Woede

Michelle Boonzaaier

Michelle sit in haar swart rok voor my, in die skadu van haar stoep. Ons lag en gesels en in my agterkop probeer ek die taal vind om te kan beskryf hoe lig haar persoon en wese is. Haar teenwoordigheid is warm. Haar oogkontak intens. Ons sweef deur die gesprek. Ek met my water, en sy met haar koppie koffie in ’n beker waarop daar staan: Liefde is liefde.

Vroeg-vroeg in die gesprek speel Michelle oop kaarte oor die depressie waarmee sy vir ’n groot gedeelte van haar volwasse lewe, leef. Soos wat ons oor haar depressie gesels, waardeer ek die groot weerloosheid waarmee sy praat, maar ek word ook deur die krag hierin getref. Dit word vir my vergestalt deur die oomblik toe sy haar kop skud en sê: “Don’t pity the depressed. There is so much creativity that goes along with it.”

Met haar depressie in gedagte, het Michelle geweet dat sy so gou moontlik dinge in plek moet kry om haar deur die grendeltyd te ondersteun. Sy praat van ’n ondersteuningsnetwerk, haar geestelike begeleier, gesond eet en haar nuutgevonde liefde vir yoga – iets wat regtig vir haar ’n gawe oor die afgelope jaar was. Op die ou einde was die grendeltyd vir haar ’n ambivalente ervaring, waar sy beweeg het tussen haar liefde en verlange vir mense en haar behoefte aan haar eie spasie. Sy praat van die gawe wat sy dié jaar ontvang het in haar reise saam met ander wie weerloosheid ervaar. Dit het sy beleef in IAM, waar sy werk, maar ook in hul groter predikantespan, waar een van die kollegas aan kanker gesterf het. Om saam met hom te reis in sy laaste maande en weke, was vir haar van ongelooflike waarde.

Haar fokus was wel nie net op hoe sy haarself kan ondersteun nie, maar ook die personeel van IAM en die mense met wie hulle werk. Michelle is aangestel as predikant by NG Brackenfell met die besondere fokus op IAM: ’n Nie-regeringsorganisasie wat in geloofs- en godsdienstige ruimtes werk rondom seksuele oriëntasie en seksuele identiteit. Hulle ondersteun in die besonder die LGBTQI+ gemeenskap en hul families om hul idees oor seksualiteit en spiritualiteit te integreer.

Die LGBTQI+ gemeenskap het in vele opsigte baie swaar getrek in grendeltyd – in die besonder diegene wie se families onbewus was van hul seksuele oriëntasie of identiteit of dié wie se families dit nie aanvaar het nie. Om ondersteuning aan hierdie persone te bied, moes Michelle en haar span nuut dink oor hoe hulle mense sonder data of slimfone kon bereik. Buiten om hierdie items beskikbaar te maak, het hulle gekyk na die voorsiening van kos, taxi-geld sodat mense kan reis vir hormoonbehandeling, en ander praktiese behoeftes wat nuut op hul tafel gekom het. Dit was in hierdie werksomgewing wat Michelle opnuut bewus geword het van die harde realiteit van mense se lewensomstandighede en hul beperkte toegang tot mediese hulp en basiese behoeftes. “That was quite in your face,” vertel sy. Die kompleksiteit van dié omstandighede het bygedra tot haar “serious dip” en tamheid in ’n latere stadium.

In hierdie konteks het Michelle ’n hernude liefde vir Psalm 139 ontwikkel. Die Psalm, so bekend, word egter selde in sy totaliteit gelees. Die verse waarin die Psalmdigter sy woede verwoord, word dikwels net oorgeslaan. Vir Michelle, was dit juis hierdie verse wat oor haar gespoel het en deel van haar wese geword het. “I was angry,” vertel sy, “an angry black woman anger.” Dit was nie klag nie, maar woede, stel sy duidelik. En só het Michelle begin om die Psalm oor en oor te lees, met ’n spesifieke fokus op die woede in die Psalms. Sy het vertroosting gevind in die wete dat God haar woede deel.

Ons het lank stilgestaan by dit wat Michelle bedoel het wanneer sy die woord ‘woede’ gebruik. Eerstens, maak sy dit duidelik, is alle woede nie sleg nie. Sy onderskei tussen kreatiewe en destruktiewe woede. Terwyl sy die laasgenoemde beskou as iets om voor versigtig te wees, voel sy dat daar plek is om kreatief kwaad te wees. “It’s not beautiful, but it’s creative.” Ons gesels oor Jesus se woede in die tempel en Jesus se woede aan die kruis, want die kruis vir Michelle is nie net ’n plek van lyding nie, maar ook ’n plek van woede. Die probleem, sê sy, is dat ons Jesus se woede te mooi probeer uitbeeld. “We reframe anger too quickly.” Ons weet nie hoe om woede goed te ontvang of wat om daarmee te maak nie. Jesus se woede was egter kreatief, skeppend. Dit het nie afgebreek nie, maar gehelp bou, gehelp vorentoe beweeg.

Dit is juis wat Michelle wil doen. Sy wil mense help vorentoe beweeg, maar in die proses staan sy en balanseer met haar een voet in aktivisme, aan die kant van die benadeelde, en met die ander voet in die kerk, ’n omgewing wat tipies meer bevooroordeel is. Sy het egter hierdie jaar haar rol, onder andere as een van die lede van die Wes-Kaap sinode van die NG Kerk se moderatuur, ontdek. Op ’n manier, wil sy ’n profetiese stem wees. Nie uit ’n plek van hoogmoed nie, maar uit weerloosheid.

“I am a light, playful person, a frivolous one with questions,” beskryf haarself. Haar uitdaging, verduidelik sy, is om vas te hou aan wie sy is en terselfdertyd haar stem te gebruik om uit te daag, om te help skep, om kwaad te wees. Deel hiervan is om die kerk te help om weg te beweeg van binêre denke wat die kerk as die giver in gemeenskappe wil bevorder. Michelle is diep oortuig dat die kerk moet leer om ook ontvangers te word van dit wat ander het om te gee en van wie God is.”

Michelle, en eintlik die Psalms, se uitnodiging is dat mense aanhou om opreg deel te neem aan hierdie wêreld – mét hulle gevoelens van depressie en woede. Dit is eers wanneer mens ook hierdie emosies na waarde ag, herinner sy, wat ons die waarde van die ander emosies, die ander verse van Psalm 139, werklik kan waardeer.