Die positiewe krag van Deon Meiring se musiek

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Dit voel vir my asof ek so ’n bietjie van ’n vertraagde ervaring daarvan gehad het,” vertel Deon Meiring toe ek hom uitvra oor die effek van die Koronapandemie op sy loopbaan as musikant. Hy en sy vrou Zinelda, wat illustrasies doen vir kinderboeke, het kort voor die Covid-19-pandemie na Wellington in die Wes-Kaap verhuis.

“Ek het genadiglik tydens die eerste lockdown baie ondersteuning gehad en ook die geleentheid gekry om van my musiek in ’n TV-reeks te hê. Intussen voel dit asof elke vlaag nuwe uitdagings bring. Meer venues kry swaar en mense wat oor die algemeen swaar kry sukkel ook om musiek op die gewone maniere te ondersteun. Ek skryf en skep nog, maar moet nou meer spaarsamig wees met goed soos ateljeetyd. Buiten lekker optredes sonder al die bekommernisse van ’n pandemie is dit waarna ek nou nogal smag – om nuwe musiek behoorlik op te neem en uit te gee,” sê hy.

Ek vra hoe lyk die tipiese dag op Wellington in Deon Meiring se lewe.

“Ek het nie iets soos ’n tipiese dag nie,” sê hy, “behalwe dat huistakies ’n manier het om baie konstant te bly – veral omdat ek en my vrou beide van die huis af werk. Miskien moet ek weer Brother Lawrence (oor nederigheid en diensbaarheid) gaan lees. Die vervelige deel van die musiekbedryf wat mense maklik onderskat, is dat daar maar heelwat dinge is wat gereël moet word, met ander woorde: admin! Buiten dit probeer ek elke dag skep. Ek skryf ’n weeklikse brief wat ek die wêreld instuur as ’n video en ek skryf natuurlik aan musiek en soms ook gedigte.”

Hy vertel van uitdagings, maar ook unieke geleenthede die afgelope jaar. Soos die TV-reeks waar hy onder andere die geleentheid gehad het om saam met Koos Kombuis te werk.

Deon se musiekloopbaan is reeds vroeg gebore – om dit sagkens te stel. Hy en ’n paar vriende het Glaskas in graad nege in Hoërskool Nico Malan op Humansdorp begin. Na skool het hy en Bouwer Bosch Dans Dans Lisa geloods en die laaste paar jaar het daar toenemend nuwe solo-albums verskyn.

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg | Om vanaf ’n afstand te kyk

Ek het Deon die eerste keer ontmoet by Fontainebleau Gemeenskapskerk, ’n NG gemeente in Randburg, waar hy vir ’n tyd lank deel van die bedieningspan as musiekleier was.

Deon kom ’n lang pad met die kerk. Sy ma is vandag nog skriba by die gemeente waar hy grootgeword het op Humansdorp. Na skool het hy behalwe vir ’n graad in Kommunikasie met Skryfkuns en Video as hoofvakke by Noordwes-Universiteit, later ook ’n meestersgraad in Teologie by Tuks gedoen.

“Ek het op skool besluit ek wil ’n sendeling word,” sê Deon.

Dinge het anders uitgewerk, sou ’n mens met die eerste oogopslag kon dink, maar nie heeltemal nie – hang af wat jou definisie van “’n sendeling” is.

Dalk is dit juis dié tipe sendeling wat ons vandag nodig het, dink ek hardop.

Lees ook: Christo Benadé | Ons verdwaal met ou kaarte

“Ek spot altyd en sê: ek reis baie, ek het ’n boodskap en ek maak min geld … dit is nogal in lyn met daai oorspronklike sendelingprentjie!” lag Deon.

Ons gesels oor die unieke uitdagings vir die kerk in Suid-Afrika vandag. Ek vra hom oor die uitdagings en die rol wat die kerk veronderstel is om te speel, in ’n tyd soos hierdie, in ’n land soos hierdie, aan die suidpunt van Afrika.

“Ek is bekommerd wanneer ek sien hoe debatte mense meesleur tot op die punt waar ons mekaar seermaak,” sê hy. “Die versoeking is groot om ’n vertrekpunt te hê dat Jesus altyd aan my kant is eerder as om eers te wonder en te luister wat Jesus se kant van die saak dalk regtig sou wees. Op die oomblik lyk dit vir my asof moeilike gesprekke aan die orde van die dag is. Baie van hierdie gesprekke is nodig, maar ook genuanseerd en ingewikkeld. Dit is menslik om reg te wil wees, maar ek dink dis ook belangrik om te vra hoe om medemenslik te wees in sulke omstandighede.”

Die hardnekkige verdeeldheid onder ’n al groter groep mense in ons land bekommer hom.

“Ek dink baie van die uitdagings wat ons in die gesig staar, maak dit eintlik nodig dat mense oor verskeie skeidslyne heen saamwerk. Dit vra dat ons ’n verbeelding moet hê wat baie wyer strek as net ons elkeen se individuele behoud,” sê hy.

Lees ook: Die meeste ooit kan teologiese opleiding kry

Wat sien hy raak wat wel werk? Watter dinge is daar wat Deon in die kerk en die gemeenskap raaksien wat hom hoop gee en waarop ons moet voortbou?

“Kuns, of dit nou visueel, woordkuns, musiek, humor of wat ook al is, het ’n manier om die goeie en die skoonheid aan te hou wys, dikwels selfs wanneer dit krities is. Ek dink ’n ander maklike plek om die goeie te sien is om nie net in ’n skerm vas te kyk nie. Sodra ek in die lewende lywe beweeg, is daar weer baie goedheid om te sien,” sê Deon.

“Ek sien in die kerk ’n besonderse potensiaal om mense wat op allerhande maniere verskil nader aan mekaar te bring en te leer hoe om mekaar lief te hê en te versorg. Dit is waar ons kan raaksien dat ons ander keuses het as die voor die hand liggende manier van doen. Ek is ook hoopvol wanneer ek sien daar is gewone mense wat nie elke dag die nuus haal nie wat nietemin aanhou om hulle deel te doen om vir ons land om te gee. Dis soms so naby en eenvoudig soos bure wat plante vir ons tuin aandra en ander kere is dit ’n vreemdeling wat ’n ekstra myl stap.”

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode