Woestyn

Gert Nothnagel

As jy gaan verdwaal tussen Uniondale, Oudtshoorn en George, dan behoort jy dalk net mooi op Gert se voorstoep in Herold (nie te verwar met Heroldsbaai nie) te beland. Nie seker of dit sy huis is nie? Gaan staan op sy stoep en kyk voor jou uit oor die tuine voor die kerk en as jy gelukkig is, mag jy dalk net van die lieflikste rose sien wat jy al ooit teëgekom het.

Dit is nie net rose wat in hierdie area pronk nie. Hier, op die naat van die Tuinroete en die Karoo, word daar met byna enigiets geboer: van die Protea tot die volstruis, die sybok en die kiwi. Daar is hops, koring, neute, vleis, vrugte en bome. Die boerderye het wel swaar getrek die afgelope jaar. Afgesien van die droogte, het Korona die uitvoermarkte omver gewerp en die gemeenskap het dus ’n swaar tyd agter die rug.

Gert self het dit nie maklik in 2020 gehad nie. “Dit was die rofste jaar van my lewe,” begin Gert sy storie as ek met hom oor die jaar praat. Hy beskryf die jaar as ’n perfekte storm: ’n vier jaar lange droogte wat hom en die gemeenskap emosioneel gedreineer het en almal onder finansiële druk gesit het; die paaie van hom en sy vrou wat op die ou einde tog geskei het; en ’n pandemie wat op sy eie hanteerbaar sou wees, maar wat saam met die ander faktore ongelooflike stremming op hom geplaas het. “Dit het my op ’n persoonlike journey gesit wat al my resources gevat het en my emosioneel gedreineer het. Ek kort ’n breek.”

Dit is waar ek Gert vind in sy kantoor in Desember 2020. Aanvanklik, in Maart, was die aanpassings en uitdagings nog lekker. Gert vertel van die eerste Zoom en videovergaderings, van die oggendboodskappe wat hy vir maande lank elke oggend uitgestuur het en hy praat met verwondering oor die mense op die kantlyn wat hy hierdeur kon bereik het. “Dit was ’n wow-ervaring.” Hy erken self dat hy te veel sisteme aan die gang probeer hou het. Na die Julievakansie het hy sy energie verloor en intussen kon hy dit nog nie “opstart” nie. Toe hy einde November net mooi weer spoed wou vang, is die Tuinroete as hot spot verklaar en moes alles weer vir eers tot stilstand kom.

Hy praat van sy omgewing en die natuur in liefdestaal. Gert kan nie uitgepraat raak oor hierdie “most beautiful, ideale bedieningsomgewing” nie. Dit is deur om in hierdie natuurskoon uit te kom (te voet of te fiets), wat Gert die geleentheid kry om asem te skep. Dit is nie net die omgewing wat Gert se hart het nie, maar die mense ook.

NG Herold is ’n familie gemeente met 250 gemeentelede waar eet, kuier en saamkom sentraal staan tot alles wat die gemeente doen en as ’t ware die essensie van hulle kerklike aktiwiteit is. Dit is dus te verstane dat die inperkinge wat sedert die pandemie ingestel is, rof was op die gemeente. Vir die boere, wat grootliks net aangegaan het soos vantevore, was die aanpassings rondom kerk-wees, een van die groter uitdagings en Gert voel dat die gemeente se samehorigheid geaffekteer is deur die gebrek aan hul normale interaksie.

Die gemeente het ’n sterk kultuur van huisbesoek waar Gert tradisioneel van plaas tot plaas en huis na huis ry om kontak met sy gemeentelede te hê. Met die risiko’s van Covid in ag geneem, moes dit egter stopgesit word. “My hele bedieningstyl het tot stilstand gekom.” Vir Gert, die ekstrovert, was dit nie net ’n bedieningskrisis nie, maar ook ’n persoonlike een, aangesien die persoonlike kontak met ander vir hom ’n bron van energie is. Afgesny van die gemeentelede, in ’n eenpersoon gemeente, in ’n afgeleë dorpie, het isolasie byna die nuwe normaal geword. Tog praat hy in dieselfde asem van die goeie verhoudinge en samewerking wat hy in leierskap gehad het. Hy praat oor die waarde van die webinars, kursusse en die briewe van ondersteuning vanuit die Wes-Kaapland se sinodale kantoor.

Die man wie voor my sit is aangenaam en lag baie, maar hy is moeg. Nee. Hy is op. Op hierdie oomblik, waar ek oorkant hom sit, bevind Gert homself in ’n woestyntyd wat hom nie net uitgeput laat nie, maar ook met diepe geloofsvrae. Hy is terdeë bewus van die harde realiteit van die woestyn. Tog gesels ons saam oor God wat voorsien. Dis die God van kwartels en manna en water uit ’n rots. Die teenwoordige God in ’n die vuur- en wolkkolom op ’n moeilike pad.

“Dalk is dit die pad wat die Here stap…” wonder Gert hardop. “Die Here bring ons deur donker of ongemaklike plekke om potensieel ’n dieper verstaan van God te hê.” Gert weet teoreties wat die waarde van die woestyn is en hoe ’n geloofsperspektief op die woestyn lyk. Vir nou vind hy homself egter nog te midde van daardie woestyn. My besoek aan Gert staan vir my uit as ’n hoogtepunt in my navorsing. Deels omdat ek hierdie beeldskone, vrugbare omgewing deur sy oë kon ontdek. Deels omdat ek saam met hom in die woestyn kon sit.