‘Mense kies nie om óf homoseksueel óf heteroseksueel te word’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Gert Maritz van Brackenfell skryf:

Vir baie jare al is die onverkwiklike debat oor homoseksualiteit in die kerk aan die gang. Die rol van die wetenskappe in die debat is baie onderspeel. Na my mening is dit nodig om die wetenskappe oor homoseksualiteit te laat “praat” en dat daar na die “stem” van die wetenskappe geluister word. Die wetenskappe is tog ’n werktuig wat God in ons hande geplaas het om duidelikheid te kry oor ’n menigte van biologiese en sielkundige vraagstukke.

Só het die wetenskappe onder andere gehelp om siektes hok te slaan, voedselsekuriteit en lewenskwaliteit te verbeter, en om ’n entstof vir COVID-19 te ontwikkel. Die wetenskappe het ook bygedra tot die beter verstaan en behandeling van geestesiektes sodat sulke mense ’n normale lewe kan lei. Dit is dus nodig om te luister wat die wetenskappe ons leer oor homoseksualiteit en dit ernstig op te neem.

LEES OOK: Die ongasvrye kerk … toe en nou

Ongelukkig probeer sommige Christene om die wetenskappe te gebruik om te bewys dat homoseksualiteit ’n keuse is. Hulle beweer dat, omdat daar nie ’n “gay geen” is nie, mense nie gay gebore word nie. Hulle is in een opsig reg. Wetenskaplikes is dit ook eens dat daar nie ’n “gay geen” is nie – ook nie ’n “heteroseksuele geen” nie. Dit beteken egter nie dat homoseksualiteit nie ’n genetiese oorsprong het nie. Onlangse genoomstudies, waartydens bykans 500 000 deelnemers uit verskeie lande getoets is, het aangetoon dat daar ’n aantal klein genetiese verskille is tussen homoseksuele en heteroseksuele persone. Hierdie verskille se kumulatiewe effek is dat homoseksuele persone so gebore word. Bogenoemde studie bevestig ook die bevindinge van vorige studies.

LEES OOK: ‘Ek is jammer vir die pyn’ – Bartlett aan Van Wyk

Behalwe vir genoemde genetiese verskille is daar ook verskeie strukturele verskille tussen die brein van hetero- en homoseksuele mense. Hierdie verskille is permanent. In die fisiologie weet ons dat strukturele verskille hand aan hand gaan met funksionele verskille van die betrokke orgaan. Skanderings van die brein van homoseksuele mense toon dat die areas van hulle brein wat verskil van dié van heteroseksuele mense, die areas is wat, byvoorbeeld, emosie, gemoedstoestand, angstigheid en aggressie beheer. Dit bepaal ook hulle selfdegeslagaangetrokkenheid. Hierdie verskille, anatomies en funksioneel, is alreeds tydens swangerskap vasgelê en is permanent.

Die genetiese, asook strukturele verskille in die brein van homoseksuele mense, kan nie weggewens word nie, want dit is geneties vasgelê. Geen terapie kan dit “genees” nie. Dus, net soos wat die breinstruktuur, genetiese, epi-genetiese en selfs hormonale kenmerke van heteroseksuele mense nie verander kan word nie, so ook nie dié van homoseksuele mense nie. Mense kies dus nie om óf homoseksueel óf heteroseksueel te word nie. Hulle word so gebore.

Word 'n vriend van Kerkbode