Deel 2: Ons vat God nêrens heen nie, Hy is reeds daar

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Hierdie is ’n reeks van artikels waar die skrywer poog om die kontoere van die teologiese middelgrond vir die NG Kerk te beskryf. In hierdie aflewering kyk Christo Benadé hoe die liefde binne die Drie-eenheid oorspoel in die wêreld en ons daarmee saamsleur.

Prof Stephan Joubert vertel onlangs dat hy op die OR Tambo-lughawe ’n Amerikaner sien wat breëbors en met ’n vonkel in die oog rondloop met ’n T-hemp waarop staan “We bring God to Africa”. Buiten dat dit swak teologie is, is dit ook nogal arrogant. Ons weet dat God al lankal hier is en dat die evangelie van hoop en verlossing deur Afrikane regoor die wêreld verkondig word.

LEES OOK: Deel 1: Ons verdwaal met ou kaarte

Voor ons te verontwaardig raak oor die Amerikaner se (goedbedoelde?) arrogansie, moet ons dalk hand in eie boesem steek. Leef hierdie verstaan van sending nie ook maar sterk in ons nie – dat ons vir God na die onbereiktes gaan neem en hulle tot bekering bring? Vir baie dekades was dit die dominante siening van sending. Rondom 1930 begin Karl Barth ons daarop wys dat die Bybel vir ons ’n ander beeld gee van God se handeling met sy wêreld. Hy gebruik die term missio Dei wat “God se sending” beteken. God is besig met sy triomftog deur sy skepping en ons is bevoorreg dat Hy ons saamneem hierin. Die liefde wat daar in die Drie-eenheid is spoel oor in die wêreld en ons word daarmee saamgesleur. Ons roeping om te getuig lê in wie God is. God het nie ’n sending nie, God is sending. Die kerk is nooit die een wat ander die wêreld instuur nie, ’n gehoorsame kerk is self gestuur. Die kerk het nie ’n sending nie, maar is sending.

Hierdie siening van die missionale roeping van die kerk het heelwat implikasies vir hoe ons vandag en in die toekoms gaan kerk wees. Eerstens moet ons mooi dink oor ons sendingbegrip. Ons stuur nie sendelinge uit na plekke waar God nie is nie. God is reeds oral, God is besig om sy koninkryk te vestig en Hy nooi ons om by Hom aan te sluit. ’n Onlangse gesprek met dr Stephan van der Watt van Missie Japan was vir my so ’n lekker ervaring. Stephan vertel hulle is Japan toe om die kerk daar te gaan ondersteun en so deel te raak van die missio Dei. God werk reeds deur sy kerk in Japan, dalk klein en broos, maar vir seker. Die uitstuur van “lone rangers” die vreemde in, getuig nie van die korrekte verstaan van die missio Dei nie.

Tweedens is dit eintlik ’n vreemde gedagte dat ons gemeentes ’n aparte sendingkommissie moet hê. Die werklikheid is dat gemeentes se sendingkommissies in baie gevalle fokus op die finansiële en gebedsondersteuning van sendelinge “daar ver”. Niks fout hiermee nie, maar dit kan nie al wees nie. Die missionale verantwoordelikheid van die gemeente kan nie net by ’n sendingkommissie lê nie. As die gemeente missionaal is, is elke dimensie van gemeentewees missionaal. So byvoorbeeld as ons basaar hou moet ons onsself afvra, hoe gaan hierdie basaar die liefde van die Here uitdra?

Derdens moet ons missionale aktiwiteite baie meer geïntegreer wees. So byvoorbeeld moet barmhartigheid en sending eintlik een aktiwiteit wees – die een kan nie sonder die ander nie. Ons geboue kan nie koue heilige ruimtes word nie, maar moet getuig van die uitreikende hart van God. Ons eie kerkgebou word deur ’n skool met openlike Christelike waardes gebruik. Die werklikheid is dat van die kinders en ook van die onderwysers, Moslems is. As lidmate ongemaklik voel om die Moslems in ons kerkgebou te sien, is dit lekker om te vertel hoe ek gedurende die oggend in my kantoor hoor hoe Bybelstories vir hulle gelees word en hulle “Jesus-liedjies” sing. Ons hoef nie ver te gaan om Moslems te bereik nie – hulle kom na ons toe.

LEES OOK: Dalk is dit tyd om nóú ‘missionaal’ kerk te wees?

Laastens en dalk die belangrikste implikasie, is dat as ons wil onderskei waartoe God ons roep, ons eers moet gaan kyk waar God reeds werk en daarby aansluit. God werk reeds in ons gemeenskappe, deur kerke, nie-kerklike organisasies en ook deur individuele gelowiges. As ons fyn kyk en mooi luister sal ons van hierdie werk bewus raak. Dit is hoe God ons innooi om deel te raak van die missio Dei. Ons eie mooi pogings sukkel meestal om van die grond af te kom. Is die rede nie dalk omdat dit óns mooi pogings is en nie God se werk nie?

Jürgen Moltmann beskryf die missio Dei so raak as hy skryf: “What we have to learn from them (missionary church) is not that church ‘has’ a mission, but the very reverse: that the mission of Christ creates its own church.”

  • Dr Christo Benadé is predikant van die NG gemeente Suiderstrand en voorsitter van die Ring van Somerset-Wes.
Word 'n vriend van Kerkbode