Erfenis: Watter rol kan kerk speel?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die kerk behoort vierkant in die debat oor plaaslike erfenis te staan en sy plek in veral geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning van plaaslike munisipaliteite in te neem, skryf Hendrik Snyders.

Op die hoek van President Brand- en St Andrewstraat, neffens ’n besige vierrigtingstop in Bloemfontein se sakekern, staan ’n eens statige gebou, die Jubileumsaal van die Vrystaatse NG Kerk. Die statige sandsteengebou, eens die hartklop van die kerk en sy sinodes, is soos vele ander geboue van geskiedkundige waarde, vandag nie veel meer as ’n skadu van wat dit eens was nie.

Naas die opsigtelike verweer, krake en waterskade, het die eens imposante pilare van die gebou ’n advertensiebord vir allerhande seksuele en ander wonderkure geword. Swart rookmerke dui daarop dat die perseel al as ’n skans vir haweloses teen die koue Vrystaatse winters gedien het (en dalk steeds dien).

Die verval en verweer van die eens statige Jubileumsaal van die Vrystaatse NG Kerk het hom aangespoor om te skryf oor die kerk se rol as ‘behoeder van ons erfenis’, sê die historikus dr Hendrik Snyders. Foto’s: Verskaf

Benewens gebrekkige instandhouding en onbruik, is die droewige situasie skynbaar verder aangehelp deur die algemene verval in ’n area wat veronderstel is om ’n erfenisgebied te wees. Nog historiese geboue in die onmiddellike omgewing sluit in die Vierde Raadsaal (Vierde Parlement van die voormalige Republiek van die Oranje-Vrystaat) wat tans dien as die Provinsiale Wetgewer, die Appèlhof, die Nasionale Afrikaans- en Sesotho-letterkundemuseum, Hertzogplein, Bloemfonteinse stadsaal, Waldorfwoonstelle en die Ou Presidensie.

LEES OOK: Sendelinge betaal ereskuld vir Hugenote-erfenis

Die befaamde skrywer, Karel Schoeman, het hierdie argitektoniese en kulturele verval, wat so ver terugdateer as die 1970s, voorsien. Hy skryf onder meer in sy biografie van die stad, eenvoudig getiteld Bloemfontein:

“Wat reeds verlore is, kan natuurlik nie herwin word nie, dog dit geld slegs die tasbare oorblyfsels van die verlede, want wat eenmaal hier gebeur het, het onaantasbaar geword, onherroeplik deel van die stad en sy geskiedenis. Slegs deur kennis daarvan en ’n poging om dit ook te begryp, kan die hede verstaan word en kan dit sin verkry” (p 307).

Alles is egter nie verlore nie. Daadwerklike optrede in die hede kan ’n wesenlike verskil maak om dié erfenis te red, maar indien ons misluk, oorhandig ons aan die nageslag ’n blind-dowe toekoms. Een waarvan hulle niks weet nie, en wat hulle weinig sal pla.

Die sleutelvraag is egter: Hoe gemaak om ’n onomkeerbare situasie te voorkom? Meer nog, wat behoort nie-erfenisorganisasies, ingesluit kerke, se bydrae tot erfenisbewaring te wees in ’n era van naamsverandering, dreigende onteiening, alles-moet-val, en dergelike ander sake? Wat behoort ’n kerk se benadering te wees wanneer haar eie erfgoed weens gemeenskapsterfte en selfs armoede verkoop moet word?

Ek meen die kerk behoort ’n aktiewe deelnemer aan die openbare debat aangaande monumente, embleme, simbole, nasionale versoening, armoedebestryding ensovoorts te word. Hierdie taak vereis innoverende en oopkop denke aangesien dit vereis dat die kerk nuwe terreine moet betree soos om betrokke te wees by omvangryke regeringsprosesse soos dorpsbeplanning, behuisingsontwikkeling en gemeenskapsdienste. Hierdie betrokkenheid is feitlik ononderhandelbaar aangesien hierdie prosesse en die uitkomste daarvan juis daartoe aanleiding gee dat gemeenskappe dikwels verarm, verdryf en verdeel word en die gewone gemeentelid van ’n gevoel van ‘heimat’ ontneem word.

Sover dit erfenis betref, is die gewoonte om die bevordering en bewaring daarvan alleen maar aan kultuurorganisasies oor te laat, ook onherroeplik verby.

Die kerk as ’n geheel, ongeag denominasie of tradisie, gegewe sy wortels op voetsoolvlak en sy staanplek binne gemeenskappe, behoort vierkant in die debat oor plaaslike erfenis en sy plek in veral geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning (GOP) van plaaslike munisipaliteite te staan. Die GOP-proses is per slot van sake die proses en plek waar bestedingsprioriteite en die finaniёle beplanning vir ’n vyf jaar-periode vasgemaak word en wat direk bepaal die mate waartoe dorpenaars en township-bewoners gehaltediens of selfs geen dienste nie, gaan ontvang.

Swart rookmerke, krake in die mure en geplakte advertensies vir ‘seksuele en ander wonderkure’ ontsier die gebou wat eens die ‘hartklop’ van die kerk en haar sinodes was.

As gemeenskappe munisipale besteding aan erfenisplekke, fasiliteite, gedenkareas en dergelike ander sake as ’n integrale deel van munisipale regering wil sien, behoort die agenda van die kerkraadsvergadering, benewens sinodale aangeleenthede, ook items oor institusionele betrokkenheid by wykskomitees, die monitering van raadsvergaderings, toerisme-ontwikkeling en ’n wye reeks ander sake, te bevat. Dit is juis in hierdie prosesse dat randkwessies, hoof- en uiteindelik bestedingskwessies en implimenteringsplanne, word.

LEES OOK: #innovasie: Die meeste ooit kan teologiese opleiding kry

Daarom is dit ook nodig en behoort dit nie vreemd te wees nie vir kerkrade en sinodes om daadwerklik betrokke te wees by die vind en nominasie van kundige kandidate om op sleutelkomitees soos die munisipale oudit- en wykskomitees te dien. Sodanige gemeentelede behoort selfs gemotiveer te word om benoemings in hierdie verband te aanvaar as ’n uitdrukking van die kerk se verbintenis tot etiese regering, ter bevordering van gesonde openbare-private vennootskappe en deelnemende regering, om raadslede verantwoordbaar te help hou, en ter bewaking en beskerming van die belange van die armes en die wese soos wat die evangelie vereis.

Wanneer kerke hulle eiendom vervreem, is daar steeds ’n mate van toesig wat oor die verdere lot en gebruik van sodanige gebou behou kan word sonder om met die nuwe eienaars se regte in te meng. Allereers moet sorg gedra word dat geboue ouer as 60 jaar, as gedenkwaardig beskou en geleë op ’n plek van historiese belang, op ’n vroeë stadium by die toepaslike erfenisraad of agentskap soos byvoorbeeld Erfenis Wes-Kaap en sy eweknieë as erfenisgebied of terrein gelys word. Verder behoort die voorgenome verkoop ook onder die aandag van plaaslike erfenisorganisasies gebring te word sodat die herontwikkeling of afbreek van strukture en terreine ooreenkomstig die normale erfenisriglyne, deurlopend gemonitor kan word. Plaaslike gemeentes en gemeentelede moet dit dus as hulle plig opneem om seker te maak dat hulle godsdienstige erfenis nie die slagoffer van bloot spekulatiewe en argelose verhandeling word nie.

In kort, die kerk, ooreenkomstig die Bybelse beginsel van “my erfenis is vir my mooi”,  het dus geen keuse as om ons erfenis se behoeder te word nie. As toeskouerskap en ’n voorkeur aan slegs die geestelike sonder die stoflike, ons primêre opsie is, dan herinner Karel Schoeman ons in sy onheilspellende laaste woord: “Kyk goed na daardie stad. Dit sal nie meer lank bestaan nie” (bladsy 303).

  • Dr Hendrik Snyders is tans hoof van die Departement Geskiedenis aan die Nasionale Museum in Bloemfontein. In ’n vorige lewe was hy ook werksaam in sekondêre onderwys, korrektiewe dienste, plaaslike regering, museums en rugby-administrasie. Suid-Afrika se swart rugbygeskiedenis is sy spesiale belangstelling en sy boek Blitzboks: A history of rugby sevens in South Africa, c 1904-2019 (Naledi) het onlangs verskyn.
Word 'n vriend van Kerkbode