Willem Nicol – ’n vars stem in die stilte

“In vandag se media-oorheersde wêreld word godsdiens dikwels te besig, te veel entertainment en crowd pleasing – en verloor daarmee aan diepte, heiligheid en heilige eenvoud.”

So sê dr Willem Nicol, wat allerweë as die vader van spirituele begeleiding in ons kerk bekend staan. Hy het ook deur sy meer as tien boeke oor dié onderwerp, ons as gelowiges al onmeetbaar verryk. “Die kontemplatiewe kant van ons spiritualiteit behoort ’n gemeente en ’n gelowige se spiritualiteit van bo tot onder te verryk en te verdiep. Die tyd vir ’n besige, rasionele benadering in ons godsdiens is verby,” verduidelik Nicol.

Maar wie is hierdie pionier van die mistieke en kontemplatiewe tradisies se bewusmaking in ons NG kerkgeledere?

Willem Nicol is gebore in Pretoria in die vreugdevolle jaar, 1945, toe die Tweede Wêreldoorlog beëindig is en daar oraloor weer nuwe hoop vir ’n beter lewe ontstaan het. Hy word groot in ’n pastorie waar sy pa sterk evangeliesgesind en ’n groot aanhanger van Andrew Murray (jnr), die tweede seun van Andrew Murray van Graaff-Reinet, was.

LEES OOK: Belese teoloog oor God wat ons ook ‘anderkant verstaan’ ontmoet

As kind het sy pa, dr William Nicol, wat terloops ook later die administrateur van die Transvaal was en na wie die bekende snelweg in Johannesburg vernoem is, ’n sterk invloed op die geestelike ontwikkeling van die jong Willem gehad. “My pa se diep gereformeerdheid het my laat voel dat God nie meer die probleem is nie, want Hy het klaar besluit om ons vriend te wees; ons kan dit net glo – die probleem is om sy wil prakties en effektief te doen,” verduidelik Willem. “My pa was ’n praktiese man wat daarop ingestel was om God se wil ook só uit te leef.”

Nicol voltooi sy skoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, in die volksmond beter bekend as Affies. In hierdie jare was hy dooplidmaat van die Ooskerk, waar die heilige atmosfeer in dié kerk, die diep-treffende boeke van Andrew Murray en die Christelike Studentevereniging (CSV) hom in sy geestelike vormingsjare sterk beïnvloed het. “Ek was toe ook baie evangeliesgesind en het daarvan gehou om stiltetyd te hou,” vertel Nicol.

Na skool behaal Nicol ’n BA en BD aan die Universiteit van Pretoria en later ’n ThD oor die Evangelie van Johannes aan die Teologiese Universiteit van Kampen in Nederland met prof Herman Ridderbos as studieleier. Hy behaal ook ’n tweede ThD oor sosiale etiek aan die Universiteit Stellenbosch onder leiding van sy groot vriend, prof Willie Jonker.

Direk na sy oorsese studies word hy in 1972 as studenteleraar na die Onderwys-Kollege Pretoria (NKP) beroep waar hy vir drie jaar dien. Daarna was hy vir dertig jaar studenteleraar by Universiteitsoord, Pretoria.

In die tagtigerjare word Nicol bekend as een van die NG Kerkleraars wat, op ’n tyd toe dit uiters ongewoon en omstrede was, hulleself sterk teen politieke en kerklike apartheid uitgespreek het, veral in rubrieke in Beeld. Hy inisieer saam met ’n paar ander die Ope Brief van 1983 en neem daarmee ’n duidelike standpunt teen apartheid in.

Dr Carel Anthonissen, goeie vriend en oud-studenteleraarskollega van Nicol, vertel: “My vriendskap met Willem het begin in die jare toe ek ’n leraar in die Aasvoëlkop-gemeente in Johannesburg was. Danksy hom het ek destyds die voorreg gehad om deel te word van ’n uitgelese groepie teoloë en ander kundiges wat in die tagtigerjare een maal per maand in Pretoria vergader het. Die groep het in daardie tyd ernstig nagedink oor die toekoms van die NG Kerkfamilie en die implikasies van apartheid op hulle saambestaan. Deel van die groep was mense soos David Bosch, Willie Cilliers, Denise Ackermann, Adrio König, Fanie Marais, Piet Muller (destyds assistent-redakteur by Beeld) en ’n paar ander. Dit was grootliks as gevolg van Willem se inisiatief dat ek destyds die Ope Brief van 123 onderteken het.”

Nicol word daarna verkies as voorsitter van Reforum, ’n beweging wat as uitvloeisel van al hierdie verset-inisiatiewe teen kerklike en politieke apartheid ontstaan het. “Ons is as dislojale verraaiers beskou en verduur baie verwerping in die Noorde van Suid-Afrika,” vertel hy.

Anthonissen, wat ook die koördineerder van die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit se werk op Stellenbosch is, vertel: “Behalwe dat Willem Nicol as teoloog die onregte van apartheid help ontbloot en bestry het, was en is hy steeds ook ’n pionier wat betref die bewusmaking van die waarde van die mistieke en kontemplatiewe tradisies in NG Kerkgeledere.”

LEES OOK: Verhaal van reis, geloofsworsteling en struggle bied wye blik op volheid van menswees

Tydens hierdie uitdagende tagtigerjare gebeur dit dat Nicol onverwags op ’n verrassende geestelike pad begin stap. Hy vertel: “In 1982 land ek op ’n huweliksverrykingskamp waar ons ook eenvoudige Skrifmeditasie geleer is. Ek het hierdie nuwe rigting van meditasie wat ek sou begin ontgin glad nie verwag nie – dit was een van die Here se verrassings. Omdat dit vir my gewerk het, het ek geleidelik met studente daarmee geëksperimenteer, met baie positiewe gevolge.

“In 1989 publiseer ek toe ’n boek daaroor en kry dikwels kans om dit vir mense te leer. In 1999, weer onbepland en onverwags, kom Thomas Keating se boek oor centering prayer op my pad en dit werk dadelik vir my. Ek begin dit ook leer en skryf die boek, Gebed van die hart, daaroor.”

In 2001 stig Nicol en enkele kollegas die Sentrum vir Spiritualiteit wat as ’n kommissie van hulle ring funksioneer. Op ’n verskeidenheid maniere het dié sentrum kontemplatiewe spiritualiteit bevorder, onder andere deur die kursus in spirituele begeleiding.

Nicol se pad na spirituele begeleiding het as volg verloop: “In 2004 ontdek ons Mary Fisher, ’n Fransciskaanse non wat baie ervaring oor kontemplatiewe spiritualiteit het, en ek volg ’n Enneagram-kursus by haar. Ons oorreed haar om ’n tweejaar-kursus oor spirituele begeleiding aan te bied en ek woon die eerste een in 2006 tot 2007 by. Met die aanbieding van die volgende drie kursusse is ek toe die medeleier. In 2013 is sy terug na die VSA en word ek die kursusleier wat die kursus saam met ses ander aanbied. Sedert 2014 het ons al agt Afrikaanse eenjaar-kursusse aangebied. Deur al hierdie jare doen ek self heelwat spirituele begeleiding en vind dit ’n groot voorreg.”

Nadat Nicol op 61 geëmeriteer het, het hy besluit om ’n praktyk as vryskutleraar te ontwikkel wat op die kontemplatiewe kant van ons spiritualiteit sou fokus. Sedertdien was sy praktyk altyd vol en deesdae, as gevolg van die pandemie, halfvol; ’n aanduiding van hoe groot die behoefte aan hierdie soort bediening is.

’n Deel van Nicol se praktyk behels dat hy die leier van ’n span van drie ander is wat sedert 2006 op Sondagaande die stildiens in Stellastraatgemeente, Brooklyn aanbied. Hulle noem dié stildiens die Adoramusdiens – adoramus beteken ‘ons aanbid’. Hy lei ook weekliks ’n Skrifmeditasiegroep in die suidooste van Pretoria en ontvang steeds landswyd uitnodigings om retreats aan te bied. Voorheen het hy ook gereeld twee keer per jaar een vir hulle ring gelei.

“Wanneer ’n predikant aan kontemplatiewe spiritualiteit blootgestel word, verryk dit sy hele bediening,” vertel Nicol. “Hy word meer bewus van wat hy en sy mense werklik van die lewe en God daarin ervaar; hy leer om God in alle dinge te sien. Kontemplatiewe spiritualiteit kyk nie hoofsaaklik na wat geglo word nie, maar na hoe mense hulle geloof beleef en kan uitleef.”

As jy hom vra watter betekenis hierdie kontemplatiewe manier van bid in ons era van mediavoosheid kan teweegbring en hoe ons ’n meer betekenisvolle verhouding met God en onsself kan hê, antwoord hy as volg: “Ons vereng ons godsdiens deur soveel klem op die rasionele te lê. Die ervaring van God se teenwoordigheid in stilte open ’n mens vir sy geheimnisvolheid en grootsheid. Hy dring dieper in jou ervaring in. Gebed is in die eerste plek om te praat met God, maar ook bloot om te wees by God.”

Hiérdie antwoorde laat my natuurlik dadelik vra watter van sy boeke hy sal wil uitlig as hoogtepunte in die soeke na en padwysers vir ons as lesers. Hy beveel dan hierdie leesstof aan: Verby ons gedagtes (wat onder andere handel oor God Self en God in alle dinge, wat so pas by Bybel-Media verskyn het, Rykdom in eenvoud, Gebed van die hart, In die hande van die Pottebakker, ’n Dieper dors (oor Johannes) en Genooi om te volg, wat handel oor die aardse lewe van Jesus en wat ook deur Bybel-Media uitgegee is.

Dis natuurlik heeltemal te verstane dat, alhoewel Nicol binnekort gaan afskaal ten opsigte van sy betrokkenheid by die Sentrum vir Spiritualiteit, hy sal voortgaan om te help met ’n deel van die kursus, en ook met die leierskap van die Adoramusdiens.

LEES OOK: Ligloop vir die pyn van 1986

En is daar dalk nog ’n boek op pad? “Ek het ’n boek probeer skryf oor die donker nag van die siel, ’n baie diep deel van die Christelike mistiek, maar dit wil nie van die grond af kom nie. Dit lyk my ek is te gereformeerd! Nou is ek besig om ’n boek te skryf oor die sewe tekens in die Evangelie van Johannes. Ek het my proefskrif ’n halfeeu gelede daaroor gedoen, maar het toe nog nie ’n kontemplatiewe benadering tot die Skrif ontwikkel gehad nie.”

Oor spirituele begeleiding sê hy voorts: “Ek dink spirituele begeleiding behoort ingebed te bly in kontemplatiewe spiritualiteit, dit wil sê die begeleiers en begeleides behoort ’n gewoonte van kontemplatiewe gebed in hulle lewe in te bou.”

Nicol is getroud met Joke, ’n mede-Affie, op wie hy reeds in matriek verlief geraak het en vir wie hy ál liewer raak. “Sy het ’n aktiewer lewenstyl as ek, maar ondersteun my deurgaans in my werk. Sy was een van ons sewe wat die agt kursusse in spirituele begeleiding aangebied het. Ons doen ook weekliks saam joga. Ons het drie getroude kinders en sewe kleinkinders. By die oudste, ’n dogter, leer ek baie oor mindfulness, en by die tweede, ’n seun, baie oor joga.” Nicol ry ook graag fiets en is lief vir stap, tuinmaak en die natuur.

Ten slotte ’n woord van Anthonissen: “Nadat ek in 1984 studenteleraar op Stellenbosch geword het, het ek en Willem mekaar jaarliks by die landswye studenteleraarskonferensie ontmoet waarna ons vriendskap oor die jare verinnig het. Saam met die meeste ander kollegas – sommige wat wel op daardie stadium polities van ons verskil het – het ek altyd groot respek en selfs bewondering vir Willem gehad. Hoewel iemand met baie talente en sterk intellektuele vermoëns, was Willem altyd ’n toonbeeld van nederige bedagsaamheid en sorg. Hoewel oënskynlik stiller en meer teruggetrokke, kon hy heerlik saam met sy kollegas tydens hulle jaarlikse samekomste kuier en het hy dikwels die groep vermaak met sy heerlike sin vir humor.

“Wanneer dit by ernstige sake kom, was Willem nooit huiwerig om sy eie siening helder, duidelik en sonder aggressie te stel nie. Trouens, sy kenmerkende laggie en glimlag was altyd deel van sy inset. Willem het die sonderlinge vermoë om, veral ook in sy skryfwerk, ingewikkelde sake of waarhede helder en altyd met ’n treffende metafoor of voorbeeld uit te spel. Min kan hom dít nadoen.”

  • Mariëtte Odendaal hanteer die kommunikasie van die Diensgroep vir Getuienisaksie van die Sinode van Wes-Kaapland.
Word 'n vriend van Kerkbode