Die reg om te herstel

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Sir, don’t spend any money on that. Throw it away. We have a selection of new models in store.” Dit was wat die man van die grassnyerwinkel vir my gesê het toe ek bel om te hoor of hulle my heiningknipper kan regmaak.

Verlede maand was dit die mikrogolf­oond. Alles werk nog, maar die elektroniese bord, die PC board soos die man by die herstelwinkel dit noem, het ge­blaas: “Jammer, Meneer, ’n mens kry nie meer daardie PC board nie. Ek sal die masjien vir Meneer weggooi.”

LEES OOK: Ligloop vir die pyn van 1986

Die meeste van ons ken hierdie ervaring: Die wasmasjien, skottelgoedwasser, strykyster, koffiemaker of sel­foon is stukkend. En nee, niemand kan dit regmaak nie, die onderdele is nie beskikbaar nie. Wat verwag jy, die ma­sjien is darem al vyf jaar oud.

Die moeilikheid is dat baie groot maatskappye baie geld maak uit apparate wat nie herstelbaar is nie of wat selfs ontwerp is om net vir ’n beperkte tyd te hou.

Op baie plekke in die wêreld is daar nou ’n reaksie hierteen. “The right to repair” beweging wil ’n kultuur van herstel terugbring. Hulle doen dit deur druk op groot maatskappye te plaas om handleidings en onderdele vir herstelwerk beskikbaar te stel. In die VSA en sommige Europese lande word wetge­wing deurgevoer wat herstel moontlik en maklik maak. Organisasies soos iFixit of Restart speel hierin ’n groot rol.

LEES OOK: Bespreek nou: Toergids-dominee hervat pelgrimsreise met LiG-toere

Het dit iets te doen met ’n lewe in pas met die lewende God? Ek dink wel so.

Eerstens kan ons eenvoudig nie aangaan met hierdie weggooikultuur nie. Die aarde kan dit nie vat nie. Dit is ’n skande om ’n yslike skottelgoedwasser te moet weggooi omdat ’n klein elektroniese bord nie meer beskikbaar is nie.

En moenie dink dit is net die grootte van die masjien wat saak maak nie. In die VSA alleen word daar elke jaar 150 miljoen selfone weggegooi. Saam is dit ’n groot hoop afval. Elektroniese afval maak 70% van die volume van toksiese afval in Amerika op.

As ons in pas met God leef, moet ons omgee vir God se aarde. Ons moet eenvoudig loskom uit die weggooikultuur wat nou heers.

Die tweede rede waarom ons moet herstel en agiteer vir herstel eerder as vervang, is omdat God in die herstel-besigheid is. Die heilsgeskiedenis in die Bybel is hoofsaaklik ’n verhaal van God wat soek en herstel. God herstel ons verhouding met Hom en verwag dat ons ook verhoudings met mekaar herstel. Dit gaan egter nie net oor verhoudings nie. Om te herstel eerder as om af te skryf en weg te gooi, is ’n lewenshou­ding, en ons leer dit by God.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode