Kô, lat ons sing!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Wat is dit waaraan gelowiges dikwels in hulle laaste dae vashou? Party maal is dit ’n geliefde Bybelvers, veral ’n psalm, soms ’n gebed, maar heel dikwels is dit ’n lied. Waarom? Hoekom nie ’n roerende preek of ’n hoofstuk uit ’n katkisasieboek nie?

Deel van die antwoord is opgesluit in die woord “herhaling”. Liedere is tekste wat mense saam met ander geleer en met hulle lyf voortdurend herhaal het. En soos wat die liedtekste in herhalende praktyke uitgevoer is, is hulle in lywe gegraveer en het die liedere die persone wat hulle gesing het, se stories help skryf.

Ek lig dalk teologies my wenkbroue vir daardie ou groen Hallelujaboekie, maar ek doen dit net totdat ek genoeg tyd in ’n siekeboeg spandeer het waar sterwende lippe dit wat hulle oor die jare gevorm het, lê en herhaal – “strome van seën van bowe”, “wat ’n vriend”, “daar’s ’n dierbare kruis”. Natuurlik ook “net soos ’n herder”, “’n vaste burg” en “Here, hoeveel blye dae”.

LEES OOK: Minder is meer

John Witvliet gebruik die beeld van ’n taalskool om die vormende potensiaal van dié soort praktyke te verduidelik. Soos wat sy kinders nie op ’n natuurlike of spontane wyse geleer het om “asseblief, dankie en jammer” te sê nie, so doen gelowiges dit ook nie van nature nie. Sy kinders het dit deur middel van herhaling oor ’n langer tydperk leer doen. Hulle moes dit aanleer. En dit is hier waar die praktyke wat gereeld herhaal word inkom. Dit is deur herhaling, Sondag na Sondag, dat ’n sekere taal aangeleer word – veral ook deur sang. Vir eeue lank is mense al, liedboek in die hand, in gesprek met God. En soos Witvliet se kinders se taal, kom liturgiese taal ook nie vir ons natuurlik nie. Ons moet dit aanleer deur herhaling en ons sang doen dit by uitstek.

Natuurlik het ons almal iets anders om vir God te sê, aangesien ons lewe so verskillend is. Almal het nie op ’n gegewe oomblik die behoefte om presies dieselfde woorde te herhaal nie. Dit is juis hier wat die taalskat van die psalms wat die volle reikwydte van menslike belewenisse omvat, inkom. Ook ’n ryk bron soos ons Liedboek van die kerk wat nie sommer gister tjoeftjaf aanmekaar gesit is nie. Die psalms en liedboeke bevat ’n ryk teologiese taalskat wat oor eeue tot stand gekom het. En al is dit wat ek nou sing nie noodwendig wat ek nou beleef nie, is dit wel goed dat ek dit hoor en beleef dat dit vir ander nou betekenisvol is. En so leer ons al singend en luisterend ’n gedeelde taal aan, ’n taal wat ons vorm.

LEES OOK: Wie is dié wat weet?

Ons het lanklaas behoorlik gesing, want dit is te gevaarlik. Op Kieskerk sien ek is daar heelwat preke, en dit is kosbaar vir lidmate. Maar, o VONKK, mense, Covid-protokols in ag genome, beter ons vinnig weer begin sing. Ons liedere wat ons sing, en weer sing, en weer sing, ook daardie psalms wat ons sing en gesonge gebede en geloofsbelydenisse waarvan die woorde al deel van ons lyf geword het, skryf en herskryf voortdurend wie ons is en wie ons besig is om te word. En ons moenie net enige iets sing nie, ons moet weer uitkom by die taalskat van die psalms en die Liedboek, ook VONKK en Flam. Dit is ’n taalskat wat ons nie net bevestig in wie ons is nie, maar ’n teologiese taalskat wat ons verder rek as waar ons reeds is. So word ons getroos vir waar ons nou is, maar alreeds ook gebrei vir die “pandemies” wat daar in die toekoms op ons wag.

Ons jongste het vir ’n jaar sy viool laat eenkant lê, glo ’n blaaskans geneem. En nee, hy was toe nie ’n jaar later lekker uitgerus en ’n beter violis nie, inteendeel. Dieselfde geld vir sing.

Dus, en in die woorde van Adam Small: “Nou vrinne/ die Here het gabring/ aan my sy wonnerwerke oek so/ hy het gavra wat’s in my hand/ en vrinne/ in my hand was my kitaar/ kô, lat ons sing.”

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode