Chris Jones skryf: Oor gasvryheid en sorg vir ander

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Liewe Henda, ek wil net baie dankie sê vir jou bydrae in Kerkbode: Die ongasvrye kerk … toe en nou”.

As daar iemand is wat hieroor kan skryf, is dit jy. Ons het al persoonlike gesprekke hieroor gehad, maar dankie vir jou leeuemoed en dapperheid om jou oortuigings, nóú, op hierdie wyse weer te gee. Ek weet dit was baie goed deurdink.

Dankie vir hoe jy oor jare mense wat weggedwaal het van die kerk, ontnugter en teleurgesteld was/is met die kerk, en buiterand toe geskuif is deur die kerk, altyd met respek, liefde en ’n hart van goud hanteer het.

Jou skrywe het my weer herinner aan my kollega Robert Vosloo se boek Engele as gaste? Oor gasvryheid teenoor die ander wat in 2006 verskyn het.

Lees ook: Is daar ’n ‘belynings­kloof’ tussen die Algemene Sinode en lidmate?

Hierin verwys hy na ’n kortverhaal deur die skryfster Alice Walker, wenner van die Pulitzer-prys, wat in haar bundel In love & trouble opgeneem is. Die titel van die kortverhaal is: “The welcoming table”.

Dit gaan oor ’n swart vrou wat met die trap van ’n kerk opstap. Sy word soos volg beskryf: “the color of poor grey Georgia earth, beaten by king cotton and the extreme weather”.

Daar word op verskillende maniere in die kerk na haar gekyk. Sommige sien die klere waarvan die knope af is. Ander sien haar as ’n huishoudster. Nog ander sien haar as iemand wat die privaatheid van húlle aanbiddingsruimte bedreig.

Maar voordat sy die kerk binnegegaan het, het sy vir ’n oomblik uitgeput voor die kerkdeur gaan staan. By die ingang sê die dominee vir haar: “Auntie, you know this is not your church”. En die verteller voeg dan by: “As if one could choose the wrong one”.

Lees ook: Oor die reg om te verskil

Die vrou stap egter haastig verby hom en gaan sit iewers in die kerk met haar oë stip op die gebrandskilderde vensters van die kerkgebou.

Sy bewe van die koue in die kerk. ’n Plekaanwyser stap na haar en fluister dat sy die kerk moet verlaat, terwyl sy mompel dat hy moet padgee. Uiteindelik word sy wel uit die kerk verwyder.

Nou word daar soos volg verder vertel: “Inside the church it felt warmer now. They sang, they prayed. The protection and promise of God’s impartial love grew more not less desirable as the sermon gathered fury and lashed itself out above their penitent heads”.

Buite op die trap, kyk hierdie vrou verwilderd rond. Sy begin saggies sing, soos sy ook in die kerk saggies by haarself gesing het. Hierdie keer ’n treurige lied.

Dan kyk sy met die hoofpad langs, en sien iemand aangestap kom wat vriendelik lyk. “Coming down the highway at a firm though leisurely pace was Jesus”.

Lees ook: Ses redes waarom jou jong dominee dalk wil skuif … en wat jy kan doen dat dit nie gebeur nie

Hierdie Jesus lyk soos die een bokant haar bed toe sy nog ’n kind was. Sy vertel hom oor haar lewe. Hoe sy by mense gewerk het, gekook het, skoongemaak het … ook hoe sy pas by die kerk uitgesit is.

Sy hou aan met stap. Verby haar huis. Sy sing “spirituals” maar “she did not want to annoy Jesus so she quieted down”. En so het sy aanhou loop.

Die mense in die kerk het nie geweet wat van hierdie bejaarde vrou geword het nie en het nooit weer oor haar gepraat nie. Sy is egter later dood langs die hoofweg gevind. Skynbaar het sy haarself doodgestap.

Aan die begin van hierdie unieke kortverhaal herinner Alice Walker die leser aan die volgende “spiritual”: “I am going to sit at the welcome table, shout my troubles over, walk and talk with Jesus, tell God how you treat me, one of these days!”

In die hart van ons geloofsgemeenskappe se identiteit is daar ’n “welkom-tafel”. Die tafel met stukkies brood en glasies wyn. Maar soveel mense beleef dat kerke by uitstek die ruimtes is waar hulle nié tuis voel nie. Liefdeloos. Genadeloos. Wreed.

Lees ook: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

Dit het my weer aan die 2016 Buitengewone vergadering van die Algemene Sinode laat dink waar, soos jy weet, ek en Laurie (Gaum, die skrywer se seun) ook teenwoordig was saam met enkele ander met ons T-hemde “liefde-is-liefde”. Hoe die dames by die registrasietafel ons klompie ondersteuners van die gay-saak toegang geweier het in opdrag van wie ook al.

 Gelukkig het ons ons nie daaraan gesteur nie en op die galery gaan sit. Kwalik het ons gesit of ’n jong man wat deur-diens gedoen het, het ons met die T-hemde gelas om die kerkgebou te verlaat.

 Ek het geweier en toe het hy die vermetelheid om vir my te sê dat as ons nie loop nie, ons “forcibly removed” sal word. Ons het bly sit, en wonder bo wonder is die nagmaal kort daarna aan ons bedien. Ek onthou nog vaagweg my woorde aan hierdie jongman: Hoekom wil julle almal reduseer tot julle manier van dink en julle huisreëls (wat kleredrag betref), anders word hulle uitgestoot?

 Ek onthou baie goed hoe die dames by die teetafel nie vir ons met die T-hemde iets te drinke of te ete wou gee nie. Later het ons gehoor dit geld ook die ander besoekers (waarskynlik nie meer as so 50 nie). Algar moes na ’n nabye kafee toe stap of ry vir iets vir die maag.

Die volgende oggend het ek en Michelle Boonzaaier aangebied om vir alle besoekers teegoed te koop vir die volle duur van die sitting. Ter wille van gasvryheid. Ná samesprekings – met wie ook al – het hulle die aanbod geweier. Ons moes onsself enduit tot die kafee wend. Gelukkig het Hennie (Pienaar) se ma, Emma, ook vir ons gesorg.

Op pad terug het ek besef dat gasvryheid ’n aanduiding is/kan wees van die geloofsvolwassenheid van ’n geloofsgemeenskap. Die woorde van die Kanadese filosoof Jean Vanier het by my opgekom op pad huis toe: “Welcome is one of the signs that a community is alive. To invite others in is a sign that we are not afraid, that we have a treasure of truth and of peace to share … A community which refuses to welcome – whether through fear, weariness, insecurity, a desire to cling to comfort, or just because it is fed up with visitors … is dying spiritually”. 

  • Dr Chris Jones is die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch se Teologiese Fakulteit.
Word 'n vriend van Kerkbode