy eerlik kon wees oor haar emosies. Wanneer ons oor coping gesels, verduidelik sy: “Jy weet wat jy moet doen, maar jy is so moeg dat jy dit net nie toepas nie.” Selfs die retreat wat sy bygewoon het, wat van groot waarde was, was nie genoeg om haar teen haar uitbranding bestand te maak nie.

“Jy as mens kan nie alles doen nie,” het Caro besef. Dit is, volgens haar, een van die versoekings vir predikante: om redders te probeer wees. Hierdie jaar het vir haar meer as ooit gewys dat predikante dit nie kan wees nie en dat die koste van hierdie versoeking, in terme van verlies aan self en roeping, net te hoog is. Daarom is sy nou juis besig om opnuut te evalueer wat haar roeping in die gemeente is. Sy glo dat dit genoeg is om te fokus op dít wat mens energie gee, maar dat dit telkens moeilik is om dit uit te voer omdat mens graag ander tevrede wil stel. “Jy kan nie jou werk laat bepaal deur ander se verwagtings nie,” meen sy. Sy het die hoop (“dalk is ek naïef,” onderbreek sy haarself) dat dit wat sy kan gee en die fokus op haar talente vir ’n gemeente genoeg kan wees en dat die gemeente vir wie dit nie genoeg is nie, dalk nie die regte gemeente vir haar is nie.

Caro se denke oor God is verskriklik uitgedaag die afgelope jaar. Sy is tans op ’n plek van ontnugtering oor God en sy of haar betrokkenheid in die wêreld. Verder, is haar beeld van God as die sterk, Vaderlike figuur wat in beheer is, uitgedaag, omrede dit nie mense help om hulself te versorg nie. Sy is bekommerd oor die gebrek aan teologie binne die gereformeerde tradisie wat selfsorg en geestesgesondheid ondersteun en is nog op soek na ’n teologie en beeld van God wat wel kan help. “Ek is op daardie quest,” vertel sy: op die reis om nuwe woorde, taal en beelde te vind wat Christene kan help om die barmhartigheid van God te verstaan.

Wanneer ek die woord “lewe” as die lens vir haar verhaal voorstel, haak sy dadelik daarby aan en begin sy met vurigheid oor die idee te gesels. Sy praat oor die manier waarop Korona vir haar herbevestig het hoe belangrik mense en hul lewens is. Dit is so maklik vir die kerk om oor finansies en eredienste obsessief te raak dat hulle hul roeping om tot diens van die wêreld met seer te wees, vergeet. Covid gee egter die kerk die toestemming om te fokus waar die grootste nood is.

Waar sy voor my sit, in survival mode, praat sy oor die lewe wat oor meer gaan as net oorlewing. In die tyd van Korona en ekonomiese uitdagings, moet predikante juis ’n manier vind om mense te help om betekenisvol te lewe en nie net te oorleef nie. God is betrokke en die kerk moet mense help om ’n teologie te ontwikkel wat hulle sal help om te verwoord hoe die mens meer as net oorlewing nodig het. Die mens is immers gemaak om te floreer.

*Skuilnaam