Tutu op 90: Wat die aartsbiskop my (steeds) leer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dis Desmond Tutu se verjaarsdag. Hy is 90. 

 Oral op my sosiale media-tydlyn kom plasings op wat hierdie mens gedenk en gelukwens. Heelparty van my vriende en kennisse deel foto’s: hand om die lyf met die nou afgetrede aartsbiskop. 

 Ek onthou skielik ’n dag (16, 17 jaar gelede?) op OR Tambo-lughawe toe ’n kort swart man, sy vrou en (vermoedelik) ’n paar gesinslede langs my op ’n wagbankie kom sit het. Ek het gedraai, vriendelik geknik, net om te registreer dat dit die Nobelpryswenner en van sy mense is. 

 My gedagtes was eensklaps ’n warboel. 

 Moet ek ’n geselsie aanknoop? Gee hy om as vreemdelinge dit doen? Probeer ek sy privaatheid respekteer of sukkel ek met my eie onbeholpenheid en wit skuld? Hoekom is dit nie net eenvoudig nie? Sou ek kon vra vir ’n foto? Sê nou ek moet hom vertel dat ek ’n NG predikant is? Sal sy vredemakery my kan insluit?

 Sug. 

 Ek het niks gedoen nie; dalk wel weer geglimlag, maar dit was dit. Ek was bang en onseker. 

LEES OOK: Frits Gaum het in November 2001 vir Kerkbode ’n onderhoud met  Tutu gehad

 Vandag is ek spyt daaroor, maar dis water onderdeur die brug. 

 Sy verjaarsdag dwing my gedagtes al heeloggend in een rigting: hoekom hy destyds, vóór 1990, gedoen het wat hy gedoen het, gesê het wat hy gesê het en ge-march het waar hy ge-march het. 

 Ek onthou wat ek oor hom geleer is. (Vul ’n lang lys onvleiende woorde hier in.) 

 Ek onthou dat hier teen 2012 se koers, toe ons gemeente etlike maande lank sy weergawe van Bybelstories getiteld ‘God se Kinders’ aanbeveel het as handige leesstof vir kleuters en laerskoolkinders, iemand vir my uitgewys het dat ek die boeke van ’n terroris bemark en dat dit daarom van my ook een maak. 

 En terwyl ek in Oktober 2021 verkiesingspraatjies en -advertensies oor die radio hoor en bedelaars en groot gate in Johannesburg se strate probeer misry en wonder hoeveel rommel daar nog in die Hennopsrivier gaan beland en of almal wat sulke ondraaglike blink karre ry (party wit, party swart) ’n eerlike dag se werk doen en hoeveel shacks gaan wegspoel as die groot reën wat vir vanaand voorspel is kom, onthou ek die profetiese rol wat sommige stemme binne die Christelike kerk in lande soos die VSA, Duitsland en Suid-Afrika oor die jare heen gespeel het om te sê: ‘Dis nie reg nie.’ 

 Dis steeds nie reg nie. 

LEES OOK: Ligloop vir die pyn van 1986

 Daarom móét ek myself afvra wat dit moontlik ’n klein bietjie beter kan maak; ’n klein bietjie meer rég. 

 Ek móét dink oor my gesindheid en my woorde, ek moet seker maak dat daar ten minste ’n klein bietjie hoop (en liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing) in my hart oor is. 

 Ek moet bly vra wat goed en waar en reg en mooi is. 

 En soos my susters en broers voor my, soos die Eerwaarde Tutu, wéét ek wat die Here van my vra. 

 Ek sou kon kies om hakke in te skop en dáárteen te stry. 

 Maar eintlik weet ek.

Word 'n vriend van Kerkbode