Liefde

Roelien Karsten

Sy teken met haar hande op die restaurant se tafel en gesels lekker. Oor Korona, oor lewe en, belangrikste van alles, oor die liefde. Sy begin by haar aanvanklike belewenis van die nuus en haar gevoel van opstandigheid, omdat sy geweet het dat mense gaan toelaat dat mense siek word inplaas daarvan dat hulle optree. Vir Roelien, oorvleuel die impak van Korona op haar, haar gesin, haar gemeente (St Stephen’s) en die gemeenskap. “Ek as predikant moet verantwoordelik wees en ek het nie genoeg inligting nie.”

Roelien was van die begin af baie besorgd oor haar gemeentelede wat nie noodwendig vervoer het nie en wat in Kaapstad moet inry vir eredienste en dus blootgestel is. Reeds van die begin het die Kerkraad bevestig dat hulle die Here vertrou, maar daar is steeds ’n verantwoordelikheid op kerk om mense te beskerm en nie bloot te stel nie. Vir St Stephen’s, in die hartjie van Kaapstad, was dit in die beswil van die gemeente om nie eredienste te hou nie, maar eerder daaglikse dagstukkies uit te stuur en lewendige uitsendings te versprei.

In die gemeente besef mens nie altyd alles wat jy het nie, sê sy. Dit is maklik om kerk-wees, die samekoms en die betrokkenheid by mekaar en ander vanselfsprekend te neem. In die lig hiervan, mis Roelien die interaksie met haar gemeente, gesprekke oor God en om mekaar deur getuienis te bemoedig. Sy dank God vir die tyd van internet en die voorreg om tog in ’n mate kontak met mekaar te kan behou. “Die Here het ons gereed gemaak vir die tyd.”

2020 het vir Roelien weer opnuut laat besef hoe afhanklik die mens van God is en hoe belangrik dit is dat ons met ons ore naby aan God leef. “Ons beplan, ons wik, maar God beskik,” sê sy. Na ’n jaar waarin soveel sake gekanselleer moet word, is dit met “bewende harte” dat Roelien vir 2021 beplan. Die mens se afhanklikheid van God was vir Roelien in dié jaar net ingeskerp. Sy praat ook van die manier waarop die gemeente se teologie verander het om te onthou dat God in beheer is en dat mens dinge nie vanselfsprekend moet vat nie.

Daar is baie dinge in die lewe wat nie vanselfsprekend geneem moet word nie en vir Roelien is die lewe een van daardie dinge. Net voor Covid is sy met kanker gediagnoseer. In ’n tyd van swaarkry het haar verlange om by God te wees verdiep. Sy het ook vanuit hierdie konteks begin wroeg met die vraag na die betekenis van die lewe. Dit is deur Romeine 6 wat Roelien die boodskap gekry het: “Roelien, jou verstaan van die lewe is reg, maar die lewe wat jy leef op aarde is belangrik.” Met waterige oë verduidelik sy vir my wat sy bedoel: “Ek, Roelien, het altyd gesê dat die lewe by U soveel wonderliker is. Ek het die lewe op aarde as minder geag. Maar my lewe laat God nou al glimlag.”

Sy gaan voort en gesels oor die boodskap wat daar buite is dat die mens leef om ’n doel te bereik. Roelien stem nie saam nie. Die mens leef om vir God vreugde te gee. “Ek wil leef vir God, want hy wil hê ek moet leef!” Juis in hierdie tye wanneer almal met die dood gekonfronteer word, wens Roelien dat sy al lankal besef het dat die lewe op aarde nou reeds vir God vreugde gee en dat dit nie as minder geag beskou moet word nie.

“Die Here is met ons, selfs al sterf ons,” sê sy wanneer sy oor mense se angs en vrees praat. Sy glo ten diepste dat die Here by ons is en dat die mens niks sonder God is nie. Wat ook al die mens in hierdie jaar gekry het, het hulle nie gekry ten danke aan Korona nie, maar te danke aan God. Dit is slegs God se liefde en ons liefde vir God waaraan ons kan vashou en waarop ons kan vertrou – in lewe en in sterwe.